Suksesberig

Genesing van jarelange verlamming aan die linkerkant na beroerte[1]

Anna K. (64) uit W.:

Na 'n beroerte aanval op 44-jarige leeftyd op 30 Augustus 1976 was my linkerkant verlam. Ek was ses weke lank in die universiteitskliniek. Daarna is ek na 'n ander hospitaal waar ek nog ses weke moes bly. Ek het infusies en massering ontvang met terapeutiese gimnastiek. My linkerarm en linkerbeen het nogtans verlam gebly soos vantevore. Die dokter het my daarop gewys dat ek moes leer om voortaan met hierdie verlamming saam te leef. Na 'n verblyf van drie maande in die hospitaal kom ek toe tuis. My man moes my volledige versorg: was, hare kam, na die toilet sleep, in die bed sit. Bowendien moes hy die hele huishouding oorneem omdat ek tot niks meer in staat was nie. Ek kon darem nog aan tafel eet met my gesonde regterarm. Ek het gereeld massering en elektroterapie ontvang wat ten minste daartoe gelei het dat ek twee tone kon beweeg. Om self op te staan en te loop was ondenkbaar.

In die lente van 1977 was ek ten minste sover dat ek met twee krukke alleen in die huis kon rondbeweeg. Daarby het ek die verlamde been agternagesleep omdat ek immers slegs op die gesonde een kon loop. In 1978 was my toestand so ver verbeter dat ek kleinighede kon kook. Ek kon met my linkerhand weliswaar 'n pan vashou maar dit het dikwels gebeur dat die hand skielik 'n kramp kry, die pan vashou en van die stoof af trek, waarmee ek my dan gebrand het. Vir verdere huiswerk kon ek slegs sittend stryk of groente skoonmaak, vir die res moes my man sorg. Met die massering het ek opgehou omdat dit geen genesing gebring het nie.

In 1981 kry ek vir die verlamde been 'n plastiek spalk van die knie tot by die bal van die voet omdat die voet altyd na links skeefgedraai het weens die verlamming, ondanks die gebruik van krukke. Vandat ek die spalk gekry het, het ek nog net die regterkruk gebruik. Met die loop het dit al beter gegaan. Ek kon trappe klim met die slepende been. Om buitekant die huis of langer stukke te loop was egter nie moontlik nie.

My man moes verder steeds vir die huishouding sorg. Die verlammingstoestand het vir die volgende agt jaar onveranderd gebly - daar was nóg verslegting nóg verbetering. Na die beroerte van 1976 het ek langsamerhand aan depressie begin ly. Ek kon niks sinvols meer doen nie. Om sneeuvlokkies te tel, na voëls te kyk en TV te kyk was my enigste aktiwiteite van die dag. Selfs my kleinkinders kon my nie meer opbeur nie.

Sedert 1985 het ek nog aan slaaploosheid ook gely. Ek kon nie meer deur 'n nag slaap nie. Soms het ek lank voor die TV gesit sodat die slaaplose nag nie so lank moes voel nie. Ek wou nie slaappille neem nie. Loxomotil tablette is voorgeskryf teen depressie, wat ek egter net drie maal geneem het aangesien ek baie bang is vir verslawing.

Aan die begin van Oktober 1989 was ek geestelik wanhopig en het gevoel ek is aan die einde van my kragte. Ek het gedink ek is 'n nuttelose wese en wou my eie lewe neem. Ek het reeds die pille reggesit toe ek skielik die idee kry om eers die posbus leeg te maak. Daar vind ek o.a. 'n tydskrif, "Die Zwei" wat ek in die kombuis vinnig deurblaai en op 'n lang artikel oor Bruno Groening en geestelike genesing afkom. Onmiddellik skakel ek toe mev Häusler, wie se nommer as kontak moontlikheid gegee word en sy gee my hoop dat ek deur Bruno Groening hulp kon kry. Na die telefoongesprek het dit beter met my gegaan en ek het in spanning en hoop gewag op die inleiding tot die leer van Bruno Groening.

Op 11 Oktober 1989 word ek toe ingelei in die leer van Bruno Groening.

Reeds tydens die inleiding kon ek die Heilstrom* voel: my liggaam het warm geword en ek het 'n sterk hoofpyn gehad aan die regterkant, dus presies op die plek waar die bloeding 13 jaar vantevore was. Na die inleiding is die hoofpyn weg, en ek het ligter as vantevore gevoel. Daagliks om 9:00 en 21:00 stel ek myself in en beleef elke keer 'n aangename warm gevoel.

Op 19 Oktober 1989, agt dae na die inleiding, kon ek my genesing belewe: ek lê op die kombuisbank vir 'n middagslapie toe ek skielik wakkerskrik met die gevoel dat ek kan loop. Daarop staan ek op en stap deur die kombuis oor die trappies na die tuin toe en stap daar rond, heeltemal sonder kruk, kierie of spalk. My linkervoet kon ek goed neersit sonder om te swik, die been kon ek willekeurig beweeg!

Ek kon dit skaars glo! Die verlamming in die drie tone was ook weg! Ek was verheug! Toe my man by die huis kom, was hy ook aangenaam verras maar twyfelagtig of die genesing sou hou. Hierdie twyfelgedagtes het ek egter heeltemal geïgnoreer.

Op 23 Oktober 1989 is ek vir die eerste keer in dertien jaar weer alleen stad toe, sonder kruk, kierie of spalk. Sedert 19 Oktober kon ek ook weer my eie huiswerk behartig: beddens opmaak, kook, wasgoed ophang, skoonmaak, alles sonder probleme. Alles wat ek vir dertien jaar glad nie, of beperk met baie moeite moes doen. My eerste gemeenskapsbyeenkoms was op 27 Oktober 1989 in Fichtelberg. Ek gaan gereeld na byeenkomste en ook na konferensies van die Bruno Groening vriende.

Ek verheug my weer in die lewe en is aktief saam met my kleinkinders (sleeritte, wandelings) en is weer vir hulle 'n vrolike ouma. Die depressie is heeltemal weg, gedagtes van selfmoord ken ek nie meer nie en ook die slapeloosheid het na die inleiding verdwyn. Meesal gaan slaap ek na die Einstellen* om 21:30 en slaap deur tot 06:30. Ek is diep dankbaar vir 'n nuutgevonde lewe.


Mediese kommentaar:

Breinbloeding ontstaan meesal deurdat 'n brein bloedvat bars as gevolg van hoë bloeddruk. Die bloed dring die breinweefsel binne wat vernietiging van die weefsel veroorsaak. Rondom die bloeding ontstaan 'n edeem deur bykomstige vogophoping in die breinweefsel. Dikwels word die aangrensende breinmassa verskuif of saamgedruk. Die ooreenkomstige simptome hang af van die plek waar die bloeding plaasgevind het. Dikwels tree 'n hemi-parese (eensydige verlamming) in. In die begin kan 'n duidelike verbetering van die neurologiese simptoombeeld voorkom deur die terugsak van die edeem en die reabsorpsie van die bloed, maar uitvalverskynsels wat jare lank geduur het, is nie in staat om te herstel nie, omdat die betrokke breinweefsel definitief vernietig is.

By mev K. was daar op 29-08-1976 'n hewige pyn in die nek en later ook in die voorhoof. 'n Dag later moes sy 'n paar maal hewig braak en het daarna inmekaargesak sonder om weer te kon opstaan. Sy kon haar linkerarm en –been nie meer beweeg nie. By opname in die kliniek is bevestig dat haar linkerarm en –been verlam is. Die vog wat deur 'n lumbale punksie (onttrekking van rugmurg vloeistof) verkry is, het swak tot middelmatige bloeding aangedui. [2] Met die diagnose van

"interkraniale bloeding met hemiplegie links"[3]

is sy al op die tweede dag na 'n nabygeleë universiteitskliniek gestuur. Daar is die diagnose van breinbloeding deur middel van rekenaargesteunde tomografie (CAT scan) bevestig. [4]

Ten spyte van intensiewe behandeling was daar egter geen wesentlike verbetering van die swaar verlamming nie. Mev. K. het 'n steunspalk en kruk gekry en was sedertdien aan haar huislike omgewing gekluister. Vir haar was daar volgens mediese maatstawwe geen hoop op genesing nie. In die daaropvolgende dertien jaar het sy baie depressief geraak en selfmoordgedagtes ontwikkel. Op 4 Oktober 1989, sewe dae voor haar inleiding in die leer van Bruno Groening, word haar mediese toestand as volg beskryf:

"Bene: regterbeen is in alle gewrigte voldoende beweeglik (...), ligte spasma in linkerbeen, gewrigte passief voldoende beweeglik, dorsale buiging van linkervoet onuitvoerbaar.

Beweging van linkertone: swak. Linkerbeen duidelik koeler as regterbeen.

Kragvermindering in die hele linkerbeen, reguit gestrek kan dit slegs effens opgetel word. Atrofie van linker beenspiere, verskil met regterbeen aan die middel van die bobeen met 4 cm, aan die onderbeen met 2 cm (...)

Arms (...) beperking van rowwe krag in die linkerhand. Matige atrofie van die linker armspiere."[5]

In die rapport van die neuroloog wat 'n na-ondersoek gedoen het ongeveer 'n jaar na die genesing, staan:

"(...) in die omgewing van die lang bane was daar aan beide kante geen verskil en geen parese nie." [6]

Onder "lang bane" word die senuwees verstaan wat die spiere van die arms en bene bedien. Daarvolgens was die verlamming soos beskryf in die mediese sertifikate van 1989, nie meer aanwesig nie.

Op 1 Junie 1992 het mev K. 'n ander neuroloog besoek. Ook hy kon met die ondersoek geen tekens van verlamming van arms en bene vasstel nie. [7]

By 'n meting van die omtrek van haar bene aan die begin van Julie 1992, word aangetoon dat die atrofie (spierdistrofie) van die linkerbeen soos beskryf in die mediese sertifikaat van 1989 (sien hierbo) nie meer bestaan nie. Terwyl die omtrek van die linker bobeen en onderbeen in 1989 onderskeidelik 4 cm en 2 cm minder was as dié van die regterbeen [8], was daar by meting van beenomtrek in 1992 geen verskil meer nie. Dit is 'n verdere bewys van die nuut ontstane senu herstel van die spiere na die genesing. 'n Verklaring vir hierdie verloop kan 'n mens as dokter nie verstrek nie. Dit weerspreek elke mediese ervaring dat 'n organiese verlamming wat meer as 13 jaar aangehou het binne enkele dae kon verdwyn.


Verwysings:

A-MWF = Argief van die Mediese-Wetenskaplike Studiegroep D-Hamburg/Hennef-Sieg

[1] Suksesberig van mev Anna K., A-MWF

[2] uit die ontslagsertifikaat van die stadshospitaal in W. van 31-08-1976, A-MWF

[3] sien ook 2

[4] ontslagsertifikaat van 13-10-1976, universitetskliniek in E., A-MWF

[5] uit die mediese verslag van 09-10-1989 van superintendent dr. O. uit R., A-MWF

[6] spesialis mening, dr. K., neuroloog te W., A-MWF

[7] spesialis mening, dr. G., neuroloog te W., A-MWF