Persoorsig van destyds, Duitsland:
"Zeitungsblitz", spesiale uitgawe oor Groening se suksesse, uitgawe Nr.1, begin Sep. 1949

sonderblatttitel.jpg (30977 Byte)

"Die nag van die groot genesings"

In die volgende reëls bring ons u 'n objektiewe feitelike berig van ons spesiale verslaggewer wat as verteenwoordiger van die pers op 27 en 28 Augustus 15 uur lank aan die voete van die groot geloofsgeneser Bruno Groening kon deurbring saam met etlike honderde mense wat die pogings tot genesing by die Traberhof ervaar het.

Die eerste genesings van die dag

Ons korrespondent berig:

Reeds die oggend het vir vele van die genesingsoekendes wat tot die middag in spreekkore na "hulle Groening" geroep het, groot geluk gebring toe hy hom in 'n kort toespraak tot die wagtendes gerig het. Daarvan wil ek egter nie vertel nie, maar eerder van die selfmeegemaakte, unieke en onvergeetlike ure van die namiddag en die aand:

Op een of ander manier is die lug besonder met spanning gelaai, weens een of ander oorsaak is daar vandag, Saterdag, besonder baie siekes en nuuskieriges voor die Traberhof saamgetrek, en hierdie spanning styg van uur tot uur, toe dit bekend word dat mnr Groening vanaand nog 'n keer die wagtendes sou toespreek. Filmapparaat word op die balkon, terras en parkeerplek opgestel en die toestroming van mense neem steeds toe.

Ek vra intussen uit na die nuutste genesingsuksesse, wat ek dink ek die leser en die kring om Groening verskuldig is met nugtere rapportering sonder om sensasiebelus te wees.

Dan word ek deur mev Würsti uit Rosenheim, Münchnerstr. 42 op 'n geloofwaardige manier vertel dat sy tot vanmiddag weens haar verlamming nie kon buig nie en geen voet van die grond kon lig nie. Stralend van vreugde gaan sy vir die eerste keer sonder die hulp van iemand anders haar eggenoot tegemoet na die toespraak van Groening en kan weer buk soos enige gesonde mens.

Net soos mnr Haas van München staan 'n vrou uit Endorf uit haar rolstoel op, iemand wat ons almal altyd net as lêend geken het, en probeer vir die eerste keer te loop.

Ek gaan sit aan die tafel van 'n kennis wie se vrou die filmaktrise Karin L e m b e c k uit München-Laim as opvallende brunette aan al die "lang blywende gaste" bekend is. Sy vertel my van die genesing van die maandelange verlamming van haar linkerarm wat daardie oggend oor die telefoon om tienuur deur Groening plaasgevind het. Vanaf die oomblik van aankoms by die Traberhof gaan die "stralekrans" van Groening oombliklik en so skielik aan die werk dat mev L. koue rillings kry en uitroep: "Om Gods wil, wat is aan die gang met my arm? Ek kan hom nie meer voel nie!" - en met dieselfde "afwesige" en verlamde arm wat sy vroeër nie eers tot tafelhoogte kon lig nie, reik sy onwillekeurig na haar gesig en 'n paar oomblikke later volkome onbehinderd oor haar baie groot sonhoed. Deur innerlike ontroering bars sy in trane van vreugde en dankbaarheid uit, trane wat alle woorde onnodig maak. Eers ure later is sy in staat om met 'n hart vol dankbaarheid mnr Groening se hand te skud, maar die groot helper weer dit beskeie af: "U moet my nie bedank nie maar die groot Skepper daarbo wat my die krag geskenk het om reeds vanoggend in 'n telefoongesprek met u man hierdie genesing in werking te stel wat God sonder my toedoen op die oomblik van binnekoms reeds voltrek het. U geloof het u gehelp, mevrou!"

'n Tweede dame, mev Wagner van München-Laim, uit dieselfde distrik as mev Lembeck, ly reeds vier jaar aan 'n brein embolisme met (intussen reeds verbeterde) senuwee verlamming aan die linkerkant, word op 'n afstand behandel deurdat Groening in die boonste kamer op haar konsentreer. Ons volg die uitwerking gespanne maar weens die heersende drukte kon die dame nie die nodige konsentrasie tot stand bring nie. Om dieselfde rede was 'n latere poging die nag in die meester se persoonlike teenwoordigheid ook onbevredigend, aangesien die innerlike gereedheid, die geestelike konsentrasie en die bykomende voorstelling net 'n paar uur na die afstandsbehandeling erg belemmerend was.

Hier, soos in twee verdere gevalle, word weer duidelik bewys dat 'n aandrang op 'n privaat onderhoud met Groening onder die aanname dat die telepatiese behandeling gefaal het, maar net 'n teken van wantroue in die groot geneser is.

En nou is die tyd skielik daar. Dig teen mekaar staan die honderde mense. Dit is reeds halfagt in die aand. Die perde is lankal reeds van die weiveld weg en die son strooi goud oor ons pragtige blou berge. Die spanning styg, word amper ondraaglik. Dan word Groening toegejuig as hy kortliks op die balkon verskyn. Hy vra om 'n paar minute se geduld om homself in stilte in te stel op die baie mense op wie hy wil konsentreer. Mnr S. uit sy groep van medewerkers, dui aan dat die siekes na vore moet beweeg binne die gesigsveld en verduidelik saggies wat hulle moet doen: die hande oop met die palms na bo, moet op die bobene rus, die bene langs mekaar maar nie teenmekaar nie, die gedagtes moet afgewend word van siekte - dit is sy raad. Juis hierdie spanningsbelaaide, stille verwagting, hierdie innerlike geestelike voorbereiding op die oomblik van die inwerking van die genesende krag van Groening, veroorsaak die grootste moontlike genesingsukses. 'n Sagte fluistering gaan deur die skare. Dis onmoontlik om die situasie en stemming weer te gee, hierdie ontroerende, gelowige atmosfeer te beskryf, waarin hierdie arme siek mense met al hulle sigbare en onsigbare lyding, met min of meer vaste geloof op die oomblik van genesing wag.

Intussen het 15 minute verloop met die voorbereiding vir 'n dokumentêre opname, minute wat 'n mens voel net eenmaal beleef kan word, so 'n energie-belaaide verwagting dat 'n mens jou eie hart sowel as die van jou buurman kan voel klop. 'n Medewerker van Groening vra intussen verskeie mense waar hulle vandaan kom. Plekke uit alle oorde en sones van Duitsland word genoem: Die Allgäu, Schwabenland, Keulen en Frankfort, van Opper- en Onder-Beiere, van die meer van Konstanz en die Noordsee, ja selfs uit Berlyn en natuurlik baie van die onmiddellike omgewing. Dit was later vir Groening 'n persoonlike plesier dat 'n ou oorlogskameraad wat onder die skare teenwoordig was, hom opgesoek het en vertel het van die swaar lot van Russiese gevangenisskap in Karelië en Finland. Die mensemassa word weereens versoek om geen vrae aan Groening te rig nie maar om hulle heeltemal in te stel op dit wat hy sou sê

Groening praat met die wagtendes

Skemer het nou reeds gedaal. Van alle kante skyn die vloedligte en die filmapparate begin saggies loop. Alle ander geluide verstom en alle oë rus op die balkon waar mnr Groening om 20:15 verskyn saam met sy gasheer, medewerkers en geneesde persone. Nou volg 'n paar minute van diepe stilte, waarin die groot helper van die mensdom sy hande vou en na die hemel kyk. Dan maak hy volle kontak met die gelowige genesingsoekendes, deur na elke ontroerde gesig te kyk.

Nou begin Groening praat, in sy diep simpatieke stem wat soveel mense kan boei, eenvoudige woorde wat van diepste gevoel getuig:

"My liewe genesingsoekendes! Vandag, soos elke ander dag, kom mense hiernatoe, arme lydende mense wat genesing soek en dit ook sal kry. Daar is egter ook mense wat uit nuuskierigheid kom, party wat self weet dat hulle skepties is. Ek voel dit baie duidelik en ek wil julle vra om julle gedagtes meer te verskuil en eers toe te laat dat die feite julle oortuig. Hier gaan dit nie om vermaak en 'n goedkoop demonstrasie van wonderwerke nie, daarvoor is die oomblik te ernstig en die leed van die mense om my heen te groot.

Ek het niemand hierheen geroep nie. In teendeel ek het u gevra om te wag tot die dag waarop julle op geordende wyse hulp kan ontvang.

Wie nie aan my glo nie hoef nie meer te kom nie!

Ek weet dat baie van julle op hierdie oomblik reeds op pad na genesing is! Ek is van plan om hier in O p p e r - B e i e r e te bly en ek wil u vra om geduld te hê totdat openbare genesing vergun word en die genesingsentrums opgerig is. Net hy wat die goddelike geloof in hom het, het die reg op genesing. Ongelukkig is daar mense wat dit jare gelede reeds verloor het of deur die modder gesleep het.

Ek sê vir julle: Die enigste dokter, die dokter van alle mense is en bly onse God die Here. Net Hy alleen kan help. Hy help egter net gelowiges wat bereid is om hulle ou siektes weg te gooi. Julle hoef nie aan die klein Groening te glo nie maar vertroue in my moet julle hê. Ek soek nie julle dank nie, aan God alleen kom dit toe - ek doen net my plig!

Aangesien julle nie ingelig is nie, wil ek julle graag vertel: laat julle vrees en geld by die huis maar bring julle siektes en baie tyd saam waarvan ek julle sal beroof. Julle moet almal menslik wees met mekaar, nie hatig of vals nie. Moet niks sleg aan iemand doen nie en moet nooit afgunstig wees nie. Die beste en grootste geskenk op aarde is nie rykdom of geld nie maar gesondheid wat meer werd is as enige besitting op aarde. Julle het van my medewerkers verneem wat julle moet doen ten einde die grootste moontlike werking te voel. Ek wil geen openbare genesing hier doen nie! Ek moet eers seker wees dat ek in die openbaar mag help. Tog was dit nog altyd so gewees dat mense wat in my nabyheid is, genees is. Julle hoef my niks van julle lyding te vertel nie, ek sien deur julle en weet alles van julle af!"

Mnr Groening gee nou 'n paar eenvoudige voorbeelde van die krag van sy invloed wat deur uitroepe bevestig word. Dan gaan hy voort:

"Nou het elkeen ontvang wat hy wou hê maar net dié wat verbonde voel met sy God.

As alles goed gaan wil ek met hierdie plek as kern verskeie genesingsoorde oprig, in noue samewerking met die dokters, om almal te help. Aan almal wat namens hulle siek familielede hierheen gekom het, wil ek sê:

‚Ek is reeds by hulle!‘

As julle huistoe gaan sal julle vind dat die siekes nie meer in presies dieselfde toestand is as toe julle hulle verlaat het nie!"

Langdurige applous bedank die onselfsugtige man vir sy woorde.

Twee regeringsbeamptes vir Groening

Heel onverwags kom mnr P i t z e r, hoof van polisie in München uit die agtergrond na vore:

"My liewe Rosenheimers! Ek praat hier uit my huidige persoonlike ondervinding. In die eerste plek het ek hierheen gekom as 'n siek mens, maar ook as 'n Beierse amptenaar en waarnemer. Ek het nog nooit in my lewe so'n uitstekende diagnose, selfs van beroemde professore, gekry as hier van mnr Groening nie, binne enkele oomblikke en sonder dat hy my liggaam aangeraak het. Ek persoonlik glo vas aan my genesing en ek neem tot by die hoogste regeringsvlakke verantwoordelikheid vir dit wat hier plaasvind, of dit nou sekere mense - u weet wie ek bedoel - pas of nie. Die deurslaggewende is dat siekes gehelp word. Ek was vir vier jaar fetilik dag en nag op diens en het daardeur 'n ernstige siekte op die hals gehaal, waarop ek reeds 'n fortuin bestee het, met geen sukses nie. Ek praat vir myself en namens julle almal - en dit moet orals gehoor word, omdat ek gesond moet bly vir alle ordentlike mense. Ek dank u, mnr Groening, vir die hulp. Mag God u krag gee om baie mense te help wat met vaste geloof en oop harte na u kom.

Volhard net volle vertroue in Groening se genesingskrag en help almal saam om die laaste probleme op te los. My vriend in die plaaslike parlement sal daarvoor sorg dat eendag, miskien spoedig, mnr Groening 'n lisensie vir genesing ontvang."

Hierop neem die parlementêre afgevaardige H a g n die woord:

"Ek wou nie eintlik praat nie omdat ek baie skepties oor die hele Groening aangeleentheid was, en myself wou oortuig van wat hier gebeur. Ek het vandag sulke hartroerende gebeurtenisse belewe, dat ek nie woorde het om dit te beskryf nie. Meer kan ek nie sê nie. Ek vra julle almal: Glo aan die

roeping van mnr Groening!"

Weer is daar luide applous van die ontroerde skare.

Die nagtelike genesings in Traberhof

Nou praat Groening van die balkon af met enkele ernstige en tragiese gevalle van verlamming.

Mev Monika B a u m g ä r t n e r van Bad Aibling, wat reeds dae lank by die Traberhof wag, het jare gelede by die berg Watzmann afgeval. In die ongeluk is haar ruggraat beseer an haar onderlyf verlam. Nou wend sy 'n groot poging aan om met die grootste inspanning en geweldige sweet, vir die eerste keer in jare op te staan al is dit ook net vir 'n kort rukkie. Nou doen Groening 'n beroep op ander siekes met verlamde of stywe ledemate om dit te beweeg of te buig. Ek kan met moeite deurdring tot by die betreurenswaardige invalide mnr Georg Aigner van Rosenheim-Thallerbräu, wat nou stralend van vreugde en met harde klapgeluide vasberade demonstreer hoe hy sy gewrigte kan buig. Trots sit hy sy regterhakskeen op sy linkerknie en omgekeerd. Dit was vir die skeptici die tweede geval wat al die teenwoordiges oortuig het. Uiteindelik, by 'n meesterbakker van Bad Aibling, verdwyn 'n jarelange senuweeskok binne 'n paar minute. Die geringe oorblywende simptome, belowe Bruno Groening, sal binne enkele weke heeltemal verdwyn.

Groening praat weer met die verbaasde skare:

"As daar verbeterings ingetree het by julle familielede en vriende by die huis, laat my asseblief weet. Gebruik vandag se datum as verwysing, sodat ek kan weet hoeveel genesings daar vandag was.

Ek wens julle almal 'n baie goeie nagrus toe en volledige genesing in die naam van God."

Daarmee gaan die groot geneser met sy medewerkers terug in die huis, om sonder onderbreking van vroeg die ogggend af, verder aan die dokters en die pers gevalle van sy genesingskuns met sukses te bewys.

Terwyl ek tot dusver uitsluitlik by die siekes gebly het om ten nouste kontak met hulle te behou, kon ek nou op uitnodiging van die Hawart familie, persoonlik die behandeling van die ernstigste gevalle bywoon. Deur die lang ry van mense wat in die vertrek wag, betree ek die privaatvertrekke. Ten spyte van al my objektiwiteit, kon ek nie help om bewus te word van 'n kragtige aura nie. Mnr Groening kom na my en druk my hand. 'n Oomblik voel dit asof sy sterk maar vriendelike blik dwarsdeur my kyk. Sy eerste woorde aan my getuig van die groot teleurstelling wat hy al met die pers beleef het.

Gedurende 'n paar interessante behandelings van kinderverlamming met sigbare sukses, word omtrent middernag 'n kring voorberei in die eksotiese glashuis. Onder die lig van vier vloedligte versamel 24 mense, waaronder 'n dokter van twee pasiënte, dr. Meyer van die hospitaal vir gestremdes van Bad Tölz, sowel as 'n vroulike dokter, 'n mediese student en mense wat ander help wat nie kan loop nie. Die reën dreun op die glasdak en die drie fotograwe rig hulle kameras op die pasiënte. Elke afsonderlike geval word voor en na die behandeling verfilm om 'n dokumentêre film te maak vir publieke inligting. Soos altyd berei Bruno Groening homself voor in 'n sykamer. Sy assistent mnr Schmidt verskyn en vra ook hier die aanwesiges om hulle innerlik en uiterlik voor te berei. Dan maak hy die verbluffende opmerking - blykbaar as medium van Groening - dat daar onder die aanwesiges 'n man is wat sy ongegronde skeptisisme moet verander of die vertrek moet verlaat, om die psigiese verbinding met die genesingsoekendes nie te onderbreek nie. Dog niemand verlaat die vertrek nie.

Dan verskyn Groening in die deur en vra die aanwesiges om net te konsentreer op wat in elkeen se eie liggaam plaasvind.

Groening betree die kring en hou hom intensief besig met mev Baumgärtner, uit Bad Aibling wat weereens persoonlik aan hom voorgestel is. Dit word stil. Afwisselend begin die kameras te draai. Skielik draai Groening na die pasiënt en vra: "En wat voel u nou?" Gewoonlik lui die antwoord dan: 'n gekriewel in die voete en 'n trekgevoel in die kuite, 'n steekpyn in die blaas of nierarea, 'n heftige gerommel in die ingewande, 'n drukking in die maagholte of daar is 'n sigbare en heftige geskud van die hele liggaam. So is die behandelingsimptome by feitlik alle mense. Nou konsentreer die meester sentimeter akkuraat op die aangetaste deel wat die verlamming veroorsaak het. Hy laat mev B. driemaal diep asemhaal. Dan skree die pasiënt skielik "deur!". Groening wend hom nou af van die pasiënt sodat sy hom nie kan sien nie en beduie met verbluffende gebaretaal vir die dokters hoe 'n mens 'n bepaalde senuwee, sonder operasie, kan afsny en weer aanwerk terwyl die pasiënt hom verbeel dat hy al die pyn van die operasie voel. In die verdere behandeling voel die pasiënt "lig", sy kan haar liggaam skaars voel, toon almeer euforiese gevoelens, swaai haar linkerarm op, druk op die stoel se leuning en wend 'n tweede poging aan om op te staan.

"Sy sal binnekort weer loop!" - is Groening se diagnose.

Behandeling van moeilike gevalle

Evelyn G s c h w i n d uit M ü n ch e n is 'n agtjarige meisietjie wat tot dusver vir jare feitlik blind was met ernstige skade aan die kornea en het reeds vyf operasies ondergaan. Na 'n paar behandelings op dieselfde dag sien sy reeds meer, sonder bril, as wat sy nog ooit kon sien, byvoorbeeld a verbysnellende trein op 500 meter. Die sluier voor haar linkeroog neem Bruno Groening weg deur haar linkerhand oor die oog te laat hou en dan vinnig weg te trek op sy bevel. Hierna kan sy elke besonderheid in die vertrek sien en opnoem.

Nou versoek Groening drie mans wat vroulike pasiënte begelei om op die balkon te gaan staan aangesien hulle teenwoordigheid steurend werk op die pasiënte. Dan deel hy balletjies uit wat hy van die silwerpapier uit leë sigaretdosies self gerol het en wat skynbaar magnetiese krag het. Hulle is so gesog dat hulle reeds op die swart mark - natuurlik as vervalsing - in München te koop aangebied word.

Hierdie "kragdraertjies" moet kontak met Groening moontlik maak oor lang afstande om so die nodige konsentrasie te vergemaklik wat vir afstandsgenesing noodwendig is.

Intussen begin dit lig te word in die ooste maar die meester toon geen teken van moegheid nie. Die krag vir sy uitvermoë dra hy skynbaar oor op sy besoekers want niemand wil die "wonderplek" verlaat nie. Slaap is vir Groening 'n vreemde begrip. 'n Vinnige handbeweging van sy voorkop oor sy markante skedel na die agterkop laat enige sweem van moegheid verdwyn. Daar is heeltyd 'n sigaret in sy hand en hy eet net klein porsies.

Dan word die man wat so in aanvraag is weer na 'n ernstige geval in die agtertuin ontbied, waar die 35-jarige mnr Fischhaber uit Bad Tölz reeds dae lank op sy laaste hoop wag. Weens 'n slee- en motorfietsongeluk het mnr Fischhaber gedeeltelike verlamming van verskeie liggaamsdele opgedoen wat sedert Mei 1949 steeds versleg het. Drie mediese verslae van bekende professore van München wissel tussen petrolgasvergiftiging, ruggraatbesering, swelling van die hoof senuweekanaal en die nuutste vasstelling deur die dokter wat hom vandag na Groening bring, van 'n tussenharsing letsel. Reeds twee maande van te vore was mnr Fischhaber in Herford by Groening wat hom genesing belowe het. Terwyl die niersiekte wat deur jarelange gebruik van medisyne veroorsaak is, na die besoek aan Herford ten volle verdwyn het, bly die ander siekteverskynsels gedeeltelik onveranderd. Die voorbereiding vir hierdie oggendkonsultasie het Groening reeds die vorige aand met afstandsgenesing deur sy medium gedoen, waartydens mnr F. 'n gekriewel in sy linkerhand en linkerkuit gevoel het, sowel as spierpyne in sy linkervoet.

Die rede vir die afwesigheid van genesing of verbetering tot op hede gee mnr Groening in 'n opsienbare "heldersiende" verklaring deur te sê:

"Pasop vir 'n egpaar wat u bevriend het wat u nie goedgesind is nie. Die vrou het swart hare, die man is donkerblond met 'n paadjie in sy hare en is omtrent 1,7 m lank. Hierdie man sal - as jy presies wil weet - twee dae na jou terugkeer van hier af en wel om 6 uur in die aand u huis besoek. U sal hom herken omdat hy - voor hy nog die deur toemaak - sy neus in 'n wit sakdoek sal blaas. Tot op hede verhinder hierdie man u genesing omdat hy al openlik neerhalend daaroor gepraat het. Hierdie persoon staan tussen u en my en belemmer die nodige kontak. Vermy hierdie man en u sal binnekort gesond wees."

Die laaste woorde van die genesingbringer waarmee hy my groet en wat rigtinggewend vir sy toekomstige werk is, was:

"Ek sou graag pasiënte in 'n paar minute wou genees met die volgende woorde:

GOEIE DAG! U WAS SIEK! TOTSIENS!

A. Stecher

Opmerking van die redaksie!

Tot sover die berig van ons korrespondent wat ons weergee sonder om standpunt in te neem.

Ons lesers kan op grond van die feiteverslag self 'n oordeel vel oor die "genesing" van Groening en of sy toekomstige toelating as "dokter van natuurgenesing" in die belang van die baie siekes en gestremdes nodig is.

Aangesien Groening van plan is om voorlopig langer in die Traberhof by Rosenheim te bly, sal ons ter gelegener tyd verdere spesiale uitgawes publiseer.

Dis nie vir ons moontlik om briewe of ander korrespondensie aan mnr Groening deur te gee nie. Vanselfsprekend kan enige geïnteresseerde briewe (sonder foto's) of ander mededelings aan sy adres

Mnr Bruno Groening, Rosenheim-Land, Traberhof

rig. Ander adresse wat miskien op die swart mark rondgaan is vals. Persoonlike besoeke, vra mnr Groening, moet uitgestel word totdat hy amptelike toelating verkry.