Persoorsig van destyds, Duitsland:
"Das Neue Blatt", uitgawe van 9 Mei 1957

dasneueblatttitel.jpg (58702 Byte)

"Bruno Groening - sy woord verban die siekte, Deel 1"

Dokumentêre berig / van Dr. Horst Mann

Dit moet vooraf in alle duidelikheid gestel word: dit gaan vir ons nie om die persoon van Bruno Groening nie. Das Neue Blatt wil nie in die koor inval wat hom oordrewe as geneser prys of omgekeerd, as kwaksalwer verskree nie. Ons opdrag was om die genesings van Bruno Groening krities en objektief te ondersoek, gelei deur 'n eerlike strewe om agter die waarheid te kom want alle lydende mense het die reg tot hierdie waarheid.

Das Neue Blatt slaan daarmee 'n opspraakwekkende hoofstuk van ons huidige tyd oop. Hier is die feite:

  • Vir meer as tien jaar lewer Bruno Groening bewysbare genesings. Die aantal kan nie geskat word nie - dit loop in die duisende in.
  • Verskeie kere reeds was hierdie man weens sy metodes voor die gereg. Elke keer moes hy vrygespreek word. Met vertroue staar hy nou ook 'n nuwe, baie omstrede hofsaak in die gesig.
  • Oral in Duitsland is daar Groening-verenigings. Hulle lede sien met eerbied na hierdie man op, wat hulle nie alleen genesing gee nie maar ook 'n geestelike anker bied.

Das Neue Blatt het met hierdie mense gepraat. Ons het die genesing suksesse krities ondersoek. Ons het dokters en wetenskaplikes gevra en met Bruno Groening self gepraat. Hy het vrymoediglik materiaal aan ons beskikbaar gestel wat tot op daardie stadium vir niemand toeganklik was nie.

Dit was op 27 November 1953 in die klein dorpie Ostenfeld, 14 km oos van Husum: Die atmosfeer in die lae lokaal van die dorpskroeg was gespanne. Dit was soos 'n yster beklemming om die harte van die mense, wat dig opmekaar op banke en rye stoele gesit het. Hulle was omtrent so honderd na honderd en vyftig.

Hulle het uit Ostenfeld en die omliggende dorpe tussen Rensburg en Schleswig, Husum en Kappeln gekom. Die gerug het gou versprei: Bruno Groening is daar! Hy sou weer siekes genees het. Miskien sal hy ook vir my kan help, of die vader met sy jig, of die kind wat so swak is en vir wie die dokter maar net sy skouers opgetrek het. Dit sou die gedagtes wees van die mense wat vanaand hier opgedaag het.

Die dowwe lig het skaars die lokaal binnegedring. Dit het op gesigte, vol verwagting en geloof geval, maar ook in die oë van skeptici en nuuskieriges. Laasgenoemde het niks besonders verwag nie. Hulle wou maar net daar wees om later daaroor te kan praat in die lang winteraande van 1954. Daar gebeur ook so min hier in die dorpe. Die gesprekke draai tog altyd maar net om dieselfde onderwerpe: die weer, die oes, die vee en.. die siekte. Ja, uiteindelik kan enigiemand siek word – miskien wys Groening op 'n uitweg...

Die geruis van stemme weerklink teen die plafon van die oorvol lokaal en skuif die rooksluier uitmekaar. Party hou hulle hande geklem asof hulle bid. Andere vertel grappe om die innerlike spanning te verdryf. Weer andere bekommer hulle oor hulle siek familielede.

Net in die laaste ry is dit doodstil. 'n Ernstig sieke is binnegedra. Hy is so in pyn dat hy nie kan sit nie. Komberse is op die grond gelê om vir hom plek te maak. Die mense ken hom. Dit is die boer Thies Paasch uit Norby. Hulle ken ook sy afskuwelike lot, die pyn wat hom gevange hou en soms weke aan die bed kluister.

Plotseling hou die stemme op. Bruno Groening kom die lokaal binne. Hy lyk klein met sy byna 1,7m lengte, byna sierlik, toe hy met vinnige treë na 'n lae verhogie stap. Sy klere is soos mens hom uit talle foto's ken. Opvallend is sy sterk kop met golwende hare en sy groot stralende oë wat brand uit sy lang maer bleek gesig.

En toe was alles heeltemal anders as wat dié verwag het wat uit nuuskierigheid en vir sensasie hiernatoe gekom het.

"My liewe vriende," spreek Groening die aanwesiges toe. Die stem was sag en melodies, sonder drama en patos en het ook nie gepraat oor die genesings, die wondere wat sy eienaar volbring het nie. Dit loof en prys hom ook nie as die Messias wat weer opgestaan het om redding aan die wanhopige mense te bring nie.

Groening praat oor geloof en oor sy krag. Hy sê dit met eenvoudige woorde wat elkeen verstaan, opneem en verwerk. Hy spreek in beelde en gee gelykenisse maar doen dit nie met skel kleure en gebeurtenisse nie.

Skaar 'n uur lank spreek Groening hulle toe. Niemand kyk na die horlosie of voel asof hulle nie aangespreek word. Dan wend hy hom na enkele toehoorders.

"Het u iets gevoel?" vra hy. Saggies, aarselend of bly en bevestigend kom die antwoorde. Sommige hou in verkrampte hande 'n silwerpapier balletjie was wat van te vore uitgedeel is en vertel van 'n eienaardige gevoel van warmte. Ander berig van bewerasies of pynlike steke. Ander weer, skud maar net ontkennend die kop.

Sommiges wil hulle siektegeskiedenis vertel maar daarna wil die man in die sy hemp met die groot strikdas nie altyd luister nie. Soms onderbreek hy hulle, byna grof: "Ek behandel nie siektes nie! Siektes is wanorde. Kom met jouself en met God in orde en die genesing sal nie agterweë bly nie. Laat ons tog net oor goeie dinge praat. Mag jy goed voel in ons kring."

My hartlike dank aan mnr Groening, dat ek deur hom my volle gesondheid herwin het.Thies Paasch, Norby.Bruno Groening gaan van tafel tot tafel, van stoel tot stoel. Dan draai hy om.

Uit die agterste ry roep iemand hom en hy stop. "Meneer Groening, u het iemand vergeet!" Dit was die burgemeester, amptenaar van Owschlag wat opstaan en wys na Thies Paasch wat agter hom op die grond lê.

Groening stap na die sieke, buig oor hom en vra die vraag wat hy ander toehoorders ook gevra het: "Het u tydens die sitting iets gevoel?"

Die man wat deur pyn gedwing was om op die grond te lê, knik: "Ja," sê hy, "skielik het ek baie warm gekry. Net helfte van my linkerbeen het yskoud gebly en daarna het dit in my regterhand gekriewel."

Groening knik. Verder niks. Geen beweging, geen troos, geen aanwysing nie. Hy loop vinnig dwarsdeur die saal.

Toe roep iemand uit die middel van die menigte: "Laat ons mnr Groening bedank deur van ons stoele op te staan!" Daar is gekras van stoelpote en tafels wat verskuif word.

En dan gebeur die ongelooflike. Thies Paasch kom regop. Hy staan op soos ander gesonde mense. Sy gesig is soos een wat verlos is. Met beide hande wys hy die hulp van sy buurman van die hand. Hy wil dit alleen doen. En hy doen dit ook, sonder moeite, sonder inspanning – sonder pyn.

Regop staan hy daar en kyk laggend, byna triomfantelik na die onthutste gesigte van die mense rondom hom. En dan stap hy met vaste tred na die toonbank. "'n Brandewyn, mnr kroegman," bestel hy. Hy skreeu byna met 'n stem deurdring met ontsetting, hoop en gejubel. "'n Brandewyn, mnr die kroegman!"

Norby, 18 April 1957

Voor my lê 'n omslag met dankbetuigings aan Bruno Groening. Dit bevat 58 briewe van mense wat almal in hierdie man hulle geneser en redder van ernstige aandoenings sien. Hulle kom van 'n klein distrik, uit Ostenfeld en omliggende dorpe. Die briewe stam uit die tydperk van die winter van 1953 tot met die lente van 1954. Hulle is geskryf deur boere, huisvrouens, vragmotorbestuurders, messelaars en mense van ander ambagte. Hulle vertel ook van die wonderbaarlike genesing van kinders.

My verstand wil dit nie glo nie maar my oë lees dit. Dit is eenvoudig onbegryplik. Die mense som hulle siektes op, dit gaan oor hart- en bloedsomploop probleme, rumatiek, spatare, oop wonde, hoofpyn, veluitslag, trombose, heupgewrigsontsteking, vetsug, verlamming, harde plekke op die vel, rugwerwelkussing skade, galprobleme en tuberkulose. 'n Afkuwelike verskeidenheid van siektes - alles genees deur Bruno Groening.

Ek steek vas, my oog val op die naam Thies Paasch, die man wat byna 3 jaar gelede na 'n toespraak van Bruno Groening skielik opgestaan het en genees gevoel het. Ek lees:

"Sedert 1944, dus 'n volle tien jaar lank, ly ek aan verskriklike senu- en rumatiekpyn wat ek destyds gedurende die oorlog in Oos-Pruise opgedoen het. Verskeie dokters, genesers en kruietee behandelings is probeer, maar alles was slegs ter verligting en nie ter genesing nie. Verlede jaar het die pyn sodanig geword dat ek my nie eintlik meer kon beweeg nie. Die dokter het dit gediagnoseer as hernia van 'n rugwerwel skyfie en heupsenuwee ontsteking.

Nadat ek 4 weke lank gelê het sonder om enige verbetering te voel, het ek besluit om op 27 November na Ostenfeld te gaan waar mnr Groening toe self aanwesig was.

Omdat ek nie kon sit of loop nie, het ek twee ure lank op die vloer gelê. Toe mnr Groening die lokaal binnekom het ek dadelik verligting gevoel en toe sy gesprekke met die ongeveer 200 mense beëindig is, het ek self ook opgestaan en sonder 'n kierie die lokaal verlaat. Asof deur 'n wonder is ek nou gesond en kan weer my werk doen.

My hartlike dank aan mnr Groening, dat ek deur hom my volle gesondheid herwin het."

Thies Paasch, Norby

Wat sou van hierdie man geword het? Sou sy spontane genesing inderdaad permanent wees? Is dit werklik 'n wondergenesing of het die krag van die oomblik – die skielik opgewekte geloof deur Bruno Groening – die bron van die pyn laat opdroog om dan later opnuut, en miskien erger, weer uit te breek?

'n Paar uur later sit ek regoor hom in die woonkamer van 'n boerdery in Norby. Hy is 'n fris vrolike man wat ewegoed 40 of 50 jaar oud kan wees. Hy kom pas per trein en fiets terug van Husum waar hy sy motorbestuurstoets afgelê het.

Vrymoedig vertel hy en reeds na sy eerste woorde spaar dit my om die vraag te stel of sy genesing permanent was. "Ek is mnr Groening uit die diepste van my hart dankbaar. Aan hom het ek dit te danke dat my werk nou weer 'n plesier is en ek gesond is!"

Thies Paasch het alle rede daartoe want toe hy vir my nog 'n keer van sy lydensweg vertel, word ek eers bewus van die erns van sy siekte. Destyds na die eerste aanval tydens die oorlog het hy alles probeer, maar die rumatiek het net erger geword. 'n Kromtrek van die ruggraat het ook nog bygekom. Die dokters kon slegs met inspuitings verligting bring.

"Ek het destyds geen uitweg meer gesien nie," vertel Thies Paasch. "Ek het te veel terugslae gehad. Toe ek op die naam Groening afkom, het ek geweet en gevoel: slegs hy kan my red! Daarin het ek geglo toe ek in die motor gelaai is om die rit na Ostenfeld te maak en ek my pyn onderdruk het."

"Was u intussen alweer by 'n dokter?" vra ek die bruingebrande boer wat intussen weer vol energie is en seker nie te ligte werk verrig nie.

Thies Paasch lag: "Waarom sou ek?" kom sy teenvraag. "Ek voel tog gesond, heeltemal gesond!"

Ten spyte daarvan vra ek later tog 'n dokter wat hom oor 'n lang tyd met inspuitings behandel het. "Dis waar," sê hy, "mnr Paasch was siek. Hy het onder andere senuwee ontsteking gehad. Vir genesing het hy 'n kragtige ingryping nodig gehad. Dit kon Groening hom gegee het."

My nuuskierigheid was geprikkel. Was dit 'n uitsondering, 'n enkele sukses? Ek soek ander pasiënte op en beleef nuwe verrassings. Daaroor berig ek volgende week.