God is die grootste geneesheer
Daar is geen ongeneesbaar nie
Vertrou en glo – ’n voorvereiste vir genesing
Werklik genees kan slegs God, geen mens nie. God is die grootste geneesheer. Vir Hom bestaan daar geen ongeneeslike, geen onmoontlike nie. Steeds weer sê Bruno Gröning: "Vertrou en glo, die goddelike krag help en genees!"
Al wat hy van 'n hulpsoeker verwag is die bereidheid om hom met vertroue tegemoet te kom en die geloof in God en Sy genesende krag en eie genesing op te neem. As 'n mens aan hierdie voorwaarde voldoen, kan Bruno Gröning help. Selfs wanneer die geloof van 'n individuele mens te swak is, bied hy sy hulp aan: "As jy vandag nog nie kan glo nie, wil ek dit vir jou doen totdat jy werklik glo. En as jy vandag nog nie kan vra nie, nie kan bid nie, dan wil ek dit ook nog vir jou doen."
God is geen bestraffende regter nie
So kan die mense wat geloof in gesondheid aanneem die hulp van God verkry deur Bruno Gröning. Almal moet gehelp word. Die mense moet dit beleef dat God nie 'n straffende regter is nie maar 'n liefdevolle Vader. Alle mense is Sy kinders en Hy is hulle vriend en verlosser.
Deur Bruno Gröning kan die mens die wondere van God opnuut beleef. God is vir alle mense die grootste geneesheer en helper. Vir Hom is niks onmoontlik nie. Bruno Gröning sê: "Daar is baie wat nie verklaar kan word nie, maar niks wat nie kan gebeur nie."
Die mens is gees
Die liggaam is slegs die aardse omhulsel vir gees en siel
Bruno Gröning verklaar aan sy toehoorders die ware wese van die mens: "Wie is julle?" vra hy. Geeneen van sy toehoorders weet dit behalwe om sy naam te noem nie. Dit tel egter nie by Bruno Gröning nie. "Is jy jou liggaam?" vra hy verder. Op ons swye lê hy vir ons uit dat ons oorspronklik 'n gees is, nie liggaam nie. Ons liggaam is maar slegs aan ons deur God geleen vir die aardse bestaan, verkry by geboorte en om terug te gee aan die aarde by ons dood. Ons siel vorm die verbinding tussen gees en liggaam en neem die ervarings van goed en kwaad saam na die hiernamaals. Die siel is die draer van die goddelike vonk wat die verhouding met God moontlik maak vanaf die oomblik dat die mens hom in die geloof oopstel. As die siel hom in ongeloof afsluit, bly die verbinding met God afgesny.
Die liggaam is dus nie die wese van die mens nie maar slegs die aardse omhulsel van gees en siel. So is met die sterwe van die liggaam alles nie verby, soos deesdae baie mens glo nie, maar gaan die lewe voort. Dit is nie aan die liggaam gebonde nie.
Die mens is nie sleg nie – net as hy homself verwaarloos verval hy in die bose
Die mens is gees, sy liggaam 'n geskenk wat God aan hom beskikbaar stel as werktuig vir sy lewe op aarde. Die eintlike bestemming van die mens is om die liggaam ten goede te benut en met die hulp daarvan goeie gedagtes in dade om te sit. Deur die vrye wil het die mens egter ook die moontlikheid om die liggaam ten kwade te misbruik, om te steel, te dood, te vernietig. Aan die dade van 'n mens kan mens sien met wie hy in verbinding is, in wie se diens hy staan: in diens van God of in diens van Satan. Dit wil nie sê dat die mens as sodanig goed of sleg is nie, maar:
"Die mens is en bly goddelik, hy is nooit duiwels, nooit satanies, nooit sleg nie. Hy kan slegs as hy God verlaat, as hy homself verwaarloos, deur die kwade oorgeneem word. Die kwade gryp hom en hy moet vervolgens die kwade dien. Dit is nie die mens wat die kwade doen nie maar die kwade self. Van die kwade kan ons niks goeds verwag nie, maar eweneens niks kwaads van God nie!"
"As hy [die mens] te swak is, verval hy in die kwade, val hy na benede, dan kan hy hierdie weg wat omhoog voer nie meer bewandel nie. Dit ontbreek hom aan die krag, hy val na benede, val in die arms van die kwade en is aan die kwade oorgelewer. As daar nie 'n reddende helpende hand kom om hom daaruit te trek nie, is hy vir 'n hele tyd verlore. Hy sal daar dan die kwade moet dien."
Elke gedagte het ’n uitwerking
Dit is elke mens se plig om sy liggaam in orde te hou. Elke negatiewe gedagte, elke kwade woord en elke slegte daad doen skade aan die liggaam, d.w.s. wanneer die gees nie met God in verbinding is nie en hom oorgee aan die negatiewe krag, dan kan dit lei tot siekte van die liggaam.
As die siel egter opnuut oopgestel word vir die goddelike krag om in te stroom en met die gees verbind word, sal die genesing van die liggaam volg. Om hierdie rede is die eie geesteshouding so beslissend. Genesing mag nooit belowe word nie. Dit hang van die mens self af hoe hy hom oopstel vir die goeie en hoe hy die leer van Bruno Gröning ter harte neem. Behandeling van die liggaam kan slegs die uitwerking bestry maar nie die oorsaak uit die weg ruim nie. Dit kan die mens slegs self doen deurdat hy die "groot ommekeer" bewerkstellig.
Gedagtes is kragte
’n Positiewe gedagte is opbouend, ’n negatiewe gedagte is afbrekend
Bruno Gröning het sy toehoorders dikwels aangespoor om hulle eie gedagtes te kontroleer en net die goeie op te neem. God en Satan is nie alleen kragbronne nie maar ook gedagtebronne. Hulle stuur onophoudelik gedagtes uit; God goeie, Satan slegte. Die mens kan – volgens Bruno Gröning – nie self gedagtes produseer nie, maar besit slegs die vermoë om hulle op te neem.
"Dit is so belangrik watter gedagtes die mens opneem want gedagtes is kragte. As die mens die goeie wil, dan help God hom, as hy die kwade wil, dan help Satan hom."
Die mens is nie willoos uitgelewer aan alles wat in sy kop opkom nie. Hy besluit self watter gedagtes hy toelaat en watter nie. Hy moet die keuse egter gewetensvol maak, nie oppervlakkig nie. Agter elke gedagte staan 'n krag: 'n positiewe gedagte bou op, 'n negatiewe een breek af; 'n blye berig gee jou vlerke, 'n treurige een ontmoedig. Gedagtes is geestelike kragte. Daar is 'n mag in hulle, waarvan die huidige mensdom nouliks 'n vermoede het. 'n Gedagte wat uit liefde ontstaan het kan 'n mens daartoe bring om sy lewe vir 'n ander te gee. Een wat uit haat ontstaan het kan hom egter daartoe dryf om 'n ander dood te maak. "Waak teen elke slegte gedagte!"
"Alles wat jy in jou opneem moet jy weer afgee"
"Daarvan sou jy tot nou reeds bewus moes wees - as jy slegs 'n enkele slegte gedagte opneem, sou jy tog weer en weer vasgestel het dat nog meer slegte gedagtes binnedring en dat jy daarna ook slegte woorde gespreek het. Dus, alles wat jy in jouself opneem, moet jy weer afgee."
"Neem slegs één bose gedagte op en jy word 'n dienaar van die bose, word werklik 'n dienaar van Satan! Onthou dit!"
Die mens handel volgens sy wil
Wat kan 'n mens egter doen teen depressiewe, twyfel-, angs- en dwanggedagtes, hoe moet die mens homself daarteen verweer? Hulle duik plotseling uit die niet op, storm op jou af dreig om jou gemoed aan te gryp. Wat moet jy doen? Satan wil die mens met negatiewe gedagtes – van watter aard en nuanse ook - in verwarring bring, hom aflei van die goddelike weg. Hy wil dat die mens bang word, hom vererg, aan die goeie twyfel en die gebooie van God oortree. Om dit te bereik maak hy hom wys dat die mens 'n speelbal is van slegte gedagtes en gevoelens en magteloos daaraan uitgelewer is. Dit is alles egter leuens en bedrog.
God het die mens so geskape dat hy self kan beskik oor sy denke, spreke en handel. As daar 'n slegte gedagte voor sy geestesoog opkom, kan hy dit rustig maar beslis afwys. As hy daarby standvastig bly moet die kwade wyk en kan dit geen mag oor hom uitoefen nie. Met sy vrye wil besluit die mens self oor sy lot. "Die mens handel volgens eie wil. Soos die wil is, so is die gedagte. Die gedagte bring die mens tot aksie."
Vir eers moet die wil vir gesondheid daar wees
Aan die hand van 'n eenvoudige voorbeeld laat Bruno Gröning sien van watter groot betekenis gedagtes is. By die bou van 'n huis is die eerste stap die wil, d.w.s die wens om 'n huis te bou. Daarna word die gedagte steeds meer werklikheid wanneer 'n noukeurige plan opgetrek word. Tot dan bestaan die bouwerk slegs in die fantasie van die toekomstige huiseienaar. Die eintlike bou van die huis is slegs die laaste stap op 'n lang pad voorafgegaan deur talle oorwegings en voorbereidings.
Net so is dit met die genesing. Eers moet die wil tot gesondheid teenwoordig wees, dan moet daar in die gedagte 'n skeiding met die siekte plaasvind en die geloof in genesing opgeneem word. Eers die laaste stap is die genesing wat in die liggaam begin. Dit is seer seker nie die werk van die mens nie maar 'n handeling van genade van God. Die mens kan dit nie verdien nie maar verkry.
Goed en kwaad
Die mens leef daartussen en het steeds die keuse
Wanneer die mens deur vrye wil die moontlikheid van keuse het, duik die vraag op: Wat is die alternatiewes waartussen hy kan kies? Hieroor sê Bruno Gröning: "Neem dit in ag en moenie vergeet nie, vriende, dat die mens tussen goed en kwaad leef. Daartussen leef hy, hier die goeie, daar die kwade en tussenin staan die mens, hy besluit."
Die mens het die keuse. Hy kan iets goed of iets kwaads doen. As een van sy naastes in nood verkeer, dan kan hy hom help, hy kan agteloos aan hom verby gaan of selfs die nood van die ander vir homself uitbuit. Hy kan doen wat hy wil. Die mens staan in sy lewe - bewus of onbewus - voor vurke in die pad waar hy moet besluit op die goeie of die slegte pad. Meesal is dit alledaagse gebeurtenisse wat die verloop van sy lot bepaal.
Hoe is dit byvoorbeeld as mens uit woede oor 'n eerlik gesproke woord met 'n vriend afbreek of uit ergernis met die baas 'n werk opgee of deur gekrenkte trots 'n unieke aanbod van die hand wys? Hoe dikwels is dit nie impulsiewe beslissings, waaroor mens later spyt is, maar nie meer ongedaan kan maak nie. 'n Nietige oomblik kan die verloop van jou hele latere lewe bepaal, ten goede of ten kwade.
Opbouende of afbrekende kragte
Maar hoe kom dit sover? Wat staan agter die begrippe "goed" en "kwaad"? Is die hele lewe nie 'n produk van blinde toeval waaraan mense magteloos uitgelewer is nie? Die goeie - so verklaar Bruno Gröning – sou van God kom, die kwade van sy teenstander: van Satan! Hy sou werklik bestaan en dit hom ten doel gestel om al die goeie, die goddelike te vernietig. Bruno Gröning: "Wie doen dit, wie laat geen steen onaangeroerd om die goeie, die goddelike te vernietig nie? Waarvandaan kom die siekte, die siekte van dit wat hier op hierdie aarde groei? Neem wat jy wil, 'n vrug of enige ander lewende wese, die satan probeer steeds om alles te vernietig. Hy kry dit ook reg om aan die mens te knaag."
"Satan, wat op hierdie aarde bestaan, het niks onaangeraak gelaat om die goeie en die goddelike te vernietig nie."
"Waar God is, is daar liefde, waar Satan is, is daar oorlog."
In die geestelike staan beide pole teenoormekaar: God as die lewe self en Satan wat dit wil vernietig. Legioene van geestelike wesens staan aan elk se kant en die stryd word met alle felheid gevoer. Beide kante beskik oor enorme energieë. Die wese daarvan beskryf Bruno Gröning met eenvoudige woorde: "Die goddelike krag is opbouend, en die kwade, duiwelse, sataniese is afbrekend." Die mens kan beide in hom opneem en laat werk, in liggaam sowel as gees. Die een werk versterkend en opbouend, die andere verswakkend en afbrekend. Die positiewe krag dra die gesondheid in hom, die negatiewe die siekte.
Siekte is nie ’n straf van God nie maar die gevolg van verkeerde gedagtes en dade
Bruno Gröning sê dat die siekte van die kwade kom en nie - soos dikwels beweer word – 'n straf van God is nie. Sulke gedagtes beskryf hy as leuens en wys dit beslis van die hand. God straf nie! Siekte is die gevolg van verkeerde gedagtes en dade. Wanneer die oorsaak uit die weg geruim is, sal die uitwerking daarvan ook verdwyn, en dit is die wil van God.
"Nie soos mense glo, dat siekte 'n straf van God sou wees nie. Dit is vergelykbaar met 'n kind wat sy ouerhuis verlaat. Die ouers kan dan nie meer hulle hande oor sy kop hou nie, hulle kan die kind nie meer beskerm nie. So het ons ook ons Vader verlaat. Ons mag nie vergeet dat ons slegs kinders van God is nie. Alleen Hy kan ons help! En Hy sal ons help as ons weer die pad na Hom gevind het."
Die vrye wil
Die mens besluit self of hy aan siekte of aan gesondheid glo
’n Innerlike konflik
As daar tydens die genesingsproses pyn is, is dit nie altyd maklik om aan die Regelungen te dink nie. Baie mense word onseker: "Is dit nou reëlingspyn of is dit siektesimptome?" Daar begin dan 'n innerlike stryd om die geloof. Hier word beslis of 'n mens die genesing verkry en hoe lank die genesingsproses sal duur. Dit kom daarop aan waaraan jy meer geloof skenk, die gedagte aan siekte of die gedagte aan genesing. As jy verder in die siekte glo sal jy dit ook behou, maar as jy aanhou veg vir geloof in gesondheid, dan sal die genesingsproses voltrek word. Die mens besluit self.
Niemand kan tot genesing gedwing word nie, hy kan slegs vrywillig besluit
Dit is 'n belangrike punt in die leer van Bruno Gröning. Steeds bring hy dit na vore dat die mens 'n onaantasbare vrye wil het, die grootste geskenk wat God aan 'n lewende wese kan gee. Die vrye wil verhef die mens van die vlak van 'n gerigte skepsel tot dié van 'n vrye kind wat die gebooie van die Vader nie gedwonge nie maar vrywillig volg. Die vrye wil maak dit egter ook vir hom moontlik om teen die wette van God op te tree.
Bruno Gröning het die vrye wil van mense diep gerespekteer. Daarom kan hy slegs diegene help wat hulle laat help, wat bereid is om hulle van die siekte los te maak. Hy mag slegs dit van die mense wegneem wat hulle uit hulle vrye wil oorgee. Wie aan sy siekte vasklou en voortdurend daaraan dink en daaroor praat, sal tevergeefs op genesing wag. Hieroor sê Bruno Gröning: "Ek mag 'n mens help om die weg na die goeie te vind maar ek mag nie die beslissing daaroor van hom afneem nie, nòg hom tot die goeie dwing nie. Elkeen moet sy weg self vind."
Regelungen
Reiniging van die liggaam kan aanvanklik pyn veroorsaak
"Regelungen" is deel van ’n reinigingsproses
Sommige mense ervaar pyn met die opneem van die Heilstrom. Hierdie verskynsel het Bruno Gröning beskryf as "Regelung". Dit is 'n teken van die omskakeling wat in die liggaam begin. Die pyn van die Regelung is nie te vergelyk met die pyn van die siekte nie. Die reëlingspyn word deur die heilstrom veroorsaak en is die effek van reiniging van die siek organe. Daaroor skryf Kurt Trampler (geneesde, sporadiese medewerker van Bruno Gröning, joernalis en skrywer): "Ook die reëlingspyn verwar hulpsoekers dikwels genoeg. Die reëlingspyn moet daar wees. Dit maak enkele mense angstig as die reëlingspyn kom, as sou dit 'n terugslag wees. Hulle word bang en sê: "Dis nog erger, laat ons na die dokter gaan." Volgens Gröning: 'Daarom maak ek julle daarop attent, as die reëlingspyn kom, om dit te verdra. Niks ergs sal gebeur nie, slegs maar dat die mens gesond word.' "
Die vorm van Regelungen kan deurgaans verskillend wees. Die pyn kan dieselfde wees as dié van die siekte, soms selfs erger. Dit kan egter ook heel anders tot uiting kom. Dit wissel van geval tot geval omdat elke menslike liggaam individueel op die genesende krag reageer. Die mens kan die reëlingspyn nie vryspring nie. Dit is deel van 'n reinigingsproses waardeur die onreinheid van die siekte op 'n geestelike manier uit die liggaam verwyder word.
Verloop van die Regelung
Bruno Gröning het die fenomeen van Regelungen verduidelik met die voorbeeld van 'n vuil melkkan. Hy vra wat gedoen moet word as die suur, stinkende melk in die kan vervang moet word met vars melk. Die antwoord lê voor die hand: Eers moet die slegte melk uitgegooi word, dan moet die kan gewas word. Dit is heeltemal dieselfde – figuurlik gesien - by die mens. Laat ons die liggaam beskou as die kan, die siekte as die slegte melk en die gesondheid as die goeie melk. Eers moet die mens hom in die gedagte van die siekte losmaak - die slegte melk uitgooi. Daarna word die liggaam van die "vuil" van die siekte gesuiwer - dit is die Regelungen. Eers in die gewaste vat kan die vars melk ingegooi word – die gesondheid kom in die mens in.
In 'n ander voorbeeld vergelyk hy die mens met 'n vrugtebak: "Neem 'n bak wat met iets gevul is, sê maar met vrugte wat al dae lank staan, d.w.s gestaan het sonder dat iemand daaroor bekommerd was of dit versorg het en dit het vrot geword. Nou kan jy nie meer van die vrugte geniet nie. En as daar nou iemand sou kom en jou nuwe gesonde vrugte wil gee, dan sou dit erg dom wees as jy die goeie, nuwe, gesonde vrugte op die slegte sou sit want die goeie sal ook sleg word.
As jy gesonde vrugte wil hê moet jy tog eers die slegte, ongesonde, oneetbares weggooi. Nie net dit nie, jy moet ook die bak self skoonmaak voor jy die gesonde vrugte daarin kan sit. Vergelyk nou dit, hierdie bak, met jou liggaam en die vrugte met jou siek organe. Die gesonde is waarop jy hoop. Maar dit is onmoontlik as jy nie die slegtes kan weggooi nie want in daardie geval beteken dit dat jy jou met jou siekte besighou."
Einstellen
Die korrekte liggaams- en sielshouding vir opname van die goddelike heilstrom
Die geestelike krag wat die genesing bewerkstellig noem Bruno Gröning die heilstrom. Daarmee saam gebruik hy ook die begrippe heilgolf en goddelike krag. Hoe kan die mens die Heilstrom in homself opneem en hom oopmaak vir die goddelike krag? Bruno Gröning het vir die hulpsoeker die volgende posisie aanbeveel: arms en bene moet nie gekruis wees nie en die handpalms moet oop na bo op die bobeen rus. Behalwe vir hierdie uiterlike is dit ook belangrik om alle steurende gedagtes af te skakel en heeltemal te konsentreer op wat in die liggaam gebeur. 'n Oop gelowige geesteshouding is die basiese voorwaarde. Op hierdie manier kan 'n mens jou oopmaak vir die instroom van die genesende krag. Bruno Gröning het gesê: "God gee ons al die goeie, ons moet slegs alles van Hom wat Hy vir ons stuur in ons opneem. Dus - doen dit!"
Hoekom die liggaamshouding so belangrik is, verklaar hy as volg: "Wie nog 'n vry beweeglike liggaam het, verkramp dit dikwels so graag. Dit is ook 'n mag, die mag van gewoonte. Om bene te kruis, oormekaar geslaan; sekerlik kan jy dan lekker luierig sit, d.w.s. sy liggaam eers lekker uitrek. Moet dit egter nie doen as jy die goddelike, die goeie wil ontvang nie. Dan moet jy vry en ontspanne wees met oop hande, met leë hande moet jy daar sit of staan."
In sy boek Die grosse Umkehr (Die groot ommekeer) skryf Kurt Trampler (geneesde, sporadiese medewerker van Bruno Gröning, joernalis en skrywer): "Belangrik [...] is behalwe innerlike voorbereiding ook 'n skynbaar klein maar tog wesenlike uiterlike. 'n Mens moet regop sit sonder om teen iets te leun en die bene en hande moet nie aan mekaar raak nie. As die hande mekaar sou raak, ontstaan volgens Gröning 'n kortsluiting van die lewenstroom in die bolyf en as die bene mekaar raak of selfs oormekaar geslaan is, lei dit tot dieselfde skade in die onderlyf. Diegene wat sulke foute uit gewoonte maak, sou selfs op die lange duur werklik onaangename siektes na hulle aantrek."
Let op wat jy in jou eie liggaam waarneem
Die bewustelike opneem van die krag het Bruno Gröning "einstellen" genoem. Die mens stel om dus in op die ontvangs van die heilstroom. Waar en wanneer dit plaasvind is nie deurslaggewend nie. Dit is slegs belangrik dat 'n mens rustig is, alle steurende gedagtes afskakel en noukeurig oplet wat in die liggaam gebeur. Bruno Gröning het sy toehoorders altyd weer gevra wat hulle gevoel het.
"Jy moet jou maar net daarop instel om hierdie ware goddelike uitsending te ontvang, beter gesê, te verkry. Hoe jy hierdie uitsending verkry, vind jy self uit. Maar ek moet steeds weer sê, eers dan as jy werklik aandag aan jou liggaam skenk, sal jy oplet wat daarin gebeur, nie buite om nie maar slegs daarbinne, in jou eie liggaam."
Elke mens kan die Heilstrom aan eie lyf bespeur. Die een voel 'n krieweling, die ander 'n koue of warm rilling. 'n Ander weer, moet arms of bene beweeg, 'n volgende homself skud. So veroorsaak die Heilstrom die mees verskillende reaksies by verskillende mense.