Persoorsig van destyds, Duitsland:
|
| DIE PLAN VAN REVUE Revue begin vandag met die publikasie van 'n tema wat veel verder as suiwer joernalistiek gaan. In die middelpunt staan 'n eenvoudige maar in enkele maande beroemdgeworde man, Bruno Groening, wat in Herford en ander stede die leed van duisende siekes wat voorheen as ongeneesbaar beskou is, op wonderbaarlike, raaiselagtige wyse genees of verlig het. Geen politikus, geen ekonoom, geen kunstenaar het in die na-oorlogsjare die mense so ontroer soos Bruno Groening nie. Ook ander lande, selfs Engeland en Amerika is deur die uitstraling van sy roem en sensasionele persberigte geraak, wat wissel tussen lofprysing, skeptisisme en arrogante afwysing. Die spottende veragting word gevoed deur sensasie, ongekontroleerde gerugte en weersprekende verhale. By dit alles ontbreek die nodige erns, die verantwoordelikheid, die onpartydigheid en die kennis van die betekenis van die probleem wat oornag deur Bruno Groening uit die geslote gebied van mediese bespreking openbaar gemaak is. Die mediese spesialismedewerkers van Revue is in 'n ander samehang reeds geruime tyd besig met die kwessie van die psigiese oorsaak van die meeste siektes en met die studie van die ontwikkeling van ooreenkomstige navorsing in die res van die wêreld, wat dikwels in Duitsland verontagsaam word. In die geval van Groening gaan dit nie alleen oor die persoon van die wonderdokter nie, maar om die betekenisvolle vraag van die psigiese, dit wil sê die oorsaak in die siel van die siektes, en om rekening te hou met die psigoterapeutiese behandeling van die pasiënte. Groening kon 'n fenomeen op die gebied van psigiese siekebehandeling wees. Toe die stryd dus in Noord-Duitsland rondom Groening, by wie se werkplek op sommige dae tot ses duisend mense byeengekom het, steeds meer chaotiese vorms aangeneem het, neem Revue 'n besluit wat vir 'n geïllustreerde tydskrif ongewoon is. Die teenstelling tussen die tallose aanhangers en die min maar invloedryke teenstanders van Groening het intussen ondraaglik geword. 'n Mediese kommissie en die outoriteite in Herford het 'n geneesverbod op Groening geplaas. In Herford, Hamburg en talle ander stede was daar egter duisende siekes wat op verdere hulp van die wonderman gewag het. By die amptelike instansies was daar uiteindelik 'n groot radeloosheid teenoor die fenomeen Groening sodat 'n mens 'n ongelukkige einde vir hierdie fenomeen te wagte was. Sou Groening vernietig word tussen die mag van die teenstanders en die mag van die gelowiges? Sou die eenvoudige, intellektueel onbeholpe mens Groening, werklik bewus van sy roeping en eerlik bereid om te help, ondergaan as gevolg van "behulpsame mense", wat na hom gekom het om munt te slaan uit sy genesende krag en daardeur talryke geleenthede aan sy teenstanders sou bied? Of sou 'n mediese of ander wetenskaplike instituut in Duitsland bereid wees, soos wat in die VSA op die oomblik elke groterige kliniek sonder meer bereid sou wees, naamlik om Bruno Groening vanuit 'n eerlike drang na ondersoek die moontlikheid te gee om sy vermoëns klinies te laat kontroleer? Na vrugtelose diskussie was daar teen die einde van Junie die gevaar dat Groening vernietig sou word. Die vraag of hy 'n wonderbaarlike heilsame psigiese vermoë gehad het, of dat dit daarenteen bevestig moes word dat sy vermeende vemoëns 'n vergissing, ja selfs kwaksalwery sou wees, het vir miljoene siekes onbeantwoord gebly. Op hierdie tydstip het Revue besluit om sy staf van spesiale korrespondente bestaande uit Helmut Laux, Heinz Bongartz en 'n wetenskaplike, die Marburgse sielkundige en medikus prof. dr. H.G. Fischer na Noord-Duitsland af te vaardig. Hulle moes Groening, wie se spore al begin vervaag het, opsoek. Hulle moes hulself van die suksesse of mislukkings van sy genesings oortuig deur 'n noukeurige ondersoek na die gevalle wat deur Groening behandel is. In geval van 'n positiewe afloop van hierdie voorondersoek moes hulle 'n beeld vorm van die omstandighede rondom Groening en sy persoon self. Al na gelang van die resultaat van die ondersoek, het die personeel die opdrag en die middele gehad om Groening moontlik te skei van die ongunstige invloed van sy omgewing en dit vir hom moontlik te maak om weg te kom van die verstikkende chaotiese verwarring tussen gelowiges, dokters en burokratiese instansies. Met sy instemming moes Groening asiel verkry op 'n onbekende afgeleë plek. Terselfdertyd het die Revue-staf voorbereidings getref om by gunstige afloop van die voorondersoek, die bereidheid te verkry van 'n vooraanstaande Duitse universiteitskliniek om saam te werk. Dié moes aan Groening die geleentheid gee om vir wetenskaplikes sy vermoëns te bewys. As dit suksesvol was, moes dit dan vir hom maklik gemaak word om sy verdere werk voort te sit. As dit sou misluk, dan moes 'n onbetwisbare verslag oor die negatiewe resultaat openbaar gemaak word. Dit was die plan van Revue. Die uitvoering daarvan het op 28 Junie 1949 begin. Dit het probleme, avontuur en verrassings opgelewer. Maar die plan het geslaag, sonder dat dit tot nou toe openbaar gemaak is. Groening het vanaf 29 Junie 1949 om 23:45 uur uit die openbare oog verdwyn. Vandag begin Revue met die uitvoerige verslag van die korrespondente en die leidende medici oor die voorgeskiedenis en die verhaal van die mees verbasingwekkende mediese eksperiment wat ooit met die hulp van 'n tydskrif moontlik gemaak is. |
Ons het op 29 Junie uit Frankfurt vertrek, op die presiese dag waarop Groening skielik in Hamburg spoorloos verdwyn het. Ons joernaliste was natuurlik nuuskierig terwyl professor Fischer terughoudend was hoewel hy ook nie sy nuuskierigheid heeltemal kon verberg nie. Hy was egter van plan om die geval Groening sistematies te ondersoek en slegs langsaam en gewetensvol 'n oordeel te vorm. Ons samewerking met professor Fischer was van die eerste dag af uitstekend. Hy het die gebruiklike mediese opleiding gehad en was as gewone medikus in staat om siekteverslae en verergering of genesing daarvan te beoordeel. Andersyds was hy ook sielkundige en het gebruik gemaak van psigoanalise en psigoterapie (geneeskunde van die siel). Groening se metode moes sorteer onder geneeskunde van die siel, tensy hy oor ander kragte beskik het wat vir die psigoterapie vandag nog onbekend is.
Die aand van 29 Junie kom ons in Bielefeld aan en weens 'n vroeëre bekendheid met professor Fischer is ons eers na 'n ontmoeting met die leier van die sanatoria in Bethel, professor Schorsch. Professor Schorsch het 'n beduidende rol gespeel in die mediese kommissie wat tot die genesingsverbod van Groening bygedra het. Aanvanklik wou hy ons mense van die pers glad nie te woord staan nie en het slegs professor Fischer ontvang aan wie hy sy indruk van Groening gegee het: "Hy is 'n heel primitiewe mens en het veral geen 'charisma' nie." Vir diegene wat die woord nie ken nie, moet ons byvoeg dat wetenskaplikes daaronder roepingbewustheid verstaan. Schorsch se bevinding is dat die religieuse roepingbewustheid waaroor Groening in Herford en ook op ander plekke dikwels gepraat het, suiwer toneelspel was. Hy sou eerder optree vanwee egoïsme en arrogansie. As bewys van sy woorde toon Schorsch aan ons 'n grafologiese verslag met dieselfde uitspraak. Professor Fischer neem kennis van sy uitspraak. Origens skep professor Schorsch nie die indruk van doelbewuste vooroordeel nie. Hy kom eerder ongeïnteresseerd voor. Hy was geset en gemoedelik en het eerder die indruk geskep dat hy heeltemal niks verder van die geval Groening wou hoor nie. Waarskynlik kon hy nie opgewonde raak oor so iets nie en wou niks hê wat vir hom ongeleë was nie. Hy was van opinie dat ons ons nie op sy oordeel moet verlaat nie maar die geval self moet ondersoek.
Prof. dr. Wolf die hoof van die stadshospitale in Bielefeld was meer oop. Hy het deurgaans met ons saamgestem dat die geval Groening sonder voorbehoud getoets moet word. Hy het egter daarop gewys dat dit bekend was dat 'n aanbod aan Groening gemaak is om sy kuns in 'n kliniek te bewys. Wat moes mens daarvan dink dat Groening die aanbod afgewys het? Kon mens die dokters kwalik neem dat hulle die man met buitengewone skeptisisme vervolg as hy weier om sy vermoëns voor hulle te demonstreer?

Ons het onsself natuurlik ook afgevra waarom Groening sulke kliniese waarnemings en getuigskrif van sy behandelingsmetode sou vermy. Het Groening rede gehad om professor Wolf se objektiwiteit in twyfel te trek? Toe professor Fischer enkele weke later Groening so ver gekry het om voor die dokters van die stadshospitale van Bielefeld te praktiseer, moes hy helaas uitvind dat ook daar dit die bedoeling was om Groening by skynbare tegemoetkoming te vernietig. Hulle het slegs gevalle na hom gebring waar niemand meer kon help nie, ook nie Groening nie. Professor Fischer moes daarom daarvan afsien om Groening se metodes voor die Bielefeldse dokters te laat sertifiseer.
Verder het die Detmoldse dokter dr. Dyes, teenoor Groening gesê het dat hy soveel bewyse van sy geneeskuns kon bring as wat hy wou, hulle sou hom steeds verhinder om sy werk te doen! Professor Fischer het dus uit Herford vir dr. Dyes gebel en dié het geen geheim van sy uitspraak gemaak nie. Groening het 'n slegte indruk op hom gemaak. Dr. Dyes was vol mediese hoogmoed en hoogs tevrede met sy eie houding.
Op hierdie manier het Groening alle vertroue verloor in 'n objektiewe standpunt van die dokters, sodat mens hom dit nie kwalik kon neem dat hy nie wou ingaan op die hospitaaleksperimente wat aangebied is nie. Die wakker instink van die oorspronklik eenvoudige mens het die onredelike bedoelings wat op hom gewag het aangevoel.
Op 30 Junie begin ons toe met die ondersoek van pasiënte wat deur Groening behandel en volgens hoorsê genees is, aanvanklik in Nordrhein-Westfalen maar dan op tot in die omgewing van Hamburg. Dit was makliker gesê as gedaan.
Die siekes deur Groening behandel was terug in hulle tuisdorpe. Niemand het hulle name en adresse noukeurig opgeteken nie. Groening het soos 'n soort rondreisende geneeskundige in die waarste sin van die woord los en vas behandel en behalwe vir verhale, persberigte, bewerings en gerugte was daar selfs van sy aanhangers ook geen eksakte rekords van sy werk nie. Ons sou waarskynlik heelwat moeilikhede ondervind het as ons nie toevallig in Bielefeld 'n man ontmoet het wat al voor ons probeer het om 'n bepaalde oorsig van die suksesse van Groening te verskaf nie.
Hierdie man met die naam Lanzenrath was die streeksdirekteur van 'n siekefonds, verstandig, saaklik en versiende. Dit het hom geluk om deur te dring tot in die "aanhangers" wat rondom Groening opgebou het en na sy vertrek na Hamburg in die huis van Hülsmann agtergebly het waar Groening gewerk het. Of hierdie groep bestaan het uit gelowiges of profiteurs – daaroor kon ons op daardie tydstip nog nie oordeel nie. Van Groening se vermoë om talryke siekes te beïnvloed en te genees was hy net so oortuig as van sy persoonlike beskeidenheid. Hy was egter bevrees dat die " aanhangers " Groening se goeie eienskappe in die verkeerde rigting sou stuur. In die begin was Lanzenrath self teenoor ons wantrouig maar ook hier was dit professor Fischer wat vir ons groep deure oopgemaak het en Lanzenrath so ver gebring het om ons verder te help. Hy het vir ons gevalle uit sy eie ervaring genoem waaruit 'n mens met noukeurige ondersoek gevolgtrekkings kon maak oor die erns van die fenomeen Groening. Die motiewe wat Lanzenrath na die omgewing van Groening gelei het was origens buitengewoon interessant. Weliswaar was dit ook 'n siekte, 'n pynlike nieraandoening, wat hom na Groening gelei het. Nou, na verloop van twee maande, was hy steeds vry van pyn. Tegelykertyd het die belange van die siekefonds hom daartoe gebring om Groening op te soek. Hy het ons vertel dat die Duitse siekefondse op die rand van finansiële ineenstorting gestaan het weens die see van chroniese siektes wat eenvoudig nie wou genees nie. Daarmee het hy natuurlik iets bevestig wat vir die psigoterapeute van die tyd heel bekend was. Die tweede wêreldoorlog met al sy skokkende dinge het 'n ware vloed van siektes nagelaat wat grotendeels psigiese oorsake gehad het maar tevoorskyn getree het as organiese verskynsels. Dit het gewissel van tallose maagaandoenings en rumatiese siektes tot by uitgesproke neurose of verlammings. Sielkundiges het vir hierdie siektes die begrip psigosomatiese siektes geskep. Na die valuta hervorming kon mens statisties 'n nuwe toename van die aantal siektes vasstel wat voorheen nooit in so'n mate opgeduik het nie en wat mens beswaarlik aan organiese oorsake kon toeskryf. Lanzenrath het inderdaad gehoop om by Groening 'n geneesmetode te vind wat miskien ook kon dien tot verligting van die oorlaaide mediese fondse. Lanzenrath het 'n aantal behandelings en genesings noukeurig gevolg. Hy het ons eerstens gelei na ongeveer 20 gevalle wat ons oor 'n tydperk van 'n week deur sorgvuldige analise en ondersoek en ook vir so ver moontlik, deur gesprekke met die betrokke huisdokters opgevolg het. Ons wou hiermee probeer om die beslissende vraag op te klaar: kan Groening genesings doen?
Op 8 Julie het ons die uitslag van die 20 ondersoeke in oënskou geneem. Onder die 20 gevalle was daar 7 wat miskien interessant was en hier en daar selfs geheimsinnig, maar wat geen duidelike beeld kon gee vir of teen Groening nie. Aangesien ons juis met hierdie 7 gevalle begin het, was ons na die derde dag geneigd om te twyfel. Dit was ten minste die geval vir ons leke.
Daar was byvoorbeeld die geval Klüglich in Bielefeld. Klüglich, 'n gewone kantoorwerker is tydens die oorlog deur die nier geskiet. Die beseerde nier het nog op 'n beperkte manier gefunksioneer. Na die oorlog kry die tweede nier toe 'n ernstige ontsteking wat so ver gegaan het dat die behandelende dokters gedink het aan 'n operasie. X-straal opnames en ander verslae was vir ons ter insae. Voor Pinkster het Klüglich hom per brief via Lanzenrath tot Groening gewend. Laasgenoemde het eers afstandsgenesing toegepas en Klüglich gevra om noukeurig te let op wat die volgende dae in sy liggaam sou gebeur. Klüglich het verhoogde nieraktiwiteit, baie donkerkleurige urine en 'n groeiende verligting van sy pyn ervaar.
Ook die behandelende dokter het bevestig dat daar 'n verbetering was. Daarna het Groening vir Klüglich persoonlik besoek en die genesing het voortgeduur. Klüglich het uit die bed opgestaan en rondgeloop. Dog op die oomblik toe ons hom besoek en professor Fischer hom ondersoek, het sy toestand weer versleg. Die professor het gou uitgevind dat Klüglich as gevolg van sy siekte deur die huisvestingsburo 'n ekstra kamer gekry het. As gevolg van die vinnig rondgaande gerugte van sy "genesing" het die huisvestingsburo hom meegedeel dat hy onder hierdie omstandighede die kamer sou moes ontruim. Op dieselfde dag het sy toestand weer versleg. Dit het hier nie gegaan oor simulasie nie maar 'n werklike verslegting wat sonder twyfel 'n psigiese oorsaak gehad het, naamlik die angs vir verlies van die kamer en die verbinding tussen die gedagte van siekte en besit van die kamer. Om van genesing te praat was dus duidelik onsin. Die gewone geneeskunde kon in hierdie geval slegs daarop wys dat dit Groening geluk het om die sieke uit 'n diepe letargie te trek en daardeur sy siekteweerstand te verhoog. Hulle het weliswaar toegegee dat daar 'n verbinding was tussen psigiese behandeling en liggaamlike weerstandsvermoë, maar was korrek om die stelling van 'n genesing af te wys. Dit was natuurlik 'n ope vraag oor wat Groening by voortgesette beïnvloeding sou kon vermag.
Die tweede geval was dié van mev. W., ook van Bielefeld. Sy was weduwee en eienares van 'n fietswinkel. Vanuit 'n stoel in die kombuis wat agter haar winkel was, het sy die besigheid en die gesin beheer. Sedert die ouderdom van 15 het sy gely aan probleme met loop en vogophoping in die bene. Haar hart- en nierfunksies was normaal maar daar was tekens van verspreide artritis. Groening het vir 'n halfuur regoor haar gesit en spoedige verbetering voorspel. Sedertdien kon sy weer oor die werf loop en het werklik goed gevoel. Die professor het vasgestel dat die edeem nog maar net gering was. 'n Ondersoek deur die behandelende dokter het ook gewys dat die swelling afgeneem het sedert Groening se besoek. Daarna het dit egter gelyk of die klagte weer effens aan die toeneem was. Was dit hier ook 'n psigiese oplugting en herlewing wat 'n tydelike verbetering gebring het, wat weliswaar die verband tussen geestestoestand en siekte wys, maar vir ons nie sterk genoeg bewys was nie? Tensy mens hier ook 'n verbetering en uiteindelike sukses te wagte kon wees met voortgesette behandeling deur Groening. Dit was interessant om vas te stel dat mev W. vir jare lank haar kontantkissie opgepas het. Die dwangneurose om dit ononderbroke te moet oppas kon die rede gewees het vir die loopprobleme wat aan verlamming gegrens het. Waarskynlik het Groening ook hierdie dwangneurose ter syde gestel, wat steeds 'n merkwaardige prestasie is want 'n gewone psigoterapeut sou daarvoor nie 'n halfuur nie, maar dae of selfs weke nodig gehad het. Ook hierdie prestasie was egter nie voldoende om iets so ongewoons by Groening te kry wat groot kliniese eksperimente sou regverdig nie.
Ten slotte was daar die geval Schwerdt in Bielefeld. Dit het hier gegaan oor twee pasiënte. Eerstens 'n meisie, dogter van 'n gewone amptenaar wie se moeder 'n onderdrukkende invloed op haar gehad het. Tweedens was daar 'n fabriekseienaar wat blykbaar deur erfsugtige familielede dopgehou is. Die man en die meisie het 'n verhouding aangegaan, waardeur die man in heftige konflik met sy familie gekom het. Die meisie moes voortdurend verwyte van haar moeder ervaar, wat niks van die saak met die ryk man wou weet nie omdat "daar niks van sou kom nie." Beide die man en die meisie het uiteindelik moed verloor en die verhouding beëindig. Die meisie het 'n buitengewoon ernstige hartneurose gekry wat haar gedwing het om voortdurend plat te lê. Terselfdertyd het die man 'n ongeluk gehad en in die bed bly lê, ook nadat die beserings al lankal genees het. Hy het verlang na sy geliefde. Om hierdie drang nie te volg nie, hou hy hom besig met siekwees en verskans homself in sy bed. Groening het die geval behandel. By sy eerste besoek by die meisie het hy 'n wesenlike verbetering bewerkstellig, sodat mej Schwerdt uit die bed kon opstaan. Daarna besoek sy Groening en gee aan hom die name van ander siekes wat hy moes help, waaronder ook dié van die fabrikant, sonder om verder oor hom uit te wei. Groening het egter blykbaar die werklike samehang vermoed. Hy haal silwerpapier van 'n sigaretdosie uit sy sak, verfrommel dit in sy hand en gee die balletjie aan die meisie met die opdrag dat sy dit so lank in haar hand moes hou totdat sy dit persoonlik aan die genoemde man kon oorhandig. Hy sou dan gesond word. Mej Schwerdt het die balletjie 36 uur lank in haar hand gehou.
Intussen hoor die man deur die gerugte wat snel die rondte doen, van die suksesse van Groening en sy aanwysings aan mej Schwerdt. Uit nuuskierigheid staan hy uit die bed op en gaan na die meisie. Die verbroke verhouding word hierdeur herstel en altwee voel weer gesond. Op die vraag van prof. Fischer of hulle mekaar nou weer gereeld sien, verklaar die meisie: "Ja – ongelukkig." Die eintlike konflik wat die hele onheil aangebring het, naamlik die spanning met die moeder en die ander familielede was dus – aangesien sy gesê het 'ongelukkig' – nie uit die weg geruim nie en kon vroeër of later die ou toestand weer te voorskyn roep.
Die indruk van hierdie geval was dus ook tweeledig maar in elkgeval het Groening ook hier die siekte wat deur 'n psigiese komplekse te voorskyn geroep is, in 'n verbasende kort tydjie uit die weg geruim. Met opmerklike insig het hy die werklike samehang herken en met die silwer balletjie 'n kunsgreep toegepas waarvoor die beste psigoterapeut hom nie hoef te skaam nie. Hy het dit inderdaad oor die hoof gesien dat die kompleks wat die oorsaak was, nog voortbestaan het. Die Schwerdt geval was die eerste geval waar professor Fischer werklik vir Groening begin instaan het. As daar dan niks anders buitengewoons van Groening was om uit te vind nie, dan sou mens ten minste moes erken dat hy 'n verbasende natuurlik gawe gehad het vir psigoterapie.
Die sogenaamde Wehmeyer geval was baie merkwaardig. Wehmeyer het 'n vervoer besigheid in Herford gehad. Aktief, kragtig, met sterk senuwees was hy sekerlik nie iemand wat hom om die bos sou laat lei nie. Hy het Groening opgesoek om hulp vir sy vrou te kry wat weens 'n onbekende chroniese siekte wat nie presies vasgestel kon word nie, in 'n kliniek in Münster gelê het. Groening het aan hom uitgelê: "U vrou sal die wens uitspreek om binne 'n bepaalde tyd huistoe te kom. Uself mag egter nie vooraf soontoe gaan om haar te vra om huistoe te kom nie." Wehmeyer was, soos gesê, nie iemand wat in heldersiendheid geglo het nie en nog minder iemand wat hom sou laat voorskryf. Hy vat dus teen die advies van Groening sy motorfiets en vertrek na Münster na sy vrou. Daar gebeur toe die eienaardige wat hy gewoonweg nie kon verklaar nie: onderweg weier sy motorfiets om verder te ry. In Bielefeld vat hy dit na 'n werkwinkel. Die motorfiets word van voor tot agter ondersoek. Daar was niks verkeerd met die enjin nie. Dit moes werk. Die werktuigkundige vervang die vonkproppe, doen alles wat moontlik is maar kan nie begryp hoekom die motorfiets nie loop nie. Radeloos sê hy Wehmeyer moet maar liewer weer huistoe ry. Wehmeyer pak dus die terugreis aan en die oomblik toe hy weer koers inslaan na Herford, loop die motorfiets asof dit nooit iets makeer het nie. Verheug draai hy om. Dadelik staan die motorfiets weer stil. In die rigting van Münster loop dit nie.
Nog heeltemal ontsenu deur hierdie spookagtige gebeurtenis, reis Wehmeyer later per trein na Münster. Daar sê sy vrou toe inderdaad spontaan dat sy nou huistoe wil gaan. Sy voel wesenlik beter en die afdelingsdokter verklaar ook dat sy behandeling nou voltooi is.
| Siekes deur Groening behandel wat deur prof.
dr. Fischer opgesoek is voor hy Groening self ontmoet het. Mnr Klüglich van Bielefeld wat aan 'n niersiekte gely het, het in voortdurende vrees vir 'n operasie geleef. Ons berig gee die toestand weer waarin hy verkeer het toe prof. Fischer hom in opdrag van Revue weke na Groening se behandeling aantref. Die dogtertjie van die Hamburgse familie Mendt bewys aan prof. Fischer dat die Groening-effek vir die geneeskunde bruikbaar gemaak moet word. Groening het op spinale kinderverlamming suksesvol psigoterapeuties ingewerk. Mev Wehmeyer. Toe prof. Fischer haar opsoek en van haar verblyf in die hospitaal hoor, was hy baie beïndruk met Groening se afstandswerking en die ervaring waarvan haar man vertel het (sien berig). Mej Schwerdt vertel aan prof. Fischer haar ontmoeting met Groening soos in die berig beskryf, toe sy met behulp van 'n silwerpapierballetjie na die man wat sy liefhet teruggevoer is en hoe beide genees is. Mev W. wat in Bielefeld die fietswinkel behartig het van haar man wat in 1946 oorlede is. Prof. Fischer praat met die dokter wat voor Groening die langdurige en uitsiglose behandeling gegee het. Die nugtere sakeman Kargesmeyer uit Bad Oeynhausen by wie geen operasie die kwellende pyn deur trigeminusneuralgie veroorsaak, kon wegneem nie. Na Groening se behandeling tref prof. Fischer hom gesond aan. By die bed van mev E. sit dr. Morters wat die pasiënt voor die inwerking van Groening behandel het. Ook hierdie geval gee Revue aanleiding om die dokters van 'n universiteitskliniek te oortuig van die noodsaaklikheid van 'n kliniese ondersoek. Daaroor berig Revue in die volgende uitgawe. |
Op die vyfde dag van ons ondersoek het ons die eerste werklike groot verrassing gekry en van toe af was daar die een verrassing op die ander. Uiteindelik voer dit na 'n gebeurtenis wat sonder oordrywing as sensasioneel beskryf moet word.
Ons het na Hamburg gery omdat Lanzerath daar van 'n geval geweet het wat hom baie beïndruk het. Die geval was buitendien medies goed ondersoek. Dit het gegaan oor die dogtertjie van 'n mnr Mendt, wat 'n motorherstel besigheid in Hamburg gehad het. Die kind het voorheen spinale kinderverlamming gehad en verlammingsverskynsels in die bene oorgehou.
Hier was 'n
noukeurige, sorgvuldig verwerkte voorgeskiedenis met duidelike diagnose.
Groening het die kind op sy gebruiklike manier behandel deur rustig teenoor
haar te gaan sit, langsaam vrae te vra oor wat sy in haar liggaam voel,
gepaardgaande met 'n ligte streling met die hand. Daarna het hy die opdrag
agtergelaat vir noukeurige aantekening van wat die kind in die volgende dae
sou voel. Dit is sorgvuldig gedoen en prof Fischer kon lees dat die kind
trekkende pyne in die bene gevoel het, in die rigting van die lae rug. Dit
het toegeneem en plekgemaak vir 'n warm stroom en verhoogde bloedvloei in
die bene. Die kind het weer bewegings begin maak wat sy voorheen nie kon
doen nie. Prof Fischer ondersoek die ledemate van die kind en vind dat hulle
besondere goeie bloedvloei gehad het. Die hele proses het hom herrinner hom
aan die prinsiep van "autogene training" sonder dat dit voorheen by spinale
kinderverlamming suksesvol was. "Autogene Training" is voorheen deur prof.
I.H. Schulz, voormalige dosent vir psigoterapie aan die universiteit van
Jena, ontwikkel en in Duitsland geleer. In beginsel was Schulz se metodes
niks anders nie as die toepassing van die ou beroemde praktyk van Indiese
joga op die moderne Europese geneeskunde, iets wat vir elke Europeër
geheimsinnig voorgekom het. Die geneeskundiges wat deur hom opgelei is was
in staat om deur psigiese beïnvloeding, wat nie met hipnose verwar moet word
nie, die bloedsomloop van hulle pasiënte na bepaalde liggaamsdele te stuur.
Dit was egter nie in alle gevalle suksesvol nie. Dit het veral wekelange en
partykeer maandelange inspanning gekos wat beslis die benaming "training"
verdien het. In hierdie geval Mendt het Groening reeds aan die begin sukses
behaal, wat heel ongewoon was. Selfs as 'n medies gekwalifiseerde
psigoterapeut hom met hierdie geval bemoei het, sou dit op sy beste talle
weke vereis het om die resultaat te behaal wat Groening in 'n halfuur
bewerkstellig het. Fischer het nog 'n lang bespreking gehad met die
Hamburgse professor Burckhard en beide was so geïmponeer deur die sukses dat
prof. Fischer vir die eerste keer gesê het dat hy van mening was dat
Groening oor buitengewone psigoterapeutiese kragte, miskien oor 'n eie
stralingsveld of iets anders beskik het, wat in 'n groot kliniese ondersoek
nagevors moes word. Op dieselfde manier moes die moontlikheid van
beïnvloeding van spinale kinderverlamming en die gevolge en verskynsels
daarvan met deurlopende behandeling oor 'n lang termyn ondersoek word.
Die volgende dag
hetnog indrukwekkende verrassings gebring. Lanzenrath het ons na 'n ander
pasiënt van Groening gebring, ene mnr Kargesmeyer van Bad Oeynhausen.
Kargesmeyer was 47 jaar oud en het sedert sy tweede jaar aan hoofpyne gely
wat mettertyd otwikkel het in 'n ernstige trigeminusneuralgie. Hieronder
word pyn van die gesigsenuwees verstaan wat behoort tot die vreeslikste
lyding wat bestaan. Die hewigheid van hierdie pyn kan mense tot selfmoord
dryf. Dit kan skaars deur 'n gewone medikus behandel word. Pynverligting
deur medisyne bly ontoereikend. In heel wanhopige gevalle probeer mens om
die senuwees met alkohol inspuitings te vernietig of eenvoudig deur te sny.
In beide gevalle is dit 'n moeilike operasie met onsekere gevolge.
Kargesmeyer is verskeie kere geopereer. Uiteindelik is die mangels in 'n
kliniek in Münster met 'n radikale operasie verwyder. Die sinusse is ook
skoongemaak omdat daar ontsteking vermoed is wat dalk die oorsaak van die
gesigspyn kon wees. Die operasie het geen effek op die neuralgie gehad nie.
Dit was natuurlik moontlik dat die neuralgie oorspronklik deur die
ontsteking veroorsaak is maar dat die pyn na verwydering daarvan, in die
gesigsenuwees "gefikseer" is. Dit is soortgelyk aan die vreeslike pyn wat
dikwels na amputasies in die oorblywende amputasiestomp voortduur en die
indruk skep asof die pyn deur die hele nie meer aanwesige arm of been trek.
Groening het Kargesmeyer behandel. Hy het hom gevra om sy kop tussen sy
hande vas te hou.
Daarna het Kargesmeyer 'n warm stroom in die gesig gevoel. Die pyn het nog 'n paar dae aangehou maar daarna van dag tot dag verminder. Hy was nou reeds vier weke sonder pyn.
Ook hier het blykbaar 'n ongewone vermoë om bloedsomloop te stuur tot sukses gelei. Miskien was daar ook andere faktore betrokke maar op hierdie stadium kon dit geen rol speel nie. Tot op daardie tydstip was daar uiters min gevalle van trigeminusneuralgie bekend wat deur psigoterapie behandel is. Die behandeling het ook weke en maande geduur voor sukses behaal is. Groening het dit in 'n kort sitting gedoen - 'n prestasie tot op hede ongeëwenaar.
In die daaropvolgende dae was ons weer in Herford. Lanzenrath het aan Fischer voorgestel om die geval van Dieter Hüllsmann te ondersoek. Dit het gegaan oor die negejarige seun van die ingenieur Hülsmann wie se genesing Groening beroemd gemaak het. Vir die eerste keer kom ons in die huis wanwaar Groening se roem uitgegaan het en waar hy gebly het tot kort vantevore. Dieter Hülsmann het nooit regtig leer loop nie maar niemand het die werklike oorsaak van sy siekte herken nie. Hy was vir lang tye in gipsverbande. Uiteindelik is by die universiteitskliniek van Münster vasgestel dat hy progressiewe spierdistrofie gehad het, dus voortskreidende spierverlies.
Na verblyf van amper 'n jaar in Bethel, het een van die dokters aldaar verklaar: "U kan die seun hier laat, U kan hom ook saamneem huistoe. Niemand kan hom help nie." Die kind kon uiteindelik nie meer sit nie en sy bene was yskoud. Verhitte komberse, warmwater sakke en elektriese verwarmingskussings was nie in staat om die aanhoudende koue en gevoelloosheid weg te neem nie. In hierdie toestand het Groening 'n enkele behandeling toegepas. Die seun het kort daarna intense brandpyn in sy rug gevoel en 'n skielike verwarming van die bene. Dit het daartoe gelei dat die seun weer kon loop, al was dit waggelend.
Daar het die heftigste meingstryd oor die geval van Dieter Hülsmann uitgebreek. Aan beide kante was daar onuitstaanbare oordrywing. Dit kon sekerlik nie 'n genesing genoem word nie maar aan die ander kant was die bewering dat Groening se behandeling niks verander het nie, 'n kwaadwillige verdraaiing. Na noukeurige ondersoek was professor Fischer van mening dat dit in werklikheid 'n neurotiese progressiewe spieratrofie was, dus 'n degenerasie van die senuwee wat van die rugmurg na die bene loop en blykbaar die voeding en ontwikkeling daarvan beïnvloed het. Die ontstaan van die degenerasie was waarskynlik die voorste horingselle in die rugmurg. In hulle mond die senuweedrade uit wat van die serebrum kom. Sonder dat hierdie senuweedrade in direkte verbinding is met die senuwees wat na die spiere loop, vind hier 'n oordrag of omskakeling plaas van die impulse wat van die harsings kom. Dit kon nie ontken word dat die gedegenereerde senuwees 'n ongewone stimulus ervaar het nie en dat hierdie stimulus deurgegaan het na die bene. Dus, wat ons tog die meeste verbaas het, was dat Groening 'n diagnose gemaak het wat op 'n geheimsinnige manier baie na aan die anatomiese werklikheid gekom het.
Kargesmeyer het beweer dat Groening hom vertel het, sonder om hom te vra, dat hy aan gesigspyn ly en dit reeds van sy tweede jaar gehad het. Ons het dit beskou as die oordrywing van 'n dankbare pasiënt. By Dieter Hülsmann was daar egter 'n duidelike verslag van Groening se diagnose, bevestig deur getuies. Groening het gepraat van 'n senuweebreuk in die rugmurg en daarby die plek beskryf waar die siek voorste horingselle was. Hier het die seun later die genoemde brandpyn en latere eienaardige trillingsgevoel wat Groening beskryf het as die begin van regenerasie. Hy het dit vergelyk het met die flikkering van 'n gloeilamp waarin die stroom langsaam "invloei". Hierdie verklaring klink primitief maar kom nietemin so na aan die werklikheid dat dit ons diep ontroer het.
Die laaste beslissing ten gunste van Groening het gekom deur 'n belewenis wat ons kort na die ondersoek van Dieter Hülsmann deur prof Fischer gehad het. Ons is 'n woonkamer binnegelei sonder om te weet dat Groening voorheen daar gewerk het. Professor Fischer gaan moeg sit in een van die gemakstoele wat rondstaan. Byna terselfdertyd word sy gesig doodsbleek. Hy hyg na asem maar beheers homself egter gou. Dan kyk hy ons met skrefies-oë aan asof 'n raaiselagtige geweld hom aangedoen is waarvan hy die herkoms nie kon verklaar nie. Hy vertel ons dat die oomblik toe hy gaan sit het, hy 'n hewige pyn in die omgewing van sy regternier ervaar het met gelyktydige hartkloppings en asemnood. Sy regternier het meermale voorheen ontsteking gehad. Dit was die orgaan met die minste weerstandsvermoë in sy liggaam. Terwyl ons nog wonder oor die eienaardige verskynsel, kom Lanzenrath in die kamer en vertel ons dat die professor in die presiese stoel sit waarin Groening sy siekes behandel het.
Groening het altyd beweer dat hy in die stoel besonder kragte kon agterlaat. Sou die professor iets daarvan gemerk het? "Inderdaad", onderbreek Fischer die ietwat bedrukkende stilte wat van ons uitgaan. Maar hy was alreeds met een of ander plan besig. Skielik vra hy Lanzenrath om saam te kom na die tuin waarin die siekes geduldig of vertwyfeld gewag het net soos die dag met ons aankoms in Herford. Onder hulle soek hy na 'n verlamde en vind 'n jong meisie wat hulpeloos met onbeweeglike bene in 'n somerhuisie lê. Met die hulp van Lanzenrath dra hy haar na die woonkamer en sit haar in die geheimsinnige stoel. Dan begin hy haar te behandel soos wat hy as psigoterapeut gewoond was. Gou vind hy die oorsaak van haar verlamming.
Die meisie Anni Schwedler, 21 jaar oud was van Darmstadt afkomstig en het in die herfs van 1944 'n hewige lugaanval op die stad meegemaak. Anni was saam met haar ma en ongeveer 20 ander mense in die bomskuiling van 'n brouery toegeval. Al die ander, ook haar ma, kon deur 'n nooduitgang uitkom wat net groot genoeg was om 'n mens deur te laat. Op een of ander manier het die meisie egter in die muuropening vasgesit. Die huis was in ligte laaie. Die hare van die meisie het reeds vlamgevat. Eers op die laaste oomblik geluk dit die lugafweerwag om haar uit te trek en haar brandende klere met water te blus. Terwyl sy dit nou vir ons vertel, wys haar ontstelde gesig weer haar destydse sielswroeging. Kort na haar redding het sy reeds onseker begin loop. 'n Paar dae later het sy begin struikel. Haar loop het steeds meer onseker geword totdat haar bene uiteindelik ten volle verlam was. Alle doktersbehandelings was onsuksesvol en nou sit die meisie in die merkwaardige stoel wat professor Fischer so laat skrik het.
Terwyl die meisie klaar vertel, kom die professor tot die volgende gevolgtrekkings:
As Groening geheimsinnige genesende kragte in die stoel agtergelaat het, dan sou hierdie kragte ook in sy afwesigheid 'n effek op siekes moet hê. Hy vertel kortliks vir die meisie van Groening en dat hy in hierdie kamer reeds talle verlamdes gehelp het. Hy doen nog iets verder, hy wys haar die foto van Groening. Dan beveel hy haar met innerlike spanning gelaai: "Staan op!" Hy het gedink dat Groening op 'n soortgelyke manier sou optree. Die meisie se gesig het gestraal en sy het amper uit die stoel opgespring. Sy was so oorweldig deur die vermoë om op te kan staan dat sy aanvanklik nie 'n tree kon beweeg nie. Die professor beveel haar nogmaals: "Loop nou!" Lanzerath, wat langsaan gestaan het moes die meisie liggies by die hand neem. Toe stap sy met onseker treë en met trane van vreugde dwars oor die kamer tot by die stoel waarin haar volkome oorstelpte moeder gesit het. Daar het sy inmekaargesak. Die eksperiment moes 'n tweede keer herhaal word. Ook by die tweede probeerslag wys Fischer vir die pasiënt die foto van Groening. Hy stel tekens van versterkte bloedvloei vas met rooiword en warmte ontwikkeling in die bene wat tot op daardie tydstip verlam was. Die meisie staan weer op. Die professor versoek haar om 'n paar keer op te staan en weer te gaan sit. Die opstaan word al hoe beter. Uiteindelik was die meisie in staat om die hele pad uit die kamer oor die werf tot die oorkantste straat te loop, van waar sy per motor na familie in Herford geneem is.
Ons almal het die eksperiment met asemlose spanning gadegeslaan. Nog dieselfde aand laat weet ons vir Revue dat ons verblyf in Noord-Duitsland verleng moet word. Daar was nou geen twyfel meer dat Groening 'n fenomeen was wat met die beplande kliniese eksperimente duidelik gemaak moes word nie. Ons wou die volgende dag met Groening in verbinding tree om die weg voor te berei na die dokters van die universiteitskliniek van Heidelberg sodat hy sy vermoëns aan hulle kon bewys.
| Verloop van die gebeurtenisse rondom Bruno Groening
sedert Maart 1949 Die verwarring van hierdie gebeurtenisse is so groot dat dit slegs met baie moeite moontlik is om dit vir buitestaanders in 'n enigsins verstaanbare orde te bring. 18 Maart 1949 Groening se ster verrys skielik in Herford. Die oënskynlike of werklike genesing van die ingenieur Hülsmann se seun Dieter wat aan spieratrofie gely het, word openbare kennis. Die nuus van verdere genesings sluit hierby aan. Gerugte en verslae versprei soos die wind. Groot skares van siekes versamel voor die huis van Hülsmann in Heford, Wilhelmsplatz 7, waar Groening vertoef. 4 April 1949 Begin van die openbare genesingswerk van Groening in Herford. Geweldige reperkussies. Groening word die wonderwerker van Herford. Deels word hy tot 'n soort van messias verhef, des te meer omdat hy sy werke toeskryf aan goddelike kragte. 27 April 1949 As gevolg van die massa toestroming van siekes tree die outoriteite tussenby, in die besonder die gesondheidsoutoriteite. Groening en Hülsmann word ontbied na 'n bespreking met die leier van die gesondheidsdiens in Herford, die medikus dr. Siebert. Siebert verklaar dat hy tot dusver Groening se aktiwiteit stilswyend geduld het maar nou moet hy weens die groot aantal siekes, uit hoofde van sy verantwoordelikheid vir die openbare gesondheid ingryp. Hy probeer om Groening se besonderhede vas te stel op 'n taamlike lomp en ietwat uitdagende manier. Groening betwis sy reg daartoe en nooi hom uit om eerder persoonlik na sy plek van werk te kom sodat hy homself kon oortuig van die metodes en suksesse. Siebert wys dit van die hand met die verskoning dat hy homself nie so kan blootstel nie. Tydens die volgende dae Driekeer 'n bespreking tussen Hülsmann, dr. Siebert en die Herfordse kriminele inspekteur Auer. As entoesiastiese aanhanger van Groening, dring Hülsmann aan alhoewel nie te taktvol nie, dat die menere hulleself van Groening se suksesse moet kom oortuig. Daar was 'n afwysende houding van Siebert maar Auer het hom objektief gedra. 30 April 1949 In die lig van die toenemende toestroming van genesingsoekendes en groeiende moeilikhede met die outoriteite, hou Groening in Hülsmann se huis 'n soort van perskonferensie. Die pers het intussen die geval Groening opgeneem, dit gesensasionaliseer en talryke verkeerde berigte en verdraaiings gepubliseer. Die hoof stadsdirekteur van Herford, Meister, tesame met die superintendent Kunst kom na hierdie konferensie. Groening stel die foutiewe berigte reg. Tussen die ietwat onsekere en terughoudende Groening wat nóg van onderhandelings met dokters, nóg van omgang met persmense ervaring gehad het, en die orige aanwesiges, kom dit nie tot enige verstandhouding nie. Vrees deur die outoriteite vir versteuring van die openbare orde deur die massa toestroming van siekes, wantroue of openlike afwysing deur die dokters en gebrek aan objektiwiteit deur die pers, tree na vore. 3 Mei 1949 Die hoof stadsdirekteur van Herford besoek Groening in die huis van Hülsmann. Hy kies self 'n vrou met verlammingsverskynsels uit die skare wagtendes en bring haar na Groening. Groening bereik 'n duidelike sukses met die vrou. Meister vertrek, hoogs beïndruk. 3 Mei, namiddag Desnieteenstaande stuur die hoof stadsdirekteur die namiddag aan Groening 'n verbod op enige verdere genesing. Dit het 'n drie weke afsnyperiode gehad vir die aanteken van besware. Die verhouding tussen die outoriteite, Groening en die wagtende massa waarby daar in die voorafgaande weke talryke merkwaardige genesings voltrek is, word steeds ingewikkelder. 13 Mei 1949 Eers tien dae na die verbod, wat blykbaar gebaseer was op die wet op alternatiewe genesing van die Derde Ryk, daag 'n mediese kommissie by Hülsmann se huis op. Dit bestaan uit die direkteur van stadshospitale in Bielefeld dr. Wolf M, die direkteur van die sanatoria in Bethel prof. dr. Schorsch en die medikus dr Rainer uit Bielefeld. was Verder was die hoof stadsdirekteur Meister en superintendent Kunst aanwesig. Kunst en Wolf probeer objektief bly maar dr. Rainer is heeltemal negatief. Hy verklaar: "Menere, alles wat u hier sien is vir die mediese wetenskap niks nuuts nie. Ons kan dergelike gevalle met die dieselfde sukses behandel. As ek hier kom, wil ek wonders sien." Die alliansie van Groening se mediese teenstanders en die radeloosheid van die outoriteite teenoor die massabewegende fenomeen Groening word bevestig. Dit word Groening nogtans aangebied om voor 28 Junie in alle universiteitsklinieke van die Britse sone van Duitsland sowel as in die stadshospitale van Bielefeld of die kliniek in Bethel na ooreenkoms met die hoofmedici, sy geneesvermoë in klinies gekontroleerde gevalle te bewys. In die daaropvolgende dae Ten spyte van mondelinge en skriftelike kennisgewings deur Groening en sy assistente oor die geneesverbod en die sinneloosheid daarvan om te wag, hou die genesingsoekendes voor die huis van Hülsmann uit. Daar vind ook genesings plaas wat moeilik kontroleerbaar is en slegs deur afstandswerking van Groening op die wagtendes verklaarbaar is. 20 Mei 1949 Groening verklaar hom bereid om sy geneesvermoë in die stadshospitale van Bielefeld te laat bewys. Hy draai egter tog tydens die reis na prof. Wolf weer om omdat hy instinktief gevoel het dat die medici vir hom een of ander hinderlaag sou stel. 'n Mnr Klemme, wat deur Groening genees is, het daarby 'n rol gespeel. Klemme stel aan Groening voor om die stryd met die Herfordse outoriteite op te gee en liewer te gaan onderhandel met die distrikspresident Drake in Detmold, wat hy goed ken. 23 Mei 1949 Die verbinding met Drake vind onder ongelukkige omstandighede plaas. Op aandrang van 'n mnr Egon-Arthur Schmidt wat in Groening se geselskap opgeduik het en homself 'n lektor noem, maak Groening op die vooraand van die besoek 'n sogenaamde afstandsdiagnose van die gesondheidstoestand van Drake. Die afstandsdiagnose van Groening is 'n heel besondere gebeurtenis wat nie sonder meer met mediese begrippe verklaar kan word nie. (In opvolgende berigte van Revue sal dit nog indringend bespreek word). Oortuig van Groening se vermoë lê Schmidt die afstandsdiagnose voor aan Drake. Dié vind 'n paar foute daarin. Die Detmoldse openbare gesondheidsamptenaar dr. Dyes, 'n uitgesproke teenstander van Groening wat ook aan die bespreking deelneem, kry daardeur die oorhand. Hy verklaar woordeliks aan Groening dat hy kan maak en bewys wat hy wil, die genesingsverbod sal nie opgehef word nie. (Hierdie verklaring van dr. Dyes is deur homself aan Revue se medewerker prof. dr. Fischer bevestig.) Dyes se woorde het 'n rampspoedige uitwerking op die verdere ontwikkeling. Groening se instinktiewe wantroue teen die medici word bevestig en maak 'n sinvolle ontmoeting van sy kant af ook onmoontlik. Dr Dyes het nie vir Groening op die uitsluitingsparagrawe van die wet op alternatiewe genesing gewys nie. Daarvolgens kon daar, met behoud van die wetsparagrawe, in uitsondelike gevalle tog spesiale vergunning gegee word vir beoefening van 'n genesingspraktyk. 24 Mei 1949 Bespreking tussen Groening en die stadsdirekteur Wöhrmann, verteenwoordiger van die hoof stadsdirekteur Meister wat op verlof is. Wöhrmann verklaar volgens die uitspraak van agt getuies ongeveer die volgende: as daar 'n duisend mense op genesing wag voor die huis by Wilhelmsplatz nr 7, dan interesseer hierdie skare hom nie. Die genesing van die siekes is van sekondêre belang. Al wat hom interesseer is sieleheil en vergewing van sondes. Alle liggaamlike lyding is klein in verhouding met die heil van die siel. Aangesien Groening op sy vraag of hy ook die vergewing van sondes kon doen, geen antwoord gee nie, is hy heeltemal ontevrede met die gesprek met Groening. 7 Junie 1949 Opnuut 'n besoek van 'n mediese kommissie aan Groening, hierdie keer insluitende Wöhrmann en dr. Siebert. Die onderhoud duur vyf uur. Die verbod op alle genesende aktiwiteite geld steeds. Die keerdatum vir besware word tot 29 Julie uitgestel. Die welbekende aanbod om sy genesingskuns in hospitale te bewys word weereens aan Groening gemaak. Weens die diepgewortelde wantroue van Groening gebeur dit nie meer nie. (Prof. Fischer stel as Revue afgevaardigde later vas dat hierdie wantroue nie ongeregverdig was nie.) 18/19 Junie 1949 Om die duisende siekes wat by die Wilhelmplatz op Groening wag, te kalmeer, word Wöhrmann gedwing om die genesingsverbod tydelik te verslap. 20 Junie 1949 Die persone wat wag om genees te word demonstreer voor die stadsaal en die woning van Wöhrmanns. Die polisie is magteloos. 21 Junie 1949 Die verbod word nog 'n keer verslap. 24 Junie 1949 Hoof stadsdirekteur Meister keer terug en bevestig die verbod. Nuwe demonstrasies. Die verwarring van die omstandighede word steeds slegter. 25 Junie 1949 Op uitnodiging van die Hamburgse groothandelaar Westphal, wie se asma deur Groening ietwat opgeklaar is, vertrek Groening na Hamburg. Hy hoop om aldaar sy genesende werk te kan voortsit. Dit blyk egter ook in Hamburg onmoontlik te wees. 29 Junie 1949 Groening verlaat Hamburg vir 'n onbekende bestemming. Hy is in die geselskap van Hülsmann en sy vrou. Die publiek en die polisie kan hom nêrens opspoor nie. |