Die leerstellings van Bruno Groening

Samevatting

Die leerstelling van Bruno Groening is gebaseer op die invloed wat geestelike kragte op mense het. Die invloed van hierdie kragte is groter as wat meeste mense besef.

Bruno Groening vergelyk die mens met 'n battery. In die daaglikse lewe gee elkeen krag af. Nuwe lewensenergie word egter nie meer in toereikende mate opgeneem nie. Net soos wat 'n afgelope battery nie meer kan werk nie, kan 'n kragtelose liggaam ook nie meer sy funksies verrig nie. Gespannendheid, senuweeagtigheid, lewensangs en uiteindelik siekte is die gevolg.

Bruno Groening verklaar hoe jy weer nuwe energie kan kry. Geloof in die goeie is hiervoor nodig, net so seer as die wil om gesond te word. 'n Mens word orals omring deur genesende golwe wat jy net moet opneem. Volgens Bruno Groening is daar geen ongeneesbare siektes nie, soos bewys deur talle suksesberigte wat deur medici bevestig is. Die genesings vind hier slegs op geestelike wyse plaas en is gevolglik nie afhanklik van Bruno Groening se fisiese liggaam nie.

Om hierdie helende stroom op te neem, moet die hulpsoeker met geopende hande sit sonder om die arms of bene te kruis, sodat die helende stroom ongehinderd kan deurvloei. Gedagtes oor die siekte en sorge sal dit teëwerk, terwyl gedagtes oor iets moois dit sal aanhelp.

Wanneer die helende stroom deur die liggaam vloei, kom dit by siek organe uit en begin met sy reinigende werking. Dit kan pyn tot gevolg hê, wat juis 'n aanduiding is dat die genesing besig is om plaas te vind. Aangesien die siekte in sy wese nie die wil van God is nie, sal dit mettertyd verdwyn. In enkele gevalle vind die genesing selfs dadelik plaas. Dit is noodsaaklik dat die persoon nie meer aan die siekte dink nie, maar glo dat daar vir God nie so iets soos ongeneesbaar is nie.

Om verder ook gesond te bly, stel die Bruno Groening vriendegroep hulle daagliks in op die helende stroom. 'n Gesonde liggaam is die grondslag vir 'n lewe in harmonie met jouself, jou medemens en die natuur.

Die doel van die leer van Bruno Groening is om van 'n siek mens een vol lewensvreugde te maak, vry van liggaamlike en geestelike probleme.