Bruno GroeningBruno Groening (1906-1959)

Bruno Groening - 'n buitengewone mens

In 1949 het die naam van Bruno Groening oornag wydbekend geword in Duitsland. Berigte het verskyn in die pers, op radio en op nuusfilms. Maande lank het die gebeure rondom  die "wonderdoktor" soos hy spoedig bekend sou word, die hele land in rep en roer. 'n Film is oor hom gemaak, wetenskaplike ondersoekkomitees het bymekaargekom en regeringgesag op die hoogste vlak het by die geval Bruno Groening betrokke geraak. Die welsynsminister van Noord-Ryn-Wesfalië het hom laat vervolg weens oortredings van die wet op natuurgenesers, terwyl die eerste minister van Beiere daarteenoor verklaar het dat so'n besondere verskynsel nie veroordeel moet word weens 'n paar paragrawe op papier nie. Die Beierse ministerie van binnelandse sake het sy werk beskryf as 'n "kostelose liefdestaak."

Op alle vlakke van die samelewing is daar heftig oor die geval Bruno Groening gediskuteer. Die emosies het hoog geloop. Geestelikes, dokters, joernaliste, regslui, politici en sielkundiges: almal het Bruno Groening bespreek. Vir party was sy wondergenesings 'n genade van bo, vir ander weer kwaksalwery. Dog die realiteit van sy genesings is deur mediese ondersoeke bevestig.

Bruno Groening was 'n eenvoudige arbeider wat in 1906 in Danzig gebore is en na die oorlog as vlugteling na Wes-Duitsland geëmigreer het. Hy het verskeie betrekkings gehad, was skrynwerker, fabrieks- en hawe-arbeider, poskantoorwerker en elektrisiën. Skielik was hy die middelpunt van openbare belangstelling. Die nuus van sy wonder-genesings het oor die hele wêreld versprei. Siek mense sowel as bedelbriewe en aanbiedings het van oraloor ingestroom. Tienduisende soekers na genesing het pelgrimstogte na sy genesingsoord aangepak. 'n Ommekeer in die geneeskunde was op hande.

Maar daar was ook teenkanting. Invloedryke dokters, kerk amptenare, regslui en voormalige kollegas het hulle uiterste bes gedoen om hom te kortwiek. Hy is verbied om genesings te doen en hofsake is aanhangig gemaak. Alle pogings om sy werk in die bestaande sosiale struktuur op te neem, het skipbreuk gely. Enersyds was daar weerstand van die outoriteite, andersyds onvermoë of gierigheid van sy medewerkers. Met sy dood in Parys in 1959 was die laaste hofsaak nog in volle swang. Die verrigtinge is gestaak en 'n finale uitspraak is nooit gelewer nie. Vele vrae bly egter onbeantwoord.