Suksesberig

Genesing van chroniese poliartritis [1]

Dagmar M.(34) uit K.:

Aan die begin van 1988 kry ek vir die eerste keer pyn in my voetgewrigte. Dit verdwyn weer nadat ek oop skoene aanskaf.

Tydens my swangerskap in die lente van 1988 ondervind ek pyn in my hand- en kniegewrigte. Teen die einde van September tree verdere pyn in, in die nek, vingers, knieë en handgewrigte en 'n rukkie later ontstaan ook swelling van die gewrigte. Medisyne is voorgeskryf: eerstens diklofenak 50mg, daarna Protaxon wat net verligting van die pyn kon gee. Medies word rumatiek (chroniese poliartritis) vasgestel.

'n Goudbehandeling word voorgeskryf. Aangesien hierdie behandeling ernstige newe effekte kan hê, stel ek die afspraak tweemaal uit. Hulle wou my vir drie weke in die hospitaal opneem maar ek weier. Dit word egter steeds erger.

Sedert Januarie 1989 kon ek my hande nie meer plat op die tafel sit nie, ek het moeite ondervind om iets op te tel en om wasgoed of gordyne op te hang of te buk. Om iets onder uit 'n kombuiskas te haal, was baie moeilik omdat ek hiervoor moes buk. Om die huis aan die kant te maak was nie meer moontlik nie. Ek kon nie meer lang ente loop nie, ek was gou moeg en inkopies was te veel vir my.

Teen hierdie tyd was daar al knoppe aan my elmboë. In Februarie het die dokter gesê ek sou dadelik iets aan die rumatiek moes doen anders sou ek binnekort nie meer my vyf kinders kon versorg nie.

In die middel van April 1989 word my vingers, wat sedert Oktober dik geswel was, skielik slank en ek kon weer my werk beter doen. Dit was skielik weer moontlik om my hande plat op die tafel te sit. Tydens 'n besoek by my buurvrou, mev. S., hoor ek dat sy en haar man sedert 9 April namens my die genesende krag volgens die leer van Bruno Groening opgeneem het. Ek was diep geraak en beïndruk dat die helende krag, die heilstroom, voor ek nog daarvan geweet het, vir my gewerk het en skielik die swelsel aan my vingers laat afneem het. Ek het gevra om ook voorgestel te word aan die leer van Bruno Groening. Op 21 April ondervind ek toe hoe ek myself kan instel op die genesende krag, wat ek sedertdien gereeld doen.

'n Rukkie later begin hewige reaksies. My hande en voete word dik en rooi en brand soos vuur. Ek kon skaars loop en moes my voete reguit oor die grond sleep. In dié tyd het ek baie gelê en het 'n behoefte gehad aan slaap. Die sterk gewrigspyne het vinnig verbeter en die swelsel het ook gesak.

In Julie het dit steeds beter gegaan. Ek was weer in staat om 'n vuis te maak, my vingers het van die middel van die April 1989 slank gebly en my huishouding kon ek meer en meer self oorneem. Waar ek wasgoed vantevore op 'n klein staander moes hang, was ek nou weer in staan om dit op die wasgoedlyn te hang.

Ek kon weer saam met my kinders gaan stap, vir 'n uur en 'n half staan en stryk. Die knoppe aan my elmboë het verdwyn. Ek kan weer melkbottels oopskroef en met 'n bliksnyer 'n blik oopmaak wat voorheen onmoontlik was. Ek kan weer buk. Na ses maande kan ek al my huiswerk vir die eerste keer weer self doen.

Intussen het meer as sewe jaar verloop. Ek kan steeds al my huiswerk maklik behartig. Daar was nooit weer 'n aanval van rumatiek nie. Ek benodig ook geen medisyne meer nie en kan sonder pyn vir my vyf kinders 'n energieke moeder wees.


Mediese kommentaar:

Chroniese poliartritis (CP) is 'n siekte van onbekende oorsaak, moontlik van immunologiese oorsprong wat veral deur ontsteking in die perifere gewrigte manifesteer. Meesal is daar 'n simmetriese verdeling van die simptome.

Die chroniese ontstekingsproses lei uiteindelik tot voortskreidende gewrigskade, wat uiteindelik lei tot 'n finale verstywing en vernietiging van die gewrigte. In omtrent 70% van gevalle kan mens die begin van CP tussen die 20ste en 60ste lewensjaar sien, by vrouens driemaal meer as by mans.

By mev M. was daar al van die begin van haar dertiger jare tekens van die rumatiek. 'n Pynlike bewegingsbeperking met swelling van die vinger- en kniegewrigte het ingetree (proksimale interfalangale en metakarpofalangaalgewrigte van beide hande). Tipies was die simmetriese aantasting, albei kniegewrigte, albei hande se vingergewrigte. Met die verloop van die siekte is steeds nuwe gewrigte aangetas. So was daar later ook pyn met swelling en ontsteking in die tone en springgewrigte. Tipies was daar by mev M. ook 'n duidelike styfheid van die gewrigte wat veral vroeg in die oggend waarneembaar was.

Die pyn en swelling was die gevolg van die ontsteking in die betrokke gewrigte.

In die lente van 1989 was daar as duidelike teken van die verloop van die siekte, behalwe die pyn en swelling ook nog die verstywing van die vingergewrigte. Mev M. kon haar hande nie meer plat op die tafel sit nie.

By dit alles ontwikkel daar rumatiekknoppe aan haar elmboë en stuitbeen. Hierdie knoppe, ook beskryf as rumatoïede knobbels, word vermoedelik veroorsaak deur ontsteking van die klein bloedvate (vaskulitis). Die knobbeltjies word meesal opgemerk as onderhuidse weefsel oor drukpunte soos elmboë, agterkop en stuitbeen.

By mev M. kon, deur die neem van anti-inflammatoriese middels, slegs effense verligting van die klagte kry, sonder om die gang van die siekte te keer. Om dié rede wou die dokters in 1989 begin met goudsout terapie in die hoop dat die siekteaanvalle daardeur onderbreek sou word of minstens die omvang daarvan sou verminder. Goudsout kan by party siekes die siekte-aktiwiteit onderdruk en sodoende kan daar 'n verbetering intree. Ongelukkig kan daar newe-effekte wees soos ontsteking van die vel en mondslymvlies (dermatitis en stomatitis) asook nierskade (membraan glomerulonefritis), wat tot neftrotiese sindroom of nier-ontoereikendheid kan lei. Daar kan ook beenmurgskade (aplastiese bloedarmoede, agranulositose en/of thrombositopenie) intree.

Weens die erns van die moontlike newe-effekte, wys mev M. hierdie terapie van die hand en laat die siekte maar verder sy gang gaan.

Die behandelende internis beskryf die siekte in 1989 as volg:

"primêre chroniese poliartritis met ernstige verloop, swelling en deformasie van die gewrigte". [2]

Verder sê hy:

"Die bewys van die siekte is verkry uit die omvangryke kliniese verslag en laboratorium ondersoeke." [3]

Die skielike verdwyning van die swelling en ontsteking van die vingergewrigte in April 1989, sonder verandering van die bestaande medisinale terapie, kan 'n mens nog as toevallige remissie verklaar, maar die duidelike samehang met die tyd waarin die genesende krag deur die familie S. opgeneem is, stem 'n mens tot nadenke. Na 'n insiggewende gesprek met haar bure, aanvaar mev M. die fenomeen van genesing oor 'n afstand en sien nuwe hoop in haar uitsiglose situasie.

Soos gewoonlik was daar na die opneem van die genesende krag reaksies in die liggaam. Buitestanders sou geneig wees om in die omskakelingsreaksies in die liggaam as gevolg van die inwerking van die genesende krag, 'n hernude aanval van die siekte te sien. 'n Mens kan egter by die genesing van die mees uiteenlopende siektes altyd weer hierdie reaksie waarneem, wat die meeste genesings voorafgaan.

Die verdere kliniese verloop spreek vanself. Nadat mev M. die aanvanklike reaksies verdra het, het die klagte sonder enige verdere medikasie steeds verder verdwyn. Na 'n tydperk van sewe jaar was daar ook geen teken van terugkeer nie.

Haar man getuig op indrukwekkende wyse oor die gebeure:

Hiermee wil ek, Raimund M., die volgende betuig:

"In 1988 het my vrou rumatiek gekry. Die siekte het in 'n baie ernstige graad verskyn. Die vingers en voete was geswel, asook die hande en handgewrigte en daar was knoppe aan haar elmboë. Sy kon haar kop nie meer vrylik beweeg nie en dit was selfs pynlik om te kou.

Dit was vir haar onmoontlik om die huishouding waar te neem. Gedurende die week het my skoonmoeder gekom en in die naweek het ek, so goed ek kon, die huishouding waargeneem. Alhoewel my vrou sterk rumatiekmiddels geneem het, was die pyn steeds erger.

In April kom sy in aanraking met die gemeenskap van die Bruno Groening Vriendekring. Sy het alle medisyne gestaak. Binne 'n paar maande was sy duidelik baie beter. Nou, na byna drie jaar, hanteer sy die huishouding weer heeltemal alleen. Sy is vry van pyn en weer gelukkig."[4]

Op 23-01-96 gee die behandelende internis sy finale opinie skriftelik, betreffende die verloop van die siekte:

"Mev M. is in my algemene praktyk onder behandeling. In 1988 ontstaan 'n rumatoïede artritis met baie ernstige simptome. Mev M. was in hierdie tyd so siek dat sy nie in staat was om te beweeg nie. Al die groot gewrigte was gevoelig en opgeswel en kon nie beweeg nie, so ook die klein vinger- en voetgewrigte.

Hierdie aandoening is destyds totaal genees sonder enige byvoeging van antirumatiese medisyne van my kant af.

Laboratoriumtoetse in 1994 en 1996 het negatiewe rumatiekwaardes gewys en daar was geen verdere ontsteking nie. 'n Terugkeer van die artritis is sedert 1988 nie gevind nie."[5]


Verwysings:

AA-MWF = Argief van die Medies-Wetenskaplike Studiegroep D-Hamburg/Hennef-Sieg

[1] Suksesberig van Dagmar M. van H. opgestel in samewerking met die plaaslike medewerker van die suksesberiggroep van die Bruno Groening Vriendekring. Dit is deur die samesteller na konsultasie met die geneesde vrou vir publikasie voorberei

[2] mediese getuienis van dr. H., internis van K. van 13-04-1992, A-MWF

[3] idem

[4] Getuigskrif van Raimund M. van H. van 17-03-1992, A-MWF

[5] mediese getuienis van dr. H., internis van K. van 23-01-1996, A-MWF