Die laaste fases
Die laaste fases
 Op
4 Maart 1955 het die staatsaanklaer 'n nuwe klag teen Bruno Groening gelê. Weer
is hy daarvan beskuldig dat hy die wet op alternatiewe genesing verbreek het. 'n
Verdere aanklag was dat hy deur nalatigheid die dood van iemand veroorsaak het.
Nadat die dagvaarding op hom bestel is, het hy hom tot sy vriende gewend:
"My liewe vriende,
In hierdie dae het die hele pers en die radio min of meer bekendgemaak dat
die staatsaanklagkantoor II van München 'n saak teen my gemaak het as sou ek
weens nalatigheid die dood van iemand veroorsaak het. Ek sou 'n sewentienjarige
meisie wat aan tering gely het teen einde 1949 genesing belowe het en haar
verhinder het om na 'n sanatorium te gaan en 'n dokter te gaan sien. Ek is glo
skuldig aan die dood van hierdie meisie.
Wie met helder verstand hierdie verklarings gelees het of gehoor het, sou
herken het wat daarmee bedoel word: Om verwarring onder my vriende te saai en
alle hulpsoekendes daarvan te weerhou om enigsins nader aan die strewe en kennis
te kom wat ek verkondig het. Met alle middele word probeer om myself en die
Groening vereniging sowel as julle aktiwiteite aan bande te lê.
Vanselfsprekend is dinge anders as wat hier voorgestel word! Ek hoef geen
verduideliking aan my vriende te gee nie, hulle weet dat ek nooit enige
'genesingsbelofte' maak nie en nooit iemand afraai om doktersbehandeling te
ondergaan nie.
Ek is in 1952 vrygespreek. Is dit nie eienaardig dat die "geval Kuhfuss"
wat reeds aan die einde 1949, begin 1950 voorgekom het, destyds nie in die saak
van 1951/1952 voorgelê is nie, al was alle dokumente daarvoor reeds voorberei en
ter tafel gelê!
Is dit nie opvallend dat die nuwe aanklagte teen my presies saamval met
die tydstip waarop dit bekend gemaak is dat op 22 November 1953 in Murnau die
Groening vereniging gestig is nie! Sedert Januarie 1954 is naamlik talle
gemeenskapsleiers en vriende sowel as lede van die vereniging deur die polisie
ondervra en dopgehou."
Die voorbereiding van die saak het oor twee jaar gestrek. Bruno Groening se
verdediging is heelwat in die wiele gery. Omtrent alle getuies wat vir hom kon
getuig is verbied, terwyl getuies vir die staat almal toegelaat is. Onder hulle
was ook twee voormalige medewerkers van Groening: Eugen Enderlin en Otto
Meckelburg. In die besonder Meckelburg - in die eerste
saak nog mede-aangeklaagde - het nou skerp teen
Groening gedraai. Hy het alles in sy vermoë gedoen om hom skade aan te doen.

In die aanklag van dood deur nalatigheid het hy 'n beduidende rol gespeel.
Dit was 'n geval wat afgespeel het in die tyd toe Meckelburg as "bestuurder" vir
Groening opgetree het.
In November 1949 was die bankamptenaar Emil Kuhfuss met sy sewentienjarige
dogter Ruth wat aan tuberkulose in albei longe gely het, by een van Bruno
Groening se voordragte.
Groening het dadelik besef dat niks meer vir die meisie gedoen kon word nie
en dit ook aan 'n dokter wat teenwoordig was, genoem. Meckelburg het egter
heftig aangedring dat Bruno Groening die geval moes behandel. Na die voordrag
was daar gevolglik 'n persoonlike ontmoeting tussen Bruno Groening en Ruth
Kuhfuss. Groening het die sieke moed ingepraat en die vader versoek om 'n
ondersoek deur 'n spesialis te laat doen na nege dae. Hy wou daarmee
bewerkstellig dat die meisie weer onder mediese toesig kon kom aangesien sy niks
meer van dokters wou weet nie. Die vader het verseker dat hy dit sou doen.
Korrespondensie wat daarna plaasgevind het is deur Meckelburg gehanteer en
het nooit by Bruno Groening uitgekom nie. Eers in Mei 1950 het hy weer van Ruth
Kuhfuss gehoor. Die vader het intussen heelwat versoekbriewe om hulp aan
Groening gerig en om 'n besoek gesmeek. Meckelburg het die briewe egter nooit
aangestuur nie maar op eie houtjie en sonder Groening se medewete, 'n afspraak
met Kuhfuss gemaak. Eers kort voor die afspraak het hy vir Groening ingelig en
hom gedwing om saam te kom.
 Later
het Meckelburg beweer dat Bruno Groening aan die meisie 'n genesingsbelofte
gemaak het. In der waarheid was dit Meckelburg self wat die vader verseker het
dat hy Groening so ver sou kry om sy dogter te genees. Meckelburg het in die
bankamptenaar 'n goeie geldbron gesien wat hy kon melk, dog daarvoor het hy
Groening nodig gehad. Kort na hierdie besoek het Groening hom van Meckelburg
gedistansieer.
'n Erger aanklag wat teen Bruno Groening gemaak is, was dat hy Ruth Kuhfuss
verbied het om doktersbehandeling te ontvang. Daarteenoor staan egter die feit
- en dit is deur getuies bevestig -
dat hy die meisie reeds by die eerste ontmoeting na 'n dokter gestuur het. Ook
in 'n radiopraatjie in die herfs van 1949 het hy die mense opgeroep om "hulle
tot die einde aan 'n na-ondersoek deur 'n dokter te onderwerp". Hy het
hulpsoekers steeds aangeraai om vertroue in hulle dokters te hê.
Ruth Kuhfuss, wat reeds 'n paar pynlike en onsuksesvolle behandelings agter
die rug gehad het, het steeds geweier om verdere behandeling te ondergaan. Op 30
Desember 1950 sterf sy aan die gevolge van haar siekte.
Uit 'n mediese oogpunt het dr. med Otto Freihofer in 'n verklaring as
deskundige getuie die geval Ruth Kuhfuss toegelig:
"By nugtere ondersoek moet elke leek tot die oortuiging kom dat 'n genesing
in die lig van die 'baie ernstige toestand' wat volgens doktersbevinding
'lewensbedreigend' was, menslik gesien buite die kwessie was. Dit is bevestig
deur die gesondheidsowerhede van Säckingen. Net so sou elke eerlike regdenkende
dokter in besit van die nuutste medisyne, en nie te selfvoldaan om te dink dat
hy die kragte van die natuur kan ignoreer nie, met die deskundige getuienis van
Prof Lydtin van München moes saamstem dat 'daar nie 'n hoë waarskynlikheid vir
genesing was nie.'
Dit is in my opinie meer as wonderlik dat die pasiënt hoegenaamd nog tot 30
Desember 1950 aan die lewe kon bly. Die invloed van Groening kon dus tog 'n mate
van lewensverlenging gehad het
Samevattend wil ek dus my getuienis daarmee afsluit dat die idees dat:
- 'daar 'n vooruitsig van genesing was',
- 'of 'dat die lewenstyd van die pasiënt Kuhfuss nog verleng sou kon word as
mnr Groening nie in die nabyheid was nie' nòg met sekerheid voorspelbaar, nòg
geregverdig is."
Die voormalige skoolhoof Josef Hohmann het in 1956 op die teenstrydigheid van
die aanklag teen Bruno Groening aangaande dood deur nalatigheid gewys:
"Die waarheid kom die duidelikste na vore as mens die geval sou omkeer.
Veronderstel die volgende by die geval Kuhfuss. Gestel die TB-sieke meisie
het in die beginstadium van die siekte eerste na mnr Groening gekom en hy het 1½
jaar lank hierdie TB sonder sukses behandel. Ons noem dit fase A.
Daarna gaan die meisie as doodsieke na professore en dokters en sterf tydens
hulle behandeling. Dit noem ons fase B.
Die hofsaak begin en die dokters tree as deskundiges op. Hulle moet vasstel
wie die onskuldige is. Ek sal 'n groot weddenskap daarop neem dat alle dokters
en professore, alle mediese fakulteite van die hele wêreld hulle agter fase B
sou skaar met die opmerking: hier vier die onskuld hoogty, want hoe sou ons kon
dink om verantwoordelik daarvoor gehou te word vir die verbrousel veroorsaak
deur iemand anders oor 'n behandelingstyd van 1½ jaar? Dit sou tog belaglik en
absurd wees!
En juis agter fase B staan die aanklag teen Groening. Gevolglik het hy die
hele moderne mediese wetenskap, miskien 'n hele miljoen wetenskaplikes agter hom
om sy onskuld te demonstreer."
Einde Julie 1957 het die saak toe voorgekom in die Münchense distrikshof.
Onder die aanklag van dood deur nalatigheid is Bruno Groening vrygespreek. Onder
die aanklag van verbreking van die wet op alternatiewe genesing is 'n boete van
2000 DM opgelê.
Alhoewel die uitspraak by eerste oogopslag positief voorkom, was dit vir
Groening onaanvaarbaar. Dit het effektief neergekom op 'n finale verbod op sy
werk. Deur 'n oordeelsfout van sy prokureur, wat die vonnis heelwat meer
positief beskou het as Groening self, appelleer nie hy nie, maar wel die
staatsaanklaer. Die tweede saak het in die middel van 1958 weer in München
plaasgevind.
Skeiding met die Groening vereniging
In die tussentyd was daar in Oktober 1957 'n konfrontasie tussen Bruno
Groening en die verenigingsbestuur. Deur kleingeestige burokrasie het die
vereniging Bruno Groening heelwat skade berokken.
Oorsaak van die dispuut was die hofuitspraak waarvolgens Bruno Groening binne
'n kort periode 2000 DM boete moes betaal. Omdat hy nooit geld vir sy werk gevra
het nie en dus geen noemenswaardige fondse tot sy beskikking gehad het nie, het
die verenigingsbestuur reeds voor die begin van die hofsaak besluit om alle
kostes te dra. Of die boete egter daarby ingesluit sou wees, was binne die
verenigingsbestuur 'n twispunt. Deur middel van 'n lang uitgerekte burokratiese
proses wou hulle vasstel of die vereniging wel aanspreeklik sou wees vir die
boete van 2000DM. Eers daarna sou hulle hulle bekommer oor waar die geld vandaan
moes kom. Hieruit is dit duidelik dat die geld, indien hoegenaamd, Bruno
Groening te laat sou bereik. Die vereniging het dus stilswyend toegesien, sonder
om enige aksie te neem, dat Bruno Groening tronk toe gestuur is omdat hy nie die
boete kon betaal nie.
In sy omvattende geskrif van 62 bladsye oor die "Opsomming van die doenigheid
van die vereniging" het hy alle punte aangespreek waarin die vereniging hom
skade berokken het. Samevattend verklaar hy:

"As ek vandag 'n vergelyking maak tussen my vroeëre omgewing (Die
profytmakers Meckelburg, Enderlin, Schmidt en Hülsmann) en vandag se omgewing
(die verenigingsbestuurslede) kom ek tot dieselfde gevolgtrekking: Vandag is die
eindresultaat dieselfde as destyds. Vandag, deur die werk van diegene wat
veronderstel is om my beste en intiemste vriende te wees, is niks anders bereik
as destyds nie. Destyds is ek bedrieg deur die gemene dade van daardie werkers.
Vandag het vriende my verraai deurdat ek geen hulp ontvang het nie, deurdat ek
die gemeenskappe nie kon opsoek nie omdat ek sonder vervoer was, deurdat niemand
enigiets gedoen het teen die negatiewe pers aksie nie, deurdat net verwarring
geskep is, deurdat niemand daar was vir my toe ek mense nodig gehad het nie.
Mense wat deur hulle kennis en posisie in die lewe my sou kon en moes
ondersteun, sodat bereik kon word waarvoor ek op hierdie aarde is.
Nie een van hierdie vriende het moeite gedoen om ter wille van my te veg
vir my vryheid nie. Niemand het die moed gehad om werklik vir my in die bresse
te tree nie. Niks het gebeur nie. Die een besluit na die ander is deur kleinlike
burokrasie geneem. Niemand het werklik namens my opgetree nie, niemand het
homself ten volle aangebied om my vir eens en altyd te bevry van die stryd teen
die hofsake, teen die pers, vir 'n assistent, vir die kar wat stukkend was, teen
die smeerveldtog en laster ens. ens. Daar was niemand wat vir my kom optree
sodat ek dit kon doen waarvoor ek op die aarde gekom het nie, naamlik om die
krag van die lewe aan die mense oor te dra en hulle te lei in die geloof.
Niemand het daaraan gedink dat ek daarvoor rus nodig gehad het en nie
altyd deur uiterlike wêreldlike invloede onderbreek moes word nie, dat ek 'n
werklike skans nodig gehad het sodat ek my gawe ongestoord kon laat werk.
Niemand nie, ook nie onder my vriende, of diegene wat wou voorgee dat hulle my
vriende wou wees nie. En dit is vir my mees teleurstellende en beskamende:
- Die profytmakers wat voordeel wou trek, is deur almal as slegte mense
erken.
- Die vriende van die Groening vereniging is te halfhartig, te ongeërg,
te gemaklik, ek wil nie sê moedswillig nie.
Maar die resultaat is dieselfde:
Ek is nie vry nie. Baie vriende van die verenigingsbestuur het nie hulle
belofte gehou nie. Ek is deur alle maatreëls slegs aan bande gelê."
Weisser het uitgetree en die Groening vereniging, wat nooit daarin kon slaag
om as amptelike vereniging geregistreer te word nie, is kort daarna ontbind. In
die plek daarvan het die "Vereniging vir die bevordering van geestelike en
natuurlike lewensbeginsels" gekom. Dit is gestig in 1958 en die leiers was Erich
Pelz in Duitsland en Alexander Loy in Oostenryk. Maar ook hierdie vereniging,
die laaste wat nog gedurende Bruno Groening se lewe gestig is, kon nie lewer wat
daarvan verwag is nie. Bruno Groening se naam het nie eers in die konstitusie
daarvan voorgekom nie.
Sy woord verdryf die siekte
Tydens hierdie dispute en stryd het die werking van Bruno
Groening verder gegaan. So berig Dr Horst Mann o.a. in 1957 in 'n artikel in
"Neuen Blatt" onder die titel "Sy woord verdryf die siekte":
"Die volgende oggend ry ek van Hamelin na Springe, 'n klein
dorpie op die walle van die Deister rivier. Ook hier is daar reeds 'n Groening
groep gestig. Die oorsaak daarvoor was die genesing van hele aantal mense. Ook
hier het ek ervaar wat ek reeds voorheen in verskeie plekke in
Schleswig-Holstein gesien het, soos Augsburg, Hamelin, Wien, Plochingen en
andere: Mense het opgestaan en my van hulle siektes vertel. Hulle noem die
dokters wat hulle behandel het. Hulle vertel van hulle genesing te danke aan
Groening. En altyd was hulle bereid om dit onder eed te bevestig.
'Reeds as baba was beide my heupgewrigte uit potjie', vertel die
vyftigjargie Julie Prohnert uit Hannover. 'Later kon ek slegs met krukke loop.
Die dokter kon my lyding slegs verlig. Toe ek 'n voordrag van mnr Groening hoor,
ondervind ek 'n sterk reaksie. My rug, wat reeds heeltemal kromgetrek was, het
weer reguit geword. Ek kon weer loop. Ek het geen terugslae meer gehad nie...'
'Ek het gewrigsrumatiek gehad en was voortdurend gepla met
uitslag en absesse. Mnr Groening het my daarvan bevry,' sê Wilhelm Gabbert uit
Hamelin.
'My lyding aan gal kon slegs deur morfien draaglik gemaak word."
berig Kurt Severit uit Evestorf. 'Te danke aan Bruno Groening is ek van hierdie
siekte bevry.'
'Ek het hoë bloedsuiker gehad,' berig Robert Thies uit Springe.
'Nog meer bedreigend was hartversaking. Beide kwale is vandag geen kwelling vir
my meer nie. Daarvoor het ek Bruno Groening om te bedank.'
Hierdie lys kan nog verder uitgebrei word.
Dit was mense van alle ouderdomme wat my vertel het, mans, vrouens en kinders.
Baie siektes is genoem, beginnende by hoofpyn, deur senuweeontsteking, heupjig,
nier en galblaas probleme, tot hartversteurings en verlamming.
Maar daar was nog iets anders wat my diep
getref het. Vrymoediglik vertel heelwat van die toehoorders dat hulle deur
Groening 'n innerlike verandering ondergaan het. Die najaag van sukses en 'n
egoïstiese houding het plek gemaak vir innerlike rus, aanvaarding en
gemeenskapdienende denke.
By al hierdie gesprekke met mense wat deur
Bruno Groening genees, het een vraag al sterker na vore getree. Was die genesing
by enigiemand of meer nog, by enige siekte moontlik? Waar was die grense van die
krag wat van Groening uitgegaan het? Was daar nie ook gevare daaraan verbonde
nie?
By my laaste besoek stel ek hierdie vraag aan
hom. 'Ek ka, en wil geen mens dwing nie,'
antwoord hy. 'As iemand hom afsluit en nie die bereidwilligheid in hom
omdra om die krag te laat werk nie, dan ontbreek die bereidheid ook by my om in
te gryp. Ek vra hierdie mense slegs om die grendel van die bose te ontsluit, wat
die heil verhinder.'
Ek het nog 'n vraag gehad: 'Elke siekte is op
'n ander manier gevaarlik', sê ek. 'Veronderstel 'n swaar sieke, deur 'n aantal
dokters reeds opgegee, ontbied u deur middel van 'n dokter wat nog nie opgegee
het nie. Sou u kon help?'
'Ja', sê Groening. Hy sê dit sonder
huiwering. 'As 'n sieke daaraan glo en sy dokter vertrou, sal sukses
nie uitbly nie. Die gesamentlike vertroue sal in die sieke ondenkbare kragte
opwek. Dikwels kom die sukses juis die vinnigste daar waar die pasiënt uit
vertwyfeling na die laaste grashalm gryp.'"
Voortsetting van die hofsaak
By die appèlsaak van Januarie 1959 was dit tot Bruno Groening se nadeel dat
nie hy nie, maar die staatsaanklaer die appèlsaak aanhangig gemaak het. Dit was
egter nie net hierdie nalatigheid van sy prokureur wat hom skade berokken het
nie maar ook lg. se vertraging met die vrystelling van die dossier aan sy nuwe
regsverteenwoordiger wat voorbereiding van die saak belemmer het.
'n Verdere nadeel was die veel meer sekere optrede van teengetuies, in
teenstelling met die eerste verhoor. Hulle was skynbaar verenig oor die punt van
"Verbod van die dokter."
Hierdie keer was die vonnis:
Agt maande gevangenis weens agtelosige dood en 5000 DM boete weens verbreking
van die wet op alternatiewe genesing. Die vonnis is opgeskort.
Barones Anny Ebner von Eschenbach wat die eerste sowel as die tweede verhoor
meegemaak het, het die vonnis beskryf as 'n skande vir Duitsland.
Bruno Groening het verklaar dat hy bestraf word omdat hy goed gedoen het. Hy
het dit betreur dat tydens die hele verhoor niemand daarin geïnteresseerd was
oor hoe 'n genesing plaasvind nie, nie eers sy eie prokureurs nie. As 'n mens op
hierdie vraag ingegaan het, sou mens sien dat sy werking niks in gemeen gehad
het met mediese behandeling nie. Die saak sou teruggetrek moes word. Dog die
antwoord op hierdie vraag het niemand by die gereg geïnteresseer nie. Daar was
'n vooropgestelde opinie omtrent Groening en niemand was bereid om daarvan af te
sien nie.
og ook dit was nie die einde van die saak nie. Hierdie keer het Bruno
Groening geappelleer. Die appêlsaak sou op die 22 Januarie 1959 in Hooggeregshof
van München verhoor word. In die tussentyd het Bruno Groening se lewe egter 'n
tragiese wending geneem.
Die pad loop in Parys ten einde
 In
die laatherfs van 1958 reis hy met sy tweede vrou Josette, met wie hy in Mei
1955 getroud is, na Parys en laat hom ondersoek deur 'n bevriende
kankerspesialis dr Pierre Grobon. Na vele X-straal opnames was die uitslag
maagkanker in 'n gevorderde stadium. Dr. Grobon wou dadelik opereer maar Bruno
Groening het dit van die hand gewys.
Hy reis terug na Duitsland en berei hom voor vir Kersfeesviering met die
groepe. Op 4 Desember maak hy 'n bandopname wat by al die Kersfeesvieringe
gespeel moes word. Daarna reis hy met sy vrou opnuut na Parys. Dr. Grobon het
intussen die hoogaangeskrewe kankerchirurg dr. Bellanger ingelig. In sy kliniek,
nie ver van Montmartre nie, is 'n operasie gedoen op 8 Desember. Die resultaat
was vir die dokters skokkend: dit was nog veel erger as wat die X-strale hulle
laat vermoed het - nie meer opereerbaar nie. Die wond is net so weer toegewerk.
Josette Groening het daaroor geskryf:
"Hulle kon nie verstaan dat Bruno Groening se uiterlike voorkoms so min van
sy vreeslike innerlike lyding kon verberg nie, dat hy nog normaal kon asemhaal,
dat uitskeiding nog in die laaste weke sonder probleme kon funksioneer, dat sy
bloedtoestand uitstekend was. In hierdie gevorderde stadium is daar gewoonlik
gereelde braking by die geringste voedselinname, en die swaar beproefde pasiënt
moet stadigaan verhonger. By Bruno was dit nie die geval nie."

Tot die verbasing van sy dokters herstel hy vinnig en reis terug
na Duitsland waar hy Kersfees deurbring.
Middel Januarie 1959 vergader hy drie dae lank met die leiers
van die nuwe vereniging en bepaal hoe die werk voortgesit moes word. Hulle het
nie vermoed dat dit die laaste samekoms met Bruno Groening sou wees nie.
Op 21 Januarie vlieg hy weer terug na Parys. Weens verstopping
van die dikderm was 'n operasie onvermydelik. Op 22 Januarie om 9:00 in die
oggend - op dieselfde oomblik toe in München die appèlsaak begin het
- word Bruno Groening opnuut geopereer. Hy moes dit
ondergaan wat hy talle ander mense gespaar het, hy kon en durf homself nie help
nie.
Terwyl hy daardie oggend onder narkose was, het daar skielik 'n
swaar donderstorm oor Parys losgebars. Sy vrou berig daaroor:
"Die volgende natuurverskynsel was ook merkwaardig: Op 22
Januarie 1959 terwyl my man onder narkose was, het 'n skielike storm met blits
en donderweer die helder dag verdonker. Dit het so donker geword dat 'n mens
helder oordag die ligte moes aanskakel. Die verpleegsters het hulle verbasing
uitgespreek oor die swaar weer.
In die dae wat sou volg op die operasie was Bruno se
temperatuur, sy bloeddruk en polsslag heeltemal normaal. Hy het selfs tweemaal
opgestaan en in 'n stoel gesit."
Op die 25ste verval hy in 'n koma en op die volgende dag, 26
Januarie 1959 sterf Bruno Groening in die Henner kliniek aan kanker, soos deur
die dokter op die doodsertifikaat aangedui.
Was dit werklik kanker? Na die tweede operasie het dr. Bellanger
gesê:
"Die vernietiging in Bruno Groening se
liggaam is vreeslik, daar is totale inwendige verbranding. Hoe hy so lank en
sonder om van die vreeslike pyn te beswyk, nog aan die lewe kon bly, is vir my
'n raaisel."
Bruno Groening het reeds 'n jaar van te vore gesê:
"As die werking my verbied word, sal ek van binne verbrand."
Hoe Bruno Groening die kruis van hierdie bittere stryd gedra
het, getuig 'n brief wat Dr. Grobon op 26 Februarie 1959 aan sy weduwee skryf:
"Hierdie [behandeling van Bruno Groening deur die dokters] was
net natuurlik, en ek kan sê, dit het sterk ondersteuning gekry deur die moed en
wilskrag van die besondere persoon Bruno Groening .[...] Hy was op die
Christusweg."
In Desember 1974 het dr. Bellanger sy bewondering vir Bruno
Groening nogmaals in 'n brief uitgedruk:
"Bruno Groening was 'n man met 'n hart, 'n waardevolle mens, wat
homself kon laat geld en sy waardigheid in die aangesig van lyding en die dood
dwing vandag nog bewondering af."
Die liggaam van Bruno Groening is in 'n krematorium in Parys
veras en die as in 'n kruik ter ruste gelê in die boskerkhof van Dillenburg.
Weens oorlye van die aangeklaagde, is die hofsaak ter syde
gestel en 'n finale oordeel is nooit gelewer nie.
Die "Wonderdokter van Herford" wat duisende mense genees het,
sterf eensaam en verlate in 'n agterstraatjie van Parys. Hoekom moes dit gebeur?
Hoekom moes hy so 'n bittere lyding dra? Hoekom kon hy homself nie help nie?
 In
haar boek "Ondervinding van genesing, dit is die waarheid" skryf Grete Häusler:
"Bruno Groening het in sy kort lewe op aarde baie goeie verrig. Die gawe van
hulp en genesing is hom reeds van geboorte af geskenk. Orals waar hy gekom het,
het wonderlike dinge gebeur wat nie met die menslike verstand te verklaar is
nie. In 1949 het hy in die openbare oog gekom. Drie maande na die groot
genesings in Herford en nadat hy in Duitsland sowel as buitelands op almal se
lippe was, is hy verbied om genesing te doen. Hy is vervolg, belaster en
aangekla en die mense wou hom straf en veroordeel. Waarom? Aan wie het hy kwaad
gedoen? Aan niemand nie, maar aan duisende het hy meer goed gedoen as wat
enigiemand anders ooit kon doen. As onskuldige wou die mense hom straf en hom
keer om dit te doen waartoe God hom geroep het - om
die mense te help!
In bitterheid moes hy hierdie kwaadwilligheid verdra in die kankerkliniek in die
rue Henner in Parys! Onder bittere pyn het hy van binne af deur die heilstroom
verbrand wat hy nie meer mog uitstuur nie. Die menslike wet wou hom dit verbied
in Duitsland. Onder alle leuens en laster het hy as aangeklaagde daar gestaan
soos 'n misdadiger!
Stil en alleen, geen vriend het daarvan geweet nie, het hy die leed van die
mensheid gedra. Dit was nie tevergeefs nie. Dit moes so gebeur, anders was dit
nie moontlik dat hy die mensheid kon help nie."
In haar boek "Ek lewe, sodat die mensheid kan verder leef" skryf sy:
"Ons moet versigtig wees om die woord 'slagoffer' te gebruik. Maar hier in Parys
wanneer Bruno Groening sterf, is hierdie woord in al sy ernstigheid, die
waarheid."
Slegs só was dit moontlik dat sy woord in vervulling kon gaan, soos vandag
gestaaf word deur ontelbare suksesberigte:
"Wanneer ek nie meer as mens op hierdie aarde is nie, d.w.s. wanneer ek my
menslike liggaam verlaat het, dan sal die mensdom sover wees dat elkeen die hulp
en genesing kan ervaar."
|