Verdieping in die leer van Bruno Groening"Hierdie leer van my is 'n uitgesproke lewenswysheid waarvolgens reeds baie van my vriende leef en daarmee sukses gehad het. Deur aanname van hierdie leer het daar in hulle 'n volledige ommekeer tot stand gekom, wat selfs in baie gevalle gelei het tot sukses in hulle gesondheid."Bruno Groening het sy leer nooit op skrif gestel nie. Hy wou geen nuwe filosofie of ideologie skep nie. Hy het net een doel voor oë gehad: om die wat ly te help. Hy het hulle 'n geloofsleer gegee om mee te neem op die lewensweg, wat nie op intellektuele of selfs wetenskaplike oorwegings berus het nie, maar ontstaan het uit intuïtiewe aanvoeling van geestelike wetmatighede. Hy wat hom besighou met hierdie leer, kry 'n onverwagte kompleksiteit en sal erken dat hierdie leer veel verder gaan as net die aspek van genesing. Bruno Groening het die mensdom opgeroep om in die goeie te glo en dit in die daad om te sit. Die Christelike gebod van naasteliefde vorm die kern van sy leer. Die oorsaak van siektesBaie mense leef vandag in die geloof dat siekte iets toevalligs is wat plotseling opduik en die mens as't ware uit die niet oorval. Daarenteen sê Bruno Groening: "Hoe verder die mens hom van God afwend, wetend of onwetend, hoe minder lewe is daar in sy liggaam, sodat daar skaars nog genoeg lewe oor is vir die organe om te kan reageer soos hulle deur hom bepaal word. Hy kan nie meer met volle krag deur die lewe gaan nie. Hy het losgeraak van die kragbron. Uiteindelik het hy die verbinding met die groot goddelike kragbron verloor. Hy kan nie meer die krag van God in homself opneem nie. En so verander sy liggaam in 'n wrak." Hoe die mens weer tot gesondheid kan terugkeer, beskryf Bruno Groening as volg: "God het die mens mooi, goed en gesond geskape. So wil Hy hom ook hê. Oorspronklik was die mense geheel en al met God verbonde, daar was slegs liefde, harmonie en gesondheid, alles was een. Maar toe die eerste mens na die stem, na die kwade wat buite hierdie eenheid gespreek het, geluister het en dit gedoen het, toe is hierdie verbinding vebreek en sedertdien staan God hier en die mens daar. Tussen God en die mens het 'n groot kloof ontstaan. Daar is geen verbinding meer nie. Die mens – op homself aangewese - kan so gelowig wees as wat hy wil en bid, hy sal op sy lewensweg steeds deur die kwade aangeval word en in die diepte ingetrek word. Op jou lewensweg het jy daar aangekom, daar onder. Jy beleef ongeluk, pyn, ongeneeslike kwale. Ek sê vir jou: moenie nog dieper gaan nie, ek roep jou op tot 'n groot ommekeer! Kom op en ek bou vir jou 'n brug oor die kloof! Gaan van die lydensweg na die goddelike weg! Hierop is geen ongeluk, geen pyn, geen ongeneeslikheid nie - daar is alles goed. Hierdie weg lei terug na God!" Die groot ommekeerBruno Groening het die mense steeds weer opgeroep tot die "groot ommekeer". Hy het hulle aangespoor om die geloof in die goeie in die daad om te sit en af te sien van slegte gewoontes. In die eerste plek vra hy die mense om nie aan siekte te dink nie. Hy hou steeds vol dat die siekte van die kwade kom en die kwade is. Om jou hiermee besig te hou beteken dat jy met die kwade besig is. Dit verhinder die genesingsproses en kan dit selfs onmooontlik maak. "Hy wat homself met siekte besighou, hou dit vas en versper die weg aan die goddelike krag." Die mens moet hom van die siekte losmaak en dit nie as sy eiendom beskou nie maar hierin die euwel sien. "Siekte hoort nie by die mens nie!" Bruno Groening het aan die mense 'n aanbod gemaak om die siekte van hulle weg te neem. "Gee my jou siekte en jou sorge! Alleen gaan jy nie daarmee regkom nie. Ek dra dit vir jou. Maar gee dit vrywillig, ek sal nie steel nie!" "As jy die siekte blootlê sodat ek dit van jou kan wegneem, is dit goed; as jy daaraan vashou dan mag ek ook niks doen nie. Die sewende gebod verbied dit: 'Jy mag nie steel nie!' As ek die siekte met geweld van die mens verwyder, sou ek sondig. Ek mag nie steel nie! Wie van sy siekte hou, hou dit vas, die wat daarvan kan vergeet, van hulle neem ek dit weg in so verre dat hulle dit vrystel, nie slegs in die gedagte nie, ook in dade. Luister na my woorde! Ek wil jou nie beïnvloed nie. As jy die siekte vrystel, dan neem ek alle kwale van jou af!" Hoe belangrik Bruno Groening die innerlike ommekeer van elkeen beskou het, verduidelik die volgende uittreksel uit die boek "Die grosse Umkehr" van Kurt Trampler: "Ook in persoonlike gesprekke het ek dikwels van Groening die besliste standpunt gehoor dat hy die verantwoordelikheid voor God dra om die 'genesing deur suiwer goddelike krag' slegs aan diegene te voltrek wat ten minste die goeie wil het om volgens die goddelike wet te lewe, en dit te weerhou van diegene wat nie bereid is om van die kwade af te sien nie." "Ek sou," so het hy gesê, "'n massagenesing so kon voltrek dat ek kon sê: Alle siekes van 'n stad of 'n land word gesond! Maar sou daarmee nie meer verloor word as wat gewen word nie? Sou die slegtes onder die siekes daarmee tot ommekeer bereid wees? Sou hulle nie slegs die herwonne gesondheid misbruik nie? Nee, eers moet die mens 'n innerlike ommekeer in homself bewerkstellig, eers moet hy bereid wees om die duiwelse uit homself uit te skeur en die pad na God te vind. Eers dan is hy werd om genees te word." Die volgende woorde van Bruno Groening verduidelik hierdie uitspraak en verklaar die ontstaan van siekte: "Hoe het dit hoegenaamd daartoe gekom dat die mens siek geword het? Die oorspronklike mens was nie siek nie. Die mense het sleg geword, steeds slegter van geslag tot geslag. Die slegtigheid het so wyd uitgebrei dat dit spoedig nie meer moontlik is om te leef nie. Twis en stryd, selfs in die gesin, meer oorlog as vrede onder die volkere! Die sorge het 'n geestelike leed oor die mensheid gebring en dit is so diep gewortel dat die mense moes siek word. Die een belas geestelik die ander. Die mense is bedorwe, hulle het hulself van die natuurlike verwyder, baie het geloof in God verloor. Wie egter die goddelike pad byster raak, raak ook sy gesondheid kwyt." As die mens gesondheid wil terugkry deur Bruno Groening, dan moet hy bereid wees om van die "slegtigheid" af te sien. Hy moet sy rug draai op die slegte, die siekte, hom daarvan losmaak, nie meer dink aan "my asma, my rumatiek ensovoorts" nie. Dit is nie altyd so maklik nie. Dit vereis 'n innerlike verandering. Die mens moet sy denke fundamenteel omskakel. Hy moet nie meer soos gewoonlik aan die siekte nie, maar aan die gesondheid glo. Hy moet die geloof opneem dat selfs ongeneeslike siektes genees kan word. Wat verwag Bruno Groening daar van diegene wat hulp soek! Kom logiese denke nie in verset om so'n eis ernstig op te neem nie? Hoe moet gewrigte wat misvorm is deur gewrigsontsteking weer in orde kom, verlamde ledemate weer in staat kom om te funksioneer? Hoe kan dit moontlik wees om siekte aan Bruno Groening af te gee sonder dat hy die kleinste behandeling verrig, ja selfs sonder dat die siekte selfs aan hom beskryf word? Is dit nie 'n belediging vir elke nugter denkende mens nie? Dit is inderdaad 'n groot ommekeer wat Bruno Groening van die mense verwag. Dit beteken om elke wetenskaplike verstandsgeöriënteerde denke opsy te skuif en die geloof op te neem in iets hoërs. Sy leer berus op heeltemal ander prinsiepe as die van die huidige gebruiklike verstandige denke wat uit die materialistiese tydgees voortgekom het. Daarom het hy dikwels gesê: "Ek kan beslis nie met die verstand begryp word nie." Die Heilstrom*Bruno Groening het homself beskryf as 'n bemiddelaar van 'n geestelike krag wat direk van God kom en genesing bewerkstellig. Hierdie goddelike krag het hy die "Heilstrom" genoem. Om die wese van die Heilstrom*te verklaar, het hy 'n voorbeeld gebruik. Hy vergelyk God met 'n kragsentrale, die mens met 'n gloeilamp. Vir soverre as wat die gloeilamp slegs kan werk as die stroom van die sentrale hom bereik, so kan die mens slegs in goddelike orde leef as hy gevoed word met die krag van God. Homself vergelyk Groening met 'n transformator. Hy verander die oneindig hoë goddelike energieë sodanig dat elke mens slegs soveel kry as wat hy kan opneem. Sy eie vermoë tot opname van die krag was onbeperk. So was dit byvoorbeeld by die Traberhof naby Rosenheim moontlik dat duisende mense gelyktydige die genesende krag kon voel en dat massa genesings kon plaasvind. Bruno Groening het verklaar dat in die oorspronklike oertoestand daar 'n direkte verbinding was tussen die "sentrale" God en die "ontvanger" mens. Die mense het op aarde geleef soos kinders van God in hoogste eenheid met hul Vader. Maar omdat hulle hulself van God afgewend het, het hulle uit die goddelike orde geval en hulself oorgegee aan nood en ellende. Die verbinding tussen God en die mens is verbreek. Mettertyd het 'n steeds dieperwordende kloof ontstaan wat die mense nie meer uit hulself kon oorbrug nie. "Omdat die mense nooit meer kon terugkom na die goddelike weg nie, omdat die brug wat daarnatoe lei opgeblaas is, is hy saamgepers tot 'n hopie wat doelloos rondgedwaal het. Die brug na hierdie ware goddelike weg het ek gebou, weer opgerig, en as jy hierdie brug oorsteek kom jy op die goddelike weg waar jy dan self die verbinding kan opneem tot die groot, enigste, goddelike werk. Jy kan dan weer die ware, egte, juiste goddelike lewenstroom ontvang om dan weer goed en veral gesond jou lewe te kan lei." "Hy wat oor hierdie brug gaan en verder loop op die ware, goddelike weg, sal 'n heel ander gevoel kry en verbaas wees oor alles wat daar is wat hy tot nou toe nie van geweet het nie. Eers daar ontvang jy werklik die aansluiting tot die groot goddelike werk." Hy wat die leer van Bruno Groening volg en homself oopstel vir die goddelike krag, sal die Heilstrom* aan eie lyf voel. 'n Volledig nuwe lewensgevoel sal ervaar word: pyn, sorge en nood sal padgee, gesondheid, harmonie en vreugde sal die plek inneem. Hy begin om te ervaar dat God nie as onbarmhartige regter bo die sterre troon nie maar as liefdevolle Vader by die mense is en hulle wil help. Die kloof is oorbrug. Die mens beleef weer die oertoestand. Einstellen*Hoe kan die mens die Heilstrom* in homself opneem en hom oopmaak vir die goddelike krag? Bruno Groening het vir die hulpsoeker die volgende posisie aanbeveel: arms en bene moet nie gekruis wees nie en die handpalms moet oop na bo op die bobeen rus. Behalwe vir hierdie uiterlike is dit ook belangrik om alle steurende gedagtes af te skakel en heeltemal te konsentreer op wat in die liggaam gebeur. 'n Oop gelowige geesteshouding is die basiese voorwaarde. Op hierdie manier kan 'n mens jou oopmaak vir die instroom van die genesende krag. Bruno Groening het gesê: "God gee ons al die goeie, ons moet slegs alles van Hom wat Hy vir ons stuur in ons opneem. Dus - doen dit!" Hoekom die liggaamshouding so belangrik is, verklaar hy as volg: "Wie nog 'n vry beweeglike liggaam het, verkramp dit dikwels so graag. Dit is ook 'n mag, die mag van gewoonte. Om bene te kruis, oormekaar geslaan; sekerlik kan hy dan lekker luierig sit, d.w.s. sy liggaam eers lekker uitrek. Hy moet dit egter nie doen wanneer hy die goddelike, die goeie wil ontvang nie. Dan moet hy vry en ontspanne wees met oop hande, met leë hande moet hy daar sit of staan." In sy boek "Die grosse Umkehr" ("Die groot ommekeer") skryf Kurt Trampler: "Belangrik [...] is behalwe innerlike voorbereiding ook 'n skynbaar klein maar tog wesenlike uiterlike. 'n Mens moet regop sit sonder om teen iets te leun en die bene en hande moet nie aan mekaar raak nie. As die hande mekaar sou raak, ontstaan volgens Groening 'n kortsluiting van die lewenstroom in die bolyf en as die bene mekaar raak of selfs oormekaar geslaan is, lei dit tot dieselfde skade in die onderlyf. Diegene wat sulke foute uit gewoonte maak, sou selfs op die lange duur werklik onaangename siektes na hulle aantrek." Die bewustelike opneem van die krag het Bruno Groening "einstellen" genoem. Die mens stel om dus in op die ontvangs van die heilstroom. Waar en wanneer dit plaasvind is nie deurslaggewend nie. Dit is slegs belangrik dat 'n mens rustig is, alle steurende gedagtes afskakel en noukeurig oplet wat in die liggaam gebeur. Bruno Groening het sy toehoorders altyd weer gevra wat hulle gevoel het. "Jy moet jou maar net daarop instel om hierdie ware goddelike uitsending te ontvang, beter gesê, te verkry. Hoe jy hierdie uitsending verkry, vind jy self uit. Maar ek moet steeds weer sê, eers dan as jy werklik aandag aan jou liggaam skenk, sal jy oplet wat daarin gebeur, nie buite om nie maar slegs daarbinne, in jou eie liggaam." Elke mens kan die Heilstrom* aan eie lyf bespeur. Die een voel 'n krieweling, die ander 'n koue of warm rilling. 'n Ander weer, moet arms of bene beweeg, 'n volgende homself skud. So veroorsaak die Heilstrom* die mees verskillende reaksies by verskillende mense. Regelungen*Sommige mense ervaar pyn met die opneem van die Heilstrom*. Hierdie verskynsel het Bruno Groening beskryf as "Regelung". Dit is 'n teken van die omskakeling wat in die liggaam begin. Die pyn van die Regelung* is nie te vergelyk met die pyn van die siekte nie. Die reëlingspyn word deur die Heilstrom* veroorsaak en is die effek van reiniging van die siek organe. Daaroor skryf Kurt Trampler: "Ook die reëlingspyn verwar hulpsoekers dikwels genoeg. Die reëlingspyn moet daar wees". Dit maak enkele mense angstig as die reëlingspyn kom, as sou dit 'n terugslag wees. Hulle word bang en sê: "Dis nog erger, laat ons na die dokter gaan." Groening: 'Daarom maak ek julle daarop attent, as die reëlingspyn kom, om dit te verdra. Niks ergs sal gebeur nie, slegs maar dat die mens gesond word.'" Die vorm van Regelungen* kan deurgaans verskillend wees. Die pyn kan dieselfde wees as dié van die siekte, soms selfs erger. Dit kan egter ook heel anders tot uiting kom. Dit wissel van geval tot geval omdat elke menslike liggaam individueel op die genesende krag reageer. Die mens kan die reëlingspyn nie vryspring nie. Dit is deel van 'n reinigingsproses waardeur die onreinheid van die siekte op 'n geestelike manier uit die liggaam verwyder word. Bruno Groening het die fenomeen van Regelungen* verduidelik met die voorbeeld van 'n vuil melkkan. Hy vra wat gedoen moet word as die suur, stinkende melk in die kan vervang moet word met vars melk. Die antwoord lê voor die hand: Eers moet die slegte melk uitgegooi word, dan moet die kan gewas word. Dit is heeltemal dieselfde – figuurlik gesien - by die mens. Laat ons die liggaam beskou as die kan, die siekte as die slegte melk en die gesondheid as die goeie melk. Eers moet die mens hom in die gedagte van die siekte losmaak - die slegte melk uitgooi. Daarna word die liggaam van die "vuil" van die siekte gesuiwer - dit is die Regelungen*. Eers in die gewaste vat kan die vars melk ingegooi word – die gesondheid kom in die mens in. In 'n ander voorbeeld vergelyk hy die mens met 'n vrugtebak: "Neem 'n bak wat met iets gevul is, sê maar met vrugte wat al dae lank staan, d.w.s gestaan het sonder dat iemand daaroor bekommerd was of dit versorg het en dit het vrot geword. Nou kan jy nie meer van die vrugte geniet nie. En as daar nou iemand sou kom en jou nuwe gesonde vrugte wil gee, dan sou dit erg dom wees as jy die goeie, nuwe, gesonde vrugte op die slegte sou sit want die goeie sal ook sleg word. As jy gesonde vrugte wil hê moet jy tog eers die slegte, ongesonde, oneetbares weggooi. Nie net dit nie, jy moet ook die bak self skoonmaak voor jy die gesonde vrugte daarin kan sit. Vergelyk nou dit, hierdie bak, met jou liggaam en die vrugte met jou siek organe. Die gesonde is waarop jy hoop. Maar dit is onmoontlik as jy nie die slegtes kan weggooi nie want in daardie geval beteken dit dat jy jou met jou siekte besighou." Die vrye wilAs daar pyn is, is dit nie altyd maklik om in die Regelung* te glo nie. Baie mense word onseker: "Is dit nou reëlingspyn of is dit siektesimptome?" Daar begin dan 'n innerlike stryd, 'n stryd om die geloof. Hier word beslis of 'n mens die genesing verkry en hoe lank die genesingsproses sal duur. Dit kom daarop aan waaraan jy meer geloof skenk, die gedagte aan siekte of die gedagte aan genesing. As jy verder in die siekte glo sal jy dit ook behou, maar as jy aanhou veg vir geloof in gesondheid, dan sal die genesingsproses voltrek word. Die mens besluit self. Dit is 'n belangrike punt in die leer van Bruno Groening. Steeds bring hy dit na vore dat die mens 'n onaantasbare vrye wil het, die grootste geskenk wat God aan 'n lewende wese kan gee. Die vrye wil verhef die mens van die vlak van 'n gerigte skepsel tot dié van 'n vrye kind wat die gebooie van die Vader nie gedwonge nie maar vrywillig volg. Dit maak dit egter vir hom moontlik om ook teen die wette van God op te tree. Bruno Groening het die vrye wil van mense diep gerespekteer. Daarom kan hy slegs diegene help wat hulle laat help, wat bereid is om hulle van die siekte los te maak. Hy mag slegs dit van die mense wegneem wat hulle uit hulle vrye wil oorgee. Wie aan sy siekte vasklou en voortdurend daaraan dink en daaroor praat, sal tevergeefs op genesing wag. Hieroor sê Bruno Groening: "Ek mag 'n mens help om die weg na die goeie te vind maar ek mag nie die beslissing daaroor van hom afneem nie, nòg hom tot die goeie dwing nie. Elkeen moet sy weg self vind." Goed en kwaadWanneer die mens deur vrye wil die moontlikheid van keuse het, duik die vraag op: Wat is die alternatiewes waartussen hy kan kies? Hieroor sê Bruno Groening: "Neem dit in ag en moenie vergeet nie, vriende, dat die mens tussen goed en kwaad leef. Daartussen leef hy, hier die goeie, daar die kwade en tussenin staan die mens, hy besluit." Die mens het die keuse. Hy kan iets goed of iets kwaads doen. As een van sy naastes in nood verkeer, dan kan hy hom help, hy kan agteloos aan hom verby gaan of selfs die nood van die ander vir homself uitbuit. Hy kan doen wat hy wil. Die mens staan in sy lewe - bewus of onbewus - voor vurke in die pad waar hy moet besluit op die goeie of die slegte pad. Meesal is dit alledaagse gebeurtenisse wat die verloop van sy lot bepaal. Hoe is dit byvoorbeeld as mens uit woede oor 'n eerlik gesproke woord met 'n vriend afbreek of uit ergernis met die baas 'n werk opgee of deur gekrenkte trots 'n unieke aanbod van die hand wys? Hoe dikwels is dit nie impulsiewe beslissings, waaroor mens later spyt is, maar nie meer ongedaan kan maak nie. 'n Nietige oomblik kan die verloop van jou hele latere lewe bepaal, ten goede of ten kwade. Maar hoe kom dit sover? Wat staan agter die begrippe "goed" en "kwaad"? Is die hele lewe nie 'n produk van blinde toeval waaraan mense magteloos uitgelewer is nie? Die goeie - so verklaar Bruno Groening - kom van God, die kwade van sy teenstander: van Satan! Hy bestaan werklik en het dit hom ten doel gestel om al die goeie, die goddelike te vernietig. Bruno Groening: "Wie doen dit, wie laat geen steen onaangeroerd om die goeie, die goddelike te vernietig nie? Waarvandaan kom die siekte, die siekte van dit wat hier op hierdie aarde groei? Neem wat jy wil, 'n vrug of enige ander lewende wese, die satan probeer steeds om alles te vernietig. Hy kry dit ook reg om aan die mens te knaag." "Die satan, wat op hierdie aarde bestaan, het niks onaangeraak gelaat om die goeie en die goddelike te vernietig nie." "waar God is, is daar liefde, waar Satan is, is daar oorlog." In die geestelike staan beide pole teenoormekaar: God as die lewe self en Satan wat dit wil vernietig. Legioene van geestelike wesens staan aan elk se kant en die stryd word met alle felheid gevoer. Beide kante beskik oor enorme energieë. Die wese daarvan beskryf Bruno Groening met eenvoudige woorde: "Die goddelike krag is opbouend, en die kwade, duiwelse, sataniese is afbrekend." Die mens kan beide in hom opneem en laat werk, in liggaam sowel as gees. Die een werk versterkend en opbouend, die andere verswakkend en afbrekend. Die positiewe krag dra die gesondheid in hom, die negatiewe die siekte. Bruno Groening sê dat die siekte van die kwade kom en nie - soos dikwels beweer word – 'n straf van God is nie. Sulke gedagtes beskryf hy as leuens en wys dit beslis van die hand. God straf nie! Siekte is die gevolg van verkeerde gedagtes en dade. Wanneer die oorsaak uit die weg geruim is, sal die uitwerking daarvan ook verdwyn, en dit is die wil van God. "Nie soos mense glo, dat siekte 'n straf van God sou wees nie. Dit is vergelykbaar met 'n kind wat sy ouerhuis verlaat. Die ouers kan dan nie meer hulle hande oor sy kop hou nie, hulle kan die kind nie meer beskerm nie. So het ons ook ons Vader verlaat. Ons mag nie vergeet dat ons slegs kinders van God is nie. Alleen Hy kan ons help! En Hy sal ons help as ons weer die pad na Hom gevind het." Gedagtes is kragteBruno Groening het sy toehoorders dikwels aangespoor om gedagtes te kontroleer en net die goeie op te neem. God en Satan is nie alleen kragbronne nie maar ook gedagtebronne. Hulle stuur onophoudelik gedagtes uit; God goeie, satan slegte. Die mens kan – volgens Bruno Groening – nie self gedagtes produseer nie, maar besit slegs die vermoë om hulle op te neem. "Dit is so belangrik watter gedagtes die mens opneem want gedagtes is kragte. As die mens die goeie wil, dan help God hom, as hy die kwade wil, dan help Satan hom." Die mens is nie willoos uitgelewer aan alles wat in sy kop opkom nie. Hy besluit self watter gedagtes hy toelaat en watter nie. Hy moet die keuse egter gewetensvol maak, nie oppervlakkig nie. Agter elke gedagte staan 'n krag: 'n positiewe gedagte bou op, 'n negatiewe een breek af; 'n blye berig gee jou vlerke, 'n treurige een ontmoedig. Gedagtes is geestelike kragte. Daar is 'n mag in hulle, waarvan die huidige mensdom nouliks 'n vermoede het. 'n Gedagte wat uit liefde ontstaan het kan 'n mens daartoe bring om sy lewe vir 'n ander te gee. Een wat uit haat ontstaan het kan hom egter daartoe dryf om 'n ander dood te maak. "Waak teen elke slegte gedagte!" "Daarvan sou jy tot nou reeds bewus moes wees - as jy slegs 'n enkele slegte gedagte opneem, sou jy tog weer en weer vasgestel het dat nog meer slegte gedagtes binnedring en dat jy daarna ook slegte woorde gespreek het. Dus, alles wat jy in jouself opneem, moet jy weer afgee." "Neem slegs één bose gedagte op en jy word 'n dienaar van die bose, word werklik 'n dienaar van Satan! Onthou dit!" Wat kan 'n mens egter doen teen depressiewe, twyfel-, angs- en dwanggedagtes, hoe moet die mens homself daarteen verweer? Hulle duik plotseling uit die niet op, storm op hom af dreig om sy gemoed aan te gryp. Wat moet hy doen? Satan wil die mens met negatiewe gedagtes – van watter aard en nuanse ook - in verwarring bring, hom aflei van die goddelike weg. Hy wil dat die mens bang word, hom vererg, aan die goeie twyfel en die gebooie van God oortree. Om dit te bereik maak hy hom wys dat die mens 'n speelbal is van slegte gedagtes en gevoelens en magteloos daaraan uitgelewer is. Dit is alles egter leuens en bedrog. God het die mens so geskape dat hy self kan beskik oor sy denke, spreke en handel. As daar 'n slegte gedagte voor sy geestesoog opkom, kan hy dit rustig maar beslis afwys. As hy daarby standvastig bly moet die kwade wyk en kan dit geen mag oor hom uitoefen nie. Met sy vrye wil besluit die mens self oor sy lot. "Die mens handel volgens eie wil. Soos die wil is, so is die gedagte. Die gedagte bring die mens tot aksie." Aan die hand van 'n eenvoudige voorbeeld laat Bruno Groening sien van watter groot betekenis gedagtes is. By die bou van 'n huis is die eerste stap die wil, d.w.s die wens om 'n huis te bou. Daarna word die gedagte steeds meer werklikheid wanneer 'n noukeurige plan opgetrek word. Tot dan bestaan die bouwerk slegs in die fantasie van die toekomstige huiseienaar. Die eintlike bou van die huis is slegs die laaste stap op 'n lang pad voorafgegaan deur talle oorwegings en voorbereidings. Net so is dit met die genesing. Eers moet die wil tot gesondheid teenwoordig wees, dan moet daar in die gedagte 'n skeiding met die siekte plaasvind en die geloof in genesing opgeneem word. Eers die laaste stap is die genesing wat in die liggaam begin. Dit is seer seker nie die werk van die mens nie maar 'n handeling van genade van God. Die mens kan dit nie verdien nie maar verkry. Die mens is geesBruno Groening verklaar aan sy toehoorders die ware wese van die mens: "Wie is julle?" vra hy. Geeneen van sy toehoorders weet dit behalwe om sy naam te noem nie. Dit tel egter nie by Bruno Groening nie. "Is jy jou liggaam?" vra hy verder. Op hierdie vraag stamel ons vriende 'n "ja" omdat ons nie van beter weet nie. Daarop volg sy kategoriese "nee" en hy hou vol: "Wie is jy werklik?" Op ons swye lê hy vir ons uit dat ons oorspronklik 'n gees is, nie liggaam nie. Ons liggaam is maar slegs aan ons deur God geleen vir die aardse bestaan, verkry by geboorte en om terug te gee aan die aarde by ons dood. Ons siel vorm die verbinding tussen gees en liggaam en neem die ervarings van goed en kwaad saam na die hiernamaals. Die siel is die draer van die goddelike vonk wat die verhouding met God moontlik maak vanaf die oomblik dat die mens hom in die geloof oopstel. As die siel hom in ongeloof afsluit, bly die verbinding met God afgesny. Die liggaam is dus nie die wese van die mens nie maar slegs die aardse omhulsel van gees en siel. So is met die sterwe van die liggaam alles nie verby, soos deesdae baie mens glo nie, maar gaan die lewe voort. Dit is nie aan die liggaam gebonde nie. Die mens is gees, sy liggaam 'n geskenk wat God aan hom beskikbaar stel as werktuig vir sy lewe op aarde. Die eintlike bestemming van die mens is om die liggaam ten goede te benut en met behulp van goeie gedagtes in dade om te sit. Deur die vrye wil het die mens egter ook die moontlikheid om die liggaam ten kwade te misbruik, om te steel, te dood, te vernietig. Aan die dade van 'n mens kan mens sien met wie hy in verbinding is, in wie se diens hy staan: in diens van God of in diens van Satan. Dit wil nie sê dat die mens as sodanig goed of sleg is nie, maar: "Die mens is en bly goddelik, hy is nooit duiwels, nooit satanies, nooit sleg nie. Hy kan slegs as hy God verlaat, as hy homself verwaarloos, deur die kwade oorgeneem word. Die kwade gryp hom en hy moet vervolgens die kwade dien. Dit is nie die mens wat die kwade doen nie maar die kwade self. Van die kwade kan ons niks goeds verwag nie, maar eweneens niks kwaads van God nie!" "As hy [die mens] te swak is, verval hy in die kwade, val hy na benede, dan kan hy hierdie weg wat omhoog voer nie meer bewandel nie. Dit ontbreek hom aan die krag, hy val na benede, val in die arms van die kwade en is aan die kwade oorgelewer. As daar nie 'n reddende helpende hand kom om hom daaruit te trek nie, is hy vir 'n hele tyd verlore. Hy sal daar dan die kwade moet dien." Dit is elke mens se plig om sy liggaam in orde te hou. Elke negatiewe gedagte, elke kwaai woord en elke slegte daad doen skade aan die liggaam, d.w.s. wanneer die gees nie met God in verbinding is nie en hom oorgee aan die negatiewe krag, dan kan dit lei tot siekte van die liggaam. As die siel egter opnuut oopgestel word vir die goddelike krag om in te stroom en met die gees verbind word, sal die genesing van die liggaam volg. Om hierdie rede is die eie geesteshouding so beslissend. Genesing mag nooit belowe word nie. Dit hang van die mens self af hoe hy hom oopstel vir die goeie en hoe hy die leer van Bruno Groening ter harte neem. Behandeling van die liggaam kan slegs die uitwerking bestry maar nie die oorsaak uit die weg ruim nie. Dit kan die mens slegs self doen deurdat hy die "groot ommekeer" bewerkstellig. God is die grootste dokterWerklik genees kan slegs God, geen mens nie. God is die grootste dokter. Vir Hom bestaan daar geen ongeneeslike, geen onmoontlike nie. Steeds weer sê Bruno Groening: "Vertrou en glo, die goddelike krag help en genees!" Al wat hy van 'n hulpsoeker verwag is die bereidheid om hom met vertroue tegemoet te kom en die geloof in God en Sy genesende krag en eie genesing op te neem. As 'n mens aan hierdie voorwaarde voldoen, kan Bruno Groening help. Selfs wanneer die geloof van 'n individuele mens te swak is, bied hy sy hulp aan: "As jy vandag nog nie kan glo nie, wil ek dit vir jou doen totdat jy werklik glo. En as jy vandag nog nie kan vra nie, nie kan bid nie, dan wil ek dit ook nog vir jou doen." So kan elke mens die hulp van God verkry deur Bruno Groening. Niemand is uitgesluit nie, Almal moet gehelp word. Almal moet die heil ervaar. Die mense moet dit beleef dat God nie 'n straffende regter is nie maar 'n liefdevolle Vader. Alle mense is Sy kinders en Hy is hulle Vriend en Verlosser. Deur Bruno Groening kan die mens die wondere van God opnuut beleef. Verlamdes loop, blindes sien en vermoeides verheug hulle in die lewe. God is vir alle mense die grootste dokter en helper. Vir Hom is niks onmoontlik nie. Bruno Groening sê: "Daar is baie wat nie verklaar kan word nie, maar niks wat nie kan gebeur nie." |