1949 - in die middelpunt van
openbare belangstelling
Die "wonderdokter van Herford"
Die negejarige Dieter Hülsmann was reeds geruime tyd bedlêend. Hy het aan
progressiewe spierdistrofie gely en nie een van die dokters en professore wat
geraadpleeg is kon hom help nie. Nadat Bruno Groening hom oor die kind ontferm
het, kon hy weer loop. Ingenieur Hülsmann, oorweldig deur die skielike genesing
van sy seun, vra die gas om aan te bly. Hy wou nog ander siekes uitnooi wat deur
die wonderman gehelp moes word.
Bruno Groening neem die aanbod aan en van dag tot dag kom meer en meer
hulpsoekers. Meer en meer mense hoor van die wondergebeurtenisse rondom
Groening. Dit duur nie lank nie, of sy naam is op almal se lippe. Koerante berig
oor die "wonderdokter" en in die Britse sone word dit 'n daaglikse
besprekingspunt. Duisende stroom na die Wilhelmsplatz en die mensemassa pak die
huis toe.
Manfred Lütgenhorst van die "Münchner Merkur" skryf op 24 Junie
1949 onder andere:
"Toe ek die oggend om 10:30 in Herford aankom, staan daar voor
die tweeverdieping huis op die Wilhelmsplatz omtrent 'n duisend mense. Dit was
'n onbeskryflike beeld van ellende. Tallose verlamdes in rystoele, ander wat
deur hulle familie gedra word, blindes, doofstommes, moeders met geestelik en
fisies gestremde kinders, oumatjies en jongmans, almal drom saam en kreun.
Bykans honderd motors, vragmotors en busse was op die plein geparkeer, almal het
van heinde en verre gekom.
'Glo julle dat julle genees gaan word?' vra ek aan die siekes.
Hulle knik. 'Jy moes gister hier gewees het', antwoord een. 'Mnr Groening was
nie hier nie maar in Viersen in die Rynland, en hier voor die huis het vyf
verlamdes opgestaan en gesond huistoe gegaan. Afstandsgenesing - die huis het
hulle genees.' Die ander siekes bevestig dit.
Ek gaan verder deur die skare en skryf hulle wonderlike vertellings neer. Dit
alleen is genoeg om 'n boek vol te maak. Toe ek 'n sigaret aansteek, sê 'n
jongman langs my: 'Verkoop asseblief vir my een!' Hy dra 'n uniformjas en lyk
soos 'n teruggekeerde uit Rusland. Ek gee hom die sigaret. Hy steek dit aan en
sê: 'Sien jy, ek kan alles weer self doen.' Hy beweeg sy regterarms en vingers
en sy regterbeen. 'Is jy ook deur Groening genees?' vra ek. 'Ja, ek is in
Rusland aan die regterkant verlam. Mnr Groening het my aangekyk en nou is ek
weer volkome gesond, ek kan dit nog nie glo nie.' Vrolik swaai hy sy ledemate
rond.

Ek loop na 'n groep wat om 'n blonde vrou van ongeveer veertig jaar geskaar
is. 'Natuurlik', hoor ek die vrou sê, 'is ek ook deur mnr Groening genees.
Ek het enorme maagsere gehad, het al maerder geword en kon van die pyn nie
meer slaap nie. Ons was twaalf persone by Groening. [...] Hy het my aangekyk
en skielik was dit asof die maagsere soos klippe na die grond val.
Sedertdien het ek geen pyn meer nie, het begin om gewig aan te sit en die
X-strale wat ek laat neem het, wys onteenseglik dat die maagsere verdwyn
het. Ek het my beskikbaar gestel vir 'n mediese ondersoekkomitee. Ek kan
julle verseker dat hulle stomgeslaan was!' Die vrou gaan voort: 'Maar dis
nog niks. Die vorige week staan hier 'n blinde man voor die huis. Hy het 'n
paar dae en nagte aanmekaar gewag. Omdat ek dikwels hier verbykom, het dit
my opgeval. Ek het hom jammer gekry en hom uitgenooi vir ete. 'Nee', wys hy
dit van die hand, 'Ek mag die oomblik nie misloop wanneer mnr Groening hier
uitkom nie.' Toe bring ek vir hom broodrolletjies en sê vir hom dat ek sal
sorg dat hy na die stasie geneem word. 'Ek het niemand nodig nie want ek sal
alleen na die stasie kan stap.' En toe sien ek dit my eie oë. Mnr Groening
kom en die jongman skree 'Ek kan weer sien!' Werklikwaar, die sluier is van
sy oë gelig. Hy beskryf aan my die aktetas wat ek in die hand het. Hy sê:
'Daar ry 'n motor, en daar is die nommerplaat', en op sy eie kry hy die pad
na die stasie. Al die omstanders het van vreugde gehuil.'"
|

|
 |
Dit duur nie lank nie, of die owerheid - veral die
gesondheidsowerhede - begin hulle met die saak bemoei.
'n Ondersoekkommissie word opgestel en Bruno Groening word
verbied om genesing te doen.
 'n
Paar invloedryke dokters was sy verklaarde vyande. Hulle doen alles in hul
vermoë om sy werk in die wiele te ry en eis dat sy genesende vermoë aan
wetenskaplike toetsing onderwerp word.
Die werklike gesindheid wat agter die genesingsverbod geskuil het, word duidelik
uit die volgende uitsprake van die betrokke medici: "Groening kan bewys wat hy
wil, hy sal nie toegelaat word om genesing te doen nie." "Dit druis in teen die
professionaliteit van dokters, om hulle met Groening in te laat."
Aan die einde van Junie moes hy Herford finaal verlaat. Alle pogings om die
genesingsverbod opgehef te kry het skipbreuk gely
Die "fenomeen Groening" en die wetenskap
Ongeveer terselfdertyd begin mediese medewerkers van die tydskrif "Revue" om
Groening se genesingswelslae te ondersoek. Prof. dr. H. G. Fischer, sielkundige
en medikus van Marburg, reis met 'n aantal spesiale korrespondente na Herford.
Daar voer hy onderhoude met mense wat genees is en moes tot sy verrassing
vasstel dat Groening se "metode" inderdaad suksesvol was. Daarop besluit die
"Revue" om saam te werk om 'n wetenskaplike verklaring te probeer kry van die
"fenomeen Groening." In die universiteitskliniek te Heidelberg moes die
"geneesmetode" van die "wonderdokter" ondersoek word.
Bruno Groening gaan akkoord met die voorstelle van Fischer want hy word 'n
positiewe getuigskrif belowe as die ondersoeke goed afloop. Groening het gehoop
om hierdeur 'n manier te vind om sy werk weer vrylik te kan doen.
Op 27 Julie begin die ondersoeke. Die persone op wie hy sy vermoë moet bewys,
word gekies uit oor die 80 000 siekes wat smeekbriewe aan hom geskryf het.
Daarby kom nog 'n paar pasiënte van die Ludolf-Krehl kliniek in Heidelberg.
Hulle word almal sorgvuldig ondersoek voor die tyd en noukeurige diagnoses word
opgestel. Daarna gaan hulle na Groening wat sy "metode" op hulle moet toepas.
Daar was die hele tyd dokters teenwoordig. Hulle word getuies daarvan hoe
siektes gedeeltelik spontaan verdwyn. Dit word na die tyd deur ondersoeke in die
kliniek bevestig. Selfs ongeneesbare siektes soos die Bechterewse siekte word
genees.
In die getuigskrif wat in die "Revue" verskyn, verklaar Prof. dr. Fischer
uitdruklik dat Bruno Groening geen kwaksalwer is nie maar op 'n natuurlike
manier 'n begaafde sielkundige is. Daardeur probeer hy om die "fenomeen
Groening" vanuit sy sienswyse te verklaar sonder om billik te wees teenoor hom.
Die finale getuigskrif sou opgestel word nadat al die gebeurtenisse ondersoek
is. Bruno Groening is belowe dat hy sy genesende vermoë weer vrylik sou kon
toepas. Intussen maak die professore Fischer en Weizsäcker (onder wie se
beskerming die hele onderneming gestaan het) aan Bruno Groening die volgende
voorstel: Spesiale genesingsentra sou opgerig word waar hy saam met dokters moes
werk. Leiding en keuse van pasiënte sou hulle vir hulself egter voorbehou.
Hierop Bruno Groening se antwoord:
Die finansiële voorwaardes wat in hierdie verband deur Prof. F. aan my
gemaak is, was vir my onaanvaarbaar. Natuurlik is heelwat besprekings hieroor
gevoer, ook met mense wat die werk wou finansier. Ek kon my nie met die
voorstelle van Prof. F vereenselwig nie en het dit van die hand gewys omdat ek
- nie oor 'n enkele pennie geld beskik het nie en dus ook geen
finansiële verpligting op my kon neem wat ek nie sou kon nakom nie;
- nooit daaraan sou dink om 'n besigheid uit hierdie plan te maak nie.
EDit was dus alles vir my 'n onmoontlike versoek. Buitendien wou ek net
dit doen waartoe ek geroepe was: om hulpsoekers te help en my dus tot die
beskikking van dokters en psigoterapeute te stel maar nooit daaruit 'n besigheid
te maak nie."
Die weiering van Bruno Groening maak dat die professore belangstelling in hom
verloor. Die beloofde getuigskrif word nooit gelewer nie. In plaas daarvan om
dit vir hom moontlik te maak om sy werk vrylik voort te sit, word dit vir hom
nog moeiliker gemaak. Tydens die ondersoeke word begrippe soos "behandeling",
"pasiënt" ens. aan sy "geneesmetode" toegevoeg. Hierdeur was konflik met die wet
op alternatiewe geneespraktyk natuurlik 'n uitgemaakte saak.
Die Traberhof
Na afloop van die Heidelbergse ondersoeke gaan Bruno Groening in
Augustus 1949 na Suid-Duitsland. Hy wou ontkom aan die opskudding wat rondom sy
persoon geskep is en het homself teruggetrek na 'n privaat landgoed by
Rosenheim, naby München. Aanvanklik kon hy sy teenwoordigheid geheim hou. Nadat
die eerste koerante egter oor sy aankoms berig het, het 'n massa toestroming
gevolg.
Tot 30 000 mense het daagliks op die Traberhof by Rosenheim
toegesak. Die pers, radio en nuusfilms het daaroor berig. Selfs 'n film is
gemaak met die titel "Groening" wat die gebeurtenisse rondom hom gedokumenteer
het.
In 'n spesiale uitgawe in die tweede week van September berig
die "Zeitungsblitz":
"Intussen het meer as tienduisend mense versamel wat in bloedige hitte op die
groot oomblik wag dat Groening op die balkon sou verskyn, met die menigte praat
en sy genesende krag uitstraal. Dig opmekaar staan die mense saamgepak om die
volle werking van sy 'genesende strale' op te vang. Gou begin die reaksies by
die ernstigste siekes in hulle rystoele en drastoele te werk of by die
alleenstaandes op die rand van die skare.
Weer begin halfblindes te sien, weer staan mense op wat voorheen nie kon loop
nie, weer beweeg die verlamdes hulle stywe ledemate. Honderdes berig van
verergerde pyne in die aangetaste dele, van trekkings, steke en krieweling, van
'n onbeskryflike 'gevoel van ligtheid' of van hoofpyne wat skielik verdwyn."
 Nie
net by Traberhof het Bybelse tonele hulle afgespeel nie. Waar Groening ookal
verskyn het was hy omring van ontelbare siekes. Anita Höhne beskryf die toestand
rondom Groening in haar boek "Geloofsgenesers vandag":
"As Groening net maar sy koms aankondig, begin daar reeds pelgrimstogte. Tipiese
tonele wat deur die joernalis Rudolf Spitz opgeteken is by so'n besoek van
Groening in September 1949 aan München:
'Om 19:00 staan duisende in die Sonnenstrasse. Om 22:30 staan hulle nog daar. Ek
het in vyf jare van oorlog baie meegemaak, nooit was ek egter meer getref nie as
in die vier ure waarin ek regoor Bruno Groening gesit het en 'n ontsettende
parade van ellende en lyding ervaar het. Epileptici, blindes, en verlamdes op
krukke het om hom saamgedrom. Moeders het hulle verlamde kinders opgehou. Daar
was bewusteloses, 'n geroep het opgeklink, daar was desperate hulpgeroep,
smekings, wense, diep sugte.'
Siekes op draagbare, verlamdes en 'n groot mensemassa is waargeneem deur 'n
ander joernalis van München, dr. Kurt Trampler, ook by die Traberhof by
Rosenheim waar Bruno Groening destyds gewoon het. Trampler het as verslaggewer
van die 'Münchner Allgemeinen' gekom - 'n nugtere joernalis wat slegs weergegee
het wat hy self gesien en gehoor het:
'Van die balkon hoor ons 'n stem wat nie Groening s'n is nie, en haas ons na die
venster. Die polisiehoof van München, Pitzer, is besig om die versameldes toe te
spreek. Hy verklaar dat hy reeds jare aan heupjig gely het, wat nou in die
teenwoordigheid van Groening beter geword het. Pitzer is beslis nie iemand wat
homself aan hipersensitiewe verbeelding sal oorgee nie, maar wat hy self
ondervind het, daarvan kan hy getuig. Nou gee hy openlike erkenning aan Groening
en die CSU-afgevaardigde Hagen volg met 'n soortgelyke verklaring.'"
Ook die Beierse owerhede was Bruno Groening goedgesind. Die "Münchner Merkur"
berig op 7 September 1949 onder die opskrif "Welwillendheid teenoor Groening":
"Die ministerpresident Dr. Erhard het op Maandag by 'n perskonferensie verklaar
dat 'n mens die werking van so'n 'uitsonderlike verskynsel' soos Bruno Groening
nie as gevolg van 'n paar paragrawe op papier moet laat skipbreuk ly nie.
Volgens sy mening is daar geen groot probleme om Groening toe te laat om in
Beiere te werk nie.
Die ministerie van binnelandse sake in Beiere het by ons terperse gaan bekend
gemaak dat aanvanklike ondersoek van die aktiwiteite van Bruno Groening getoon
het dat dit as 'n vrye liefdestaak beskou kan word en dus nie toestemming vereis
onder die wet op alternatiewe geneespraktyk nie.
By die Traberhof het 'n groot geskarrel om Groening ontstaan. Daar was
besigheidsmense wat uit sy vermoëns wou geldmaak. Hulle het sy naam en aansien
skade aangedoen en 'n distansiëring van die owerhede veroorsaak.
Toe die toestande onhoudbaar word, trek Groening homself terug na die berge van
Beiere. Hy wou 'n paar aanbiedings oor die oprigting van genesingsentra oorweeg.
Dit was sy doelstelling om inrigtings daar te stel waar hulpsoekers op geordende
wyse genesing kon ontvang. Dokters sou voor- en na-ondersoeke doen volgens die
Heidelbergse voorbeeld en die genesings dokumenteer.
|