MWF - Die Medies-wetenskaplike studiegroep
'n Internasionale forum vir die geneeskundige beroepe
Toe die Hamburgse dokter Matthias Kamp in 1984 die eerste keer van Bruno Groening se leerstellings oor geloofsgenesing hoor, was hy aanvanklik skepties. Tog lei sy wetenskaplike nuuskierigheid hom later daartoe om 'n nadere studie te maak van die genesings wat andersins nie wetenskaplik verklaar kon word nie. Kort daarna sluit ander dokters by hom aan en saam met hulle stig Matthias Kamp die Medies-wetenskaplike studiegroep MWF. (Die Duitse naam is Medizinisch‑Wissenschaftliche Fachgruppe en die afkorting MWF word so in alle tale gebruik.) Dit het intussen uitgebrei tot 'n forum vir duisende medici en ander vaklui in die geneeskundige beroepe uit die hele Europa wat hulself verbonde voel met die gees van Bruno Groening.
Matthias Kamp is die skrywer van die boek "Bruno Groening - 'n Ommekeer in die medisyne" ("Bruno Groening - Revolution in der Medizin") (tweede druk, 1994) waarin hy nie alleen 'n lewendige portret skilder van hierdie uitsonderlike mens nie, maar ook die geldigheid en groot betekenis van geloofsgenesing vir die hedendaagse gesondheidswese postuleer.
Deur publikasies, lesings in verskeie grootstede in sowel Europa as in die buiteland en mediese simposia wat tweemaal per jaar in Keulen en Wene plaasvind, wil die dokters wat met Matthias Kamp saamwerk die weg baan vir algemene aanvaarding van geloofsgenesing, wat vandag in Duitsland nog steeds met ongeloof en verwerping bejeen word. In Groot-Brittanje word dit reeds vir dekades as terapie aanvaar en geïntegreer met kliniese versorging en die nasionale gesondheidsdiens.
Die verskynsel van geloofsgenesing is vir die hedendaagse wetenskaplik geöriënteerde persoon steeds moeilik om te aanvaar want dit het geen rasionele, intellektuele verklaring nie en het dus 'n aura van misterie. Hier tree die aktiwiteite van die MWF in. Deur die suksesberigte wat aan hulle voorgelê word aan mediese ondersoek te onderwerp, probeer hulle om 'n objektiewe beeld te kry van die genesing wat plaasgevind het. Hierby kom vir sover dit moontlik is, dokumentasie deur onafhanklike medici van die toestand, voor sowel as na die genesing.
Op hierdie wyse is daar in die laaste jare 'n argief opgebou wat op indrukwekkende wyse bevestig dat ook organiese, selfs degeneratiewe siektes deur geloofsgenesing genees kan word. Die argument dat die geloofsgenesing slegs die gevolg van blote suggestie is, hou in die lig van die beskikbare dokumentasie van die gevallestudies nie water nie.
Die vaklui wat meewerk in die MWF, doen dit kosteloos en uit dankbaarheid vir genesings wat hulle self of aan ander beleef het. Hulle begeerte is dat soveel as moontlik kollegas in die mediese beroep hulle terughouding sal laat vaar en hulleself daarvan sal oortuig in hoeverre geloofsgenesing volgens die leer van Bruno Groening ook tot genesing kan lei.